2008/10/10

Oordenking: Josua 4 – 5:1

Goeie dag boetie en sussie in Christus. Die werkdeel van die week is al amper verby. Jou krag is min, dalk die moed is. Hier is weer iets om op te teer, om mee versterk te word.

Josua 4 – 5:1

v.1.. Nadat die hele Israel deur die Jordaan is, sê die Here vir Josua dat hy 12 manne, 1 uit elke stam, moet opdrag gee om elkeen ‘n groot klip op die Jordaan se bodem moet optel, daar waar die priesters gestaan het. Hulle moet die klippe gaan neersit op die plek waar hulle gaan oornag.

v.6.. Dit moet as ‘n gedenkteken dien. Wanneer die kinders vra waarvoor die lippe staan, dan moet julle vertel hoe die Here Israel deur die Jordaan geneem het. Die klippe is ‘n blywende herinnering daarvan. Dis so gedoen.

v.9.. Josua het ook 12 klippe binne-in die Jordaan opgerig, daar waar die priesters gestaan het..

v.10.. Die priesters met die verbondsark het in die Jordaan bly staan totdat alles afgehandel was soos wat God beveel het. Toe als klaar was het hulle ook deurgegaan.

v.13.. Eers toe het die soldate voor beweeg en gereed gemaak vir die oorlog by Jerigovlakte.

v.14.. Die Here het dd dag hoë aansien aan Josua gegee in die oë van Israel, vir die res van sy lewe, net soos vir Moses.

v.17.. Die oomblik toe die priesters uitgaan, het die waters weer teruggeval en die rivier gevorm, en sy oewers oorstroom.

v.19.. In Gilgal het het hulle oornag en met die klippe die gedenkteken opgerig.

v.1.. Al die konings vd omgewing het dit gehoor, hulle harte het van angs verstyf en hulle het nie meer moed gehad teen die Israeliete nie.

* ‘n Gedenkteken of plaat is nou nog bekend aan ons. Elke gemeente het so ‘n gedenkplaat van ‘n stigtingsdatum en fees. Die GKSA se 150jr fees is om die draai. Jy het seker ook al ‘n gedenkmunt of Bybel gekoop. Hier was dit die 12 klippe namens die 12 stamme. Jou verjaarsdag of huweliksherdenking kry ook elke jaar aandag.

* Elke ding wat met jou gebeur, bring jou nader aan God, nader aan jou geliefdes en medegelowiges. Dank die Here daarvoor. Elke oggend as ek wakker word en ek voel en sien my vrou, dan dank ek die Here. As ek my kinders so bekyk, dan dank ek die Here. As ek die gemeentewerk doen, dan dank ek die Here. Sy genade is so groot en Sy liefde is so mooi! Eintlik is elkeen van ons ‘n gedenkteken.

* Op ‘n manier is ‘n kruis ook ‘n gedenkteken vir ons (maar sonder ‘n mense se liggaam). Jesus Christus is gekruisig op ‘n vloekpaal, hy is begrawe, maar het gelukkig uit die dood uit opgestaan. Die leë graf is eintlik die teken wat ons moet gedenk, saam met die kruis. Jesus het klaar vir jou jou plek in die hemel voorberei (Joh.14).

* Die mooiste boek van alle boek, hierdie Bybel, is ons gedenkboek. So leer jy wie God is, wat Hy gedoen het en wat Hy nog gaan doen. Jy is die ark en die Woord moet binne jou gebêre word.

* Weer word van Josua se aansien gepraat. Hy het nie iets gedoen om dit te verdien nie, die Here het als gedoen sodat hy wat mens Josua is, die seën daarvan kon ontvang. Wees jouself, wees gehoorsaam en dankbaar en doen jy net jou bes, die Here doen in elke geval die res. So ontvang jy en ek respek omdat die Here doen.

* Ek en jy word deur die riviere van die lewe gelei, deur God. Wees jy met wie jy is daarom ‘n instrument, sodat ander mense God in jou raaksien. Die wat verkeerd leef sal dan verstyf van vrees vir God, en wie weet dalk bring die Here hulle deur jou tot bekering.

* Dus, wees jy ‘n gedenkteken van God, vir jouself, vir jou geliefde, vir jou medegelowige en vir elkeen wat op jou pad kom.


Mooi dag en mag jy die naweek saam met medegelowiges in die eredienste versterk word.


Joop van Schaik

2008/10/09

Oordenking: Josua 3

Liewe Broeders en Susters.

Ek was gister uitstedig met verpligtinge en kon dus nie die oordenking skryf nie. Josua 3 is een van my gunstelinge!

Josua 3

v.1.. Josua en al die Israeliete het vroegoggend van Sittim na die Jordaan vertrek en daar oorgebly. Na 3 dae het die leiers die kamp deurgegaan en opdragte uitgedeel.

v.3.. Wanneer julle sien dat die Levietiese priesters die verbondsark wegdra, moet almal agterna volg. Daar moet egter ‘n 900 meter volgafstand wees...

v.5.. Josua gee opdra: reinig julle want more gaan die Here wonders doen tussen julle...

v.6.. Josua sê vir die priesters dat hulle die ark moet optel en stap voor die volk uit...

v.7.. Vir Josua sê die Here dat Hy nou aan hom hoë aansien sal gee agv wat gaan gebeur...

v.10.. Josua sê vir die volk dat hulle sal weet dat die lewende God tussen hulle is, want die vyand sal verdryf word... Die verbondsark vd Here vd hele aarde, sal voor julle uit die Jordaan in gaan... Wanneer die voetsole vd priesters wat die verbondsark dra, aan die Jordaan se water raak, sal die water vd Jordaan afgesny word en op een hoop staan.

v.15.. So het dit gebeur, toe die priesters se voete die water raak, het dit ‘n muur gevorm ... Dit was regoor Jerigo. Die priesters het toe daar binne in die droë rivier bedding gaan staan terwyl die hele Israel droogvoets deur die Jordaan trek.

* Daar is dikwels ‘n keerpunt in jou lewe. Hier is dit die oorsteek vd Jordaan die beloofde land in. Watter groot stap neem jy op die oomblik in jou lewe? Dis dikwels maar moeilik en die onbekende is die eintlike rede tot vrees.

* Hier leer die Here jou wat jy moet doen: Moenie self al jou planne beraam nie. Hou jy net by wat die Here vir jou leer. Die ark met die 10 gebooie binne-in geberg, het voor geloop onder die skouers vd priesters. Verdiep jou net elke dag in God se Woord olv die Heilige Gees.

* Hoe reinig jy jou vandag? Deur selfondersoek en gesprek in gebed met die Here. Bely daardie sonde, toon berou oor daardie sonde, bestry daardie sonde, en wees dan bevry daarvan. Die Here skenk dit vir jou. Jesus Christus reinig jou met Sy kruis en opstanding. Jy moet dit net vat, glo en aan ander oordra.

* As jy dalk sukkel om respek in ander mense se oë te verdien, moenie daarop fokus of als probeer om dit te kry nie. Jy is mooi gemaak, deur God gemaak en Hy sal dinge so beskik dat jy wel die nodige respek ontvang. Die geheim is net dat jy sy pad moet bly loop. As jy altyd konsekwenk, regverdig, ferm en liefdevol is, sal als self regkom. En as mense jou nie repeksteer nie, dit maak nie saak nie.

* Jy moet weet dat die Lewende God ook hier by jou is, deur Sy Gees is Hy in jou en met jou.

* Die Here stop die riviere van gedagtes, vrese, bekommernisse en probleme. Jy kan net eenvoudig op Hom staatmaak, agter Jesus aanloop, Sy Wil doen en kyk wat gebeur. Op die ou end gaan jy droogvoets deur die rivier waarin jy is. So het Jesus die brug gebou waaroor jy kan stap na die hemel. Hy staan wag oor jou en gee jou krag.


Ek bid dat die Here jou seën, jou riviere sal laat wal staan, en dat jy agter Jesus deur die rivierloop kan stap. Die Here is met jou.


Joop van Schaik

2008/10/07

Oordenking: Josua 2

Liewe Broeder en Suster in Christus. Verken vandag weer verder deur die Woord en Gees.

Josua 2

v.1..Josua stuur 2 verkenners uit na Jerigo. Hulle kom uit by die huis van Ragab die protituut. Sy het hulle ontvang as gaste en versorg. Die koning v Jerigo gee opdrag dat sy hulle moet uitlewer.

v.4.. Sy het hulle egter versteek en die boodskap gegee dat hulle al klaar weg is. Hulle is in die dak tussen die vlasstoppels weggesteek.

v.8.. Voor die verkenners aan die slaap geraak het, sê sy vir die 2: “Ek weet die Here gee vir julle die land, ons is skrikbevange vir julle... Ons het gehoor hoe die Here die water vd Rietsee weggedroog het,... asook die trek uit Egipte.. en die gevegte...”

v.11.. Niemand het moed teen julle nie, want julle God, die Here, is God, bo in die hemel en onder op die aarde.

v.12.. Sy vra dat hulle ‘n eed aflê om haar en haar familie se lewe te spaar wanneer hulle Jerigo kom beleër. Die verkenners lê die eed af.

v.15.. Sy laat hulle met ‘n rooi tou deur die venster na buite sak. Die rooi tou moet daar hang as die stad aangeval word, dan weet almal waar sy/hulle is.

v.23.. Verkenners gaan terug na Josua en berig: “Die Here gee die hele land oor in ons mag”... almal bewe al...

* Soos Josua en Kaleb self verkenners was, so stuur Josua weer 2 verkenners uit. Ek en jy moet ook biddend verken voordat ons iets doen. Jy moet verantwoordelik wees, vra, bid en jou huiswerk doen. Dan kan jy met sekerheid en leiding van die Here enige taak aanpak.

* Die Here gebruik die prostituut, die slegste van die slegtes, in sy raadsplan. Ons is geneig om neer te sien op ander mense, veral die wat gebrandmerk is as die grootste sondaars. Onthou ons is maar almal sondaars. Jy kan dalk verras wees oor wie jy in die hemel gaan kry. Kom ons bid eerder dat die Here juis die swakkes en sondiges tot bekering sal bring en dan ook in Sy Koninkryk sal gebruik.

* Ragab glo al klaar in God en weet Sy sal gered word deur Hom. Kom ons luister na die noodkreet van “sondaars” en reik uit. Hulle glo ook in jou God.

* Die verkenners is net so positief soos wat Josua en Kaleb baie jare gelede was: “Die Here gee die land oor”.. Ek dink dit is hoe ons ook na die lewe moet kyk. Jy pak nie iets aan op jou eie nie, jy luister en kyk eerste na die Here, en dan weet jy wat gedoen moet word. Die sukses hang dus nie van jou af nie, jy voer eintlik net die opdrag vd Here uit. Ek is so daarvan oortuig dat die GKSA, dat elke Gereformeerde Kerk, die beste geleendheid het om God se Koninkryk hier in SA en elke dorp, te laat kom. Kom ons werk binne die gemeente, binne elke Christelike kerk dubbel so hard. Kom ons reik uit na buite, want daar is baie mense wat kerkloos is, godloos is, so ook baie kerklose Christene. Mense is soekend en jy is die een wat deur God gebruik word. Bid, luister, kyk en doen wat God op jou hart plaas. Verken, luister,doen.


Mooi dag verder.


Joop van Schaik

2008/10/06

Oordenking: Josua 1

Liewe Broeders en Susters in Christus. Die nuwe kwartaal het aangebreek en ons kan dit nie beter begin as om aangemoedig te word om sterk te staan en vasberade te wees nie. Kom ons leer wat die Here met Josua 1 verkondig.

Josua 1

v.1.. na die afsterwe van Moses, het die Here vir Josua gesê: Trek deur die Jordaanrivier… Soos Ek gesê het, gee Ek aan julle elke plek waar julle kom…

v.5.. Die Here sê vir Josua: Solank jy lewe, sal niemand bestand wees teen jou nie... Ek sal jou nie in die steek laat nie, jou nie verlaat nie. Wees sterk en vasberade...

v.7.. Wees veral sterk en vasberade in die uitvoering vd wet... moenie daarvan links of regs afwyk nie... Hierdie wetboek moet die rigsnoer weer vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy doen...

v.10.. Josua beveel die leiers: gaan deur die kamp en maak gereed om oor 3 dae deur die Jordaan te trek... om die land wat God gee in besit te neem...

v.12.. Vir die stamme Ruben, Gad en halwe Mannassestam, het Josua herinner dat hulle ook moet saamtrek... elke weerbare man moet optrek. Wanneer al die stamme hulle gebied kry, kan hulle terugkeer.

v.16.. Die Stamme se leier het ingestem, gehoorsaamheid belowe, en Josua bemoedig om sterk en vasberade te wees.

* Jy onthou dat ons laas in Deut. gelees het dat Moses ‘n persoonlike verhouding met God gehad het. So het jy ook ‘n persoonlike verhouding met God. Wat baie mooi is, is om te sien hoe die Here die nuwe jong leier ook persoonlik aan die hand vat, dis vir Josua.

* Die Here beveel Josua dat die volgende fase moet gebeur, die Jordaan moet oorgesteek word. Dis ‘n groot stap, gevaarlik, maar met die Here maklik. Watter groot rivier moet jy in jou lewe oorsteek? Sien jy kans daarvoor?

* Die Here se beloftes staan vas, vir Josua, Israel, en vir jou. Die Here sê eenvoudig vir Josua dat Hy hom sal lei en suksesvol sal maak. Die Here sê vir Josua dat hy net sterk en vasberade moet wees. Nou hoor jy ook God se stem in jou gemoed: Solank jy hier op aarde is, sal Ek die hele tyd met jou wees, Ek los jou nie alleen nie. Ek lei jou deur My Woord en Gees. Doen jy net wat Ek vir jou wys. Wees jy net sterk in My en vasberade om te doen wat jy hier moet doen.

* Die groot geheim is egter dat ons by God se Woord moet hou. Die wêreld en mense kan nie die antwoorde gee nie, net God. Vra God om jou op Sy pad te hou, dat jy nie links of regs sal afdraai nie, dat jy Sy Woord as die enigste rigsnoer kan ken en volg in jou lewe.

* Wat jy onderneem, moet jy nakom. Wat help dit jy praat baie en doen niks. Die Here se kerk, het jou nodig. Jy kan nie maar net bestaan nie, kan kan nie maar net ontvang nie, jy moet saam optrek in die geestelike oorlog. Jesus Christus verlos jou en jy word opgeroep om hierdie laaste kwartaal jou beste vir God te gee. Dit geld by die skool, werk, huis en kerk.

* Kom ons spoor mekaar aan om sterk te staan en vasberade te wees. Staan sterk in Christus en wees vasberade deur die Heilige Gees. Mag God jou seën.


Groete

Joop van Schaik