2008/09/29

Oordenking: Deut 34

Dagse my boetie en sussie in Christus.

Ek glo jy het nou saam met my gevorder tot die laaste hoofstuk van Deuteronomium. Die laaste hoofstuk is hoofstuk 34. Dis kort maar bevat ‘n fantastiese getuigskrif van Moses. Jy weet wat Moses alles verkeerd gedoen het, maar nou weet jy ook wat Moses deur God se Wil en opdrag reg gedoen het. Kom ons som dit op en praat kortliks daaroor.

Deut.34
v.1.. Moses het uit die Moabsvlakte na Neboberg toe opgeklim, tot op die top van Pisgaberg regoor Jerigo. Die Here het hom die hele land gewys...
v.4.. Dit is die land wat Ek met ‘n eed beloof het aan Abraham, Isak en Jakob.
v.5.. Moses, die dienaar van die Here, het daar gesterf soos die Here beveel het.
v.6.. Hy het Moses begrawe in ‘n vlakte in Moab,... maar tot vandag toe weet niemand waar sy graf is nie. Moses was 120 jaar oud. Die volk het 30 dae gerou.
v.9.. Josua het ook oor wysheid beskik, want Moses het sy hande op Josua gelê...
v.10.. Daar het nie weer ‘n profeet in Israel opgetree soos Moses was nie. Hy het die Here persoonlik geken. Die Here het hom gestuur om in Egipte al die tekens en wonders te doen...

• Moses het met sy ongeduld nie met die rots gepraat om water te kry nie, maar dit geslaan. Toe het die Here al gesê dat Hy nie die beloofde land Kanaän sal ingaan nie. Hier gebeur dit nou, Moses bereik die laaste dag van sy lewe hier op aarde. Hy staan op die Pisgaberg en sien die mooi wat geskenk gaan word. Dan sterf Moses en gaan hy die hemelse Kanaän in, eintlik 1000 keer beter!
• Die Here hou Sy beloftes. So hou Hy ook Sy beloftes teenoor jou en My. Hy dra jou elke dag van jou lewe, Hy voorsien en versorg, Hy gee genade deur Sy Seun Jesus Christus, Hy gee geestelike krag deur Sy Heilige Gees... Maak staat hierop en beur voort in die lewe en later sien jy dat dit al hoe makliker gaan.
• Moses het Josua die hande opgelê. Sy opvolger word nie net deur die Here geseën nie, maar ook deur die mens Moses aangeraak. Ons het die mooi en besonder gebruik om wanneer ‘n predikant die eerste keer bevestig word, dat al die predikante teenwoordig hom die hande oplê.
• Wat die mooiste getuienis van Moses is, is dat hy uniek gemaak en gebruik is, deur niemand anders as God nie! Hy het sy werk met onderskeiding gedoen. Hoe het hy dit reggekry? Hy het die Here persoonlik geken! In die 1953 vertaling vd Bybel staan dat die Here Moses van aangesig tot aangesig geken het. Ja, Moses het die voorreg gehad om telkens na die tent van ontmoeting te gaan om daar met God te gaan praat. God was in ‘n wolk teenwoordig. Moses het die Here inderdaad persoonlik geken. Hoe goed ken jy die Here? Ek het ‘n ouer lidmaat nou die dag gaan ondersteun en ek vra haar toe uit oor hoeveel keer sy die Bybel al deurgelees het. Sy antwoord dat sy dit nog nooit gedoen het nie. Ek en jy verkeer van aangesig tot aangesig met die Here deur die Bybel oor en oor biddend deeglik deur te lees. Ek heg weer die preek aan van Ps.131. Die tema was “Sit elke dag so ‘n rukkie op God se skoot. So ken ek en jy ook die Here persoonlik.


Ek bid jou die seën van die Here toe vir die dag en die week.
Joop van Schaik