2009/12/01

Dit is 1 Desember 2009!

Liewe Broeders en Susters,

Dit is 1 Desember 2009!

Ons kan terugkyk na nog ‘n jaar wat God gegee het! Mag die laaste deel van 2009 'n voorreg en seën wees.

Sterkte met al die dinge wat nog gedoen en voltooi moet word. Sit die laaste bietjie in, nie vir jouself nie, nie vir die werkgewer nie, maar vir die Here. Dan word dit sommer baie makliker.

Mag ons werklik deur die Heilige Gees ware selfbeheersing ontvang. Mag ons weer dat die geboorte van Jesus Christus, plaasgevind het tot eer van God in die hoogste hemel, en plaasgevind het om vrede op aarde te gee vir God se kinders.

Baie mooi dag en seën vir u.

Joop van Schaik

2009/09/22

Lofprysing

Goeie More Broeders en Susters in Christus.

Wat 'n voorreg om kind van God te wees, om deur Hom geken te word en Hom te kan dien.

God se genade en liefde is geweldig groot en Hy spoor ons aan om Sy Verlossing deur Christus wyd en syd te verkondig.

Mag ons aangespoor word om nie net na binne te dien nie, maar ook na buite sodat die GKSA as instrument dien vir God om Sy koninkryk te laat kom onder alle volke en nasies en tale...

Die lofprysingsdiens en die heerlike voorreg daarvan het ons beslis aangespoor om heerlik te sing, ek sien en beleef dit by ons gemeente. Ek hoor dit ook by ander gemeentes.

Mag ons elke geleendheid wat ons het, met 'n warm hart ons wonderlike God loof en prys met ons hele hart, siel en verstand.

Groete en seën vir u.


Joop van Schaik

2009/07/24

Is dit hoe Christene met mekaar praat?

(Brief aan Beeld, maar nie deur hulle gepubliseer nie.)

Is dit hoe Christene met mekaar praat?

Die skrywes oor die vrou in die amp in die GKSA bedroef my geweldig. Koerantlees is ontstellend. Ek is self ‘n Christen, ‘n Gereformeerde Christen. Ek is self ‘n dienskneg van Christus, ‘n bedienaar van die Woord van God. Ek was self op die Sinode, deel van die gebede, bespreking, worsteling en besluitneming. My standpunt hieroor is nie belangrik nie, wat wel belangrik is, is ‘n dringende oproep dat ons as Christene landwyd en wêreldwyd, hierdie tipe sake anders hanteer.

Die duiwel lag lekker oor die twisgesprekke binne die kring van Christene. Dít is ‘n praktyk van die sondige natuur (Gal. 5:20). Ek en jy maak ons skuldig hieraan deurdat die manier waarop ons geloofsake en kerksake hanteer, lei tot twis, verdeeldheid en skeuring. God laat dit so toe, totdat jy en ek besef dat ons tot inkeer voor Hom moet kom. Om te besin is reg, maar met afguns? Jy reageer met ‘n brief, jy maak jou eie bloedbroer broer of suster seer, jy maak jou broeder of suster in ‘n ander gemeente en Christelike Kerk seer… Is dit hoe Christene met mekaar praat?

Kom ons bid eerder dat ons wat navolgers van Christus is, meer met die vrug van die Gees met mekaar sal omgaan. Gal. 5:22-23: “liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.” Ek is lief vir die Here, jy is lief vir die Here. Ek is verskriklik dankbaar om ‘n kind van God te wees, om deel van die plaaslike gemeente te wees, jy ook. Dit is nie altyd maklik of lekker om ‘n Christen te wees nie, wel ‘n groot voorreg! Dus, voordat jy iets skryf ,vra eers: is dit wat ek nou sê tot eer van God Drie-Enig? Is die manier waarop ek dit sê tot eer van God?

Mag ons as Christene wat deel is van verskillende Christelike Kerke, eerder met liefde kommunikeer en besin. Mag God se koninkryk hier op aarde deur jou en my kom. Die tyd is min, die tyd is kosbaar!

Joop van Schaik, Kempton Park.

2009/06/19

Stap vir stap

Ek wil 2 Kron 34 met u deel:

  • Josia het op 8 jarige ouderdom koning geword en hy het 31jr geregeer.
  • Op 16 het hy begin om die Here te dien.
  • Op 20 het hy begin om die Juda en Jerusalem te suiwer van al die afgode.
  • Op 24 het hy sy hoofuitvoerende beampte gestuur om die huis van die Here te herstel.
Vir ons is dit lang jare wat verbygegaand het voordat hy alles gedoen het wat hy moes, maar die feit is dat hy dit gedoen het. Die Here het ‘n tyd vir alles.

Kyk net na die ouderdoms intervalle, baie interessant! 8,16,20,24. Dit lyk vir my of die Here iets daarmee wil sê, ‘n jong mens vorder stap vir stap in dit wat die Here wil hê hy moet doen.

Mag ons ook groei en vorder op die manier. Kom ons bid vir ons jongmense sodat hulle sal besef hoe belangrik die Here is en dat hulle ook die geloofslewe en die kerklike lewe en verhouding met die Here moet koester.

Kom ons bid vir onsself, sodat ons kan groei en dien met die Vrug van die Gees.

Baie sterkte en seën.

Joop

2009/06/17

Berou en genade

Liewe Broeders en Susters

Iets wat my pas weer aangegryp het, is die wonderlike en grote genade van God deur Jesus Christus vir my en jou as mense.

In 2 Kron. 33 lees ons hoe erg koning Manasse, seun van wyle koning Hiskia, verkeerd gedoen het teen die Here. Manasse het afgodstempels (v.3) gebou en geoffer aan die afgode. Hy het sy eie seuns verbrand! Hy het hom besig gehou met goëlery, waarsêery, en toordery, hy het meegedoen aan die oproep en raadpleging van geeste (v.6). God haat dit en dis gruwelik in Sy oë.

Die Here het Manasse in die hande van die Assiriese koning laat val, met kettings en hake deur sy neus (v.11). Daar in die gat van die lewe, het hy besef dat hy genade by die Here moet kry. Manasse het berou getoon en gebid. Die Here was hom genadig en het hom weer terug laat gaan na Jerusalem en hy was weer koning daar (v.12,13)

Geliefdes, my en jou sondes, sondes van geliefdes, ouers en kinders, vreemdelinge en vyande is baie baie groot. Maar hoor wat die Here hier openbaar: besef dat jy in ‘n gat is, vasgevang in die kettings van die sonde en Satan. Die Heilige Gees laat ons ook opstaan uit die gutter van die lewe, smeek om genade en toon berou voor God.

Gryp vas wat Jesus Christus met sy kruisdood en opstanding vir jou en ander gedoen het, en kyk wat gebeur!

So gee die Here weer aan jou sy liefde en genade, soos vorm die Here jou soos wat Hy jou wil laat wees. Glo, bely, gryp vas deur die inwerking en uitwerking van die Gees en ontvang vrede en verlossing.

Versprei die wonderlike boodskap met jou mond en met jou hart.

Mag jy ‘n wonderlike dag verder ontvang.


Groete en seën vir jou.

Joop van Schaik

2009/06/12

Woorde van geloof en versterking

Geliefdes in Christus, hoor die woorde van Geloof en versterking:

2 Kon. 6:16: Hy het geantwoord: “Moenie bang wees nie, dié wat by ons is, is meer as wat hulle is.” 2 Kron. 32:7. Hiskia sê dit vir sy amptenare en die volk tydens die oorlog met Sanherib. By ons is meer is meer as by hom. By hom is ‘n menslike mag, maar by ons is die Here ons God wat ons sal help en ons oorlog sal veg.

Is dit nie wonderlik om dit te hoor nie! Ek wil jou nuuskierig maak oor wat daar gebeur en wat nou met jou en ons gebeur. Gaan lees dit asb.

Ek bid dat die Heilige Gees jou sal vul met sy inwerking en uitwerking.

Joop van Schaik

2009/04/17

Preke

Liewe Broeders en Susters in Christus,

Ons het voor die vakansie laas gekommunikeer. Dis heerlik om weer die kuberruimte te betree en die evangelie so te versprei en om bande verder te versterk.

Van u het my bekommerd gevra waar is die preke wat ek met e-pos aanstuur want julle gebruik dit en stuur dit aan aan ander gelowiges. Ek het so ‘n brief van vriende en medegelowiges gekry uit Swaziland. Baie van u gee dit ook aan mense wat nie meer in die kerk kan kom nie. Baie van u hou daarvan om na die sondag dit weer te lees sodat daar darem meer as 5% onthou kan word.

Hier is ook 'n skakel na die preke op ons webwerf: Gaan na ons webwerf en kyk by die Aflaai-Area.

Baie groete en sterkte en mag jy seën ontvang en ‘n seën wees.

Joop van Schaik