2008/10/18

Sommer net

Liewe suster en broeder in Christus.

Ek skryf vanoggend sommer net iets omrede sittyd min is.

Ek deel sommer uit my hart met u/jou oor iets wat ek in Rigters 6,7,8 gelees het. Dit gaan oor Gideon, een van die Rigters. Uit ‘n klein en onbelangrike familiegroep het die Here hom geroep om die volk te lei. Hulle moes optrek teen die vyand. Daar was 30 000 beskikbare soldate. Tog sê die Here dat hulle te veel is, want as hulle die oorlog wen, gaan hulle dink dis hulle wat so goed is. Die Here sê vir Gideon dat die ouens wat bang is vir oorlog, huis toe kan gaan. 20 000 van die bang ouens gaan huis toe. Daar is 10 000 oor, maar die Here sê dis ook nog te veel. Vat hulle water toe en die wat water met die hand skep, hulle moet Gideon se vegspan uitmaak. Net 300 bly oor! Wat my trek is die persentasie manskappe wat die Here gebruik om Gideon se span uit te maak. Wat is 300 van 30 000? Dis net 1% !!! Die Here stuur 1% om sy werk te gaan doen.

Wat nog verder tref, nadat hulle die eerste veldslag gewen het, was daar nog ‘n groep vyande van 15 000 wat oorwin moet word. Die manskappe is moeg en honger, niemand wil vir hulle iets gee nie. Tog gee die Here hierdie 15 000 in Gideon en sy 300 se hand. Wat is 300 van 15 000? Net 2% !!!

Jy en ek voel dikwels of die werk te veel is, of jy te moeg en uitgeput is. Jy voel die arbeiders is te min en die werk is te veel. Die Here gebruik jou egter om Sy werk vir Hom uit te voer. Met jou wat dalk ook net deel is van 1 of 2 %, gaan die Here Sy werk 100% laat uitvoer. Jou kragte is min, maar die Here gaan met jou 1 of 2% kragte, Sy werk susksesvol uitvoer. Jy is in God se hand en Hy gebruik jou, hoe goeie moed.

Mag die Here jou seën en naby jou, rondom jou en in jou wees deur Sy Heilige Gees.

U/jou broeder in Christus.

Joop van Schaik

2008/10/16

Oordenking: Josua 8

Liewe Broeder en Suster, luister na wat God wil hê jy moet doen, dan sal jy slaag.

Josua 8

v.1.. Na die pakslae by Ai agv ongehoorsaamheid aan die Here, gee die Here die opdrag dat Josua die volk moet gereed maak om Ai in te neem. Ek gee Ai, sy volk, sy land nou aan jou oor. Doen met hulle soos met Jerigo. Net die buit en vee kan julle vat.

v.3.. Josua het 30 000 dapper manne gekies en hulle in die nag laat plekke inneem agter die stad, net buite die stad. Josua en die res vd manskappe sal gewoon die stad tegemoet gaan. Wanneer die mense van Ai dan uitkom om hulle te ontmoet, sal Israel maak of hulle vlug. So lok hulle die manne uit en weg van Ai.

v.7.. Dan sal die 30 000 uit hulle skuilplek kom en die stad in besit neem. Die Here God gee dit aan julle oor. Brand die stad want God beveel dit. So doen die manskappe. Josua slaap tussen die manskappe. Vroeg die oggend het Josua opgetrek na Ai.

v.12.. Josua neem 5 000 manskappe en plaas hulle ook in ‘n verskuilde posisie tussen Bet-El en Ai, wes vd stad.

v.14.. Die manne van Ai trek Israel tegemoet vir die veldslag. Daar was geen man in Ai nie.

v.18.. Die Here se vir Josua dat hy sy swaard na Ai toe moet uitsteek, want dit word oorgegee. Op dd oomblik het die verskuilde manskappe die stad ingeval. Israel was orals! 12 000 mense van Ai sterf. Israel kon die vee en die buit vat soos die Here gesê het.

v.29.. Die koning van Ai is aan ‘n boom opgehang tot sonsondergang en is toe begrawe onder ‘n hoop klippe.

*Uitkoms na ‘n moeilike tyd is mos heerlik! Nadat jy die gevolge van jou sonde moes dra, nadat daar belydenis van die sonde was, die stryd daarteen, kom die bevryding daarvan. Dis heerlik om weet jy is bevry van jou sonde. Net so is dit ook heerlik om oplossings te kry vir jou probleme.

* Die Here sorg vir voedsel-vleis en ander middele deur die buit wat hulle kon neem. So sorg die Here deur jou eerlike en harde arbeid. Baie keer kom daar uit ‘n onverwagte oord onverdiende hulp, geld, redding en uitkoms. Dis die Here wat so werk en doen.

* Josua is deur die Here ‘n baie vaardige strateeg gemaak. ‘n Oolog moet strategies beplan word en presies uitgevoer word. Die belangrikste is egter dat die Here die opdrag moet gee voordat gedoen word. Die eerste probeerslag met Ai wat ‘n ramp, want dit was sonder God. Nou sê God wat is wat en Hy gee verstand aan Josua om ‘n bekwame strateeg te wees. So moet jy ook vir jou persoonlike lewe, jou kerk, jou werk en skool ‘n stategie van God ontvang, dit fyn saam met die Here beplan en dan uitvoer. Jy sal suksesvol wees as die Here jou seën.

* Stiptelike gehoorsaam aan God is dus die belangrikste in jou lewe, in die kerk se bestaan en doen. So gebruik die Here ook voorgangers om die swaard uit te strek, lidmate en kerkraadslede, en besluite om die pad aan te dui en voor te loop. Saam moet ons luister, saam moet ons bereid wees om die geveg aan te knoop teen die duiwel, die wêreld en die sonde. As elkeen van ons sy eie pad loop, dan gebeur wat met die ANC gebeur, soos wat vorige politieke partye ook maar gedoen het.

* Josua is by en tussen die manskappe. As jy ‘n voorganger is, kan jy nie in jou glaskas gaan sit en orders gee nie. Jy as Christen kan nie op jou eie selfopgelegde afgesonderde miershoop gaan staan en vingerwys of skreeu nie. Jy moet fisies self tussen die mense ‘n waardige en liefdevolle deelnemer en voorganger wees.

* Kom ons bid vir ons land Suid-Afrika, dat die leiers eers sal luister na God en dit wat hulle ontvang sal doen. Kom ons bid vir alle Christene en Christelike Kerke, dat die Woord in suiwerheid en waarheid geken, verkondig en uitgeleef sal word. Kom ons bid vir die GKSA, sodat ons die bande en grense kan oorbrug wat nie skrifgetrou is nie, dat ons in ons gemeentes en tussen ons gemeentes stategies vir God se koninkryk sal veg. Kom ons bid vir ‘n hart vol moed, ‘n skerp verstand en ‘n ferm hand en voet.


Geseënde dag vir u/jou.


Joop van Schaik

2008/10/15

Oordenking: Josua 7

Liewe Broeder en Suster. Vandag gaan oor ontrouheid/getrouheid aan en tot die Here.

Josua 7

v.1.. Jerigo is pas verslaan en vernietig. Ongelukkig was daar ontroue Israeliete. Van hulle het nie die banoffer nagekom nie. Iemand het items wat vir die skatkis van die Here bedoel was gevat (Jos.6:19 wys wat die opdrag was). Die Here se toorn het ontvlam.

v.2.. Die stad Ai was volgende om in te neem. Josua stuur verkenners uit. Die verkenners kom terug en sê dat dit sommer maklik gaan wees en dat hulle net 3000 manskappe kan saamvat om oorlog te maak.

v.3.. Josua vra nie by die Here wat Sy opdrag vir hulle is met Ai nie. Josua stuur die 3000 manne, maar hulle moes op die vlug slaan en uiteindelik sterf almal.

v.6.. Die volk se moed was gebreek, Josua het sy klere geskeur en tot die aand toe met sy gesig op die grond gelê voor die ark van die Here, so ook die leiers van Israel. Baie neerslagtig kla hulle by die Here.

v.10.. Die Here antwoord: staan op. Israel het gesondig en die verbond verbreek. Hulle het van die gewyde goed gevat, gesteel en gelieg. Daarom kan die Israeliete nie teen hulle vyande staande bly nie. As julle nie al die gewyde goed, die gesteelde goed teryggee nie, sal Ek nie meer by julle bly nie. Staan op reinig julle en die skuldige moet uitgewys word. Sy straf is dat hy verbrand moet word.

v.16.. Josua het die stamme laat nader kom en die proses begin. Die stam Juda is uitgewys. Die Seragfamilie is aangewys. Uit die familie is Sabdi aangewys. Akan uit dié familie is uitgewys as die skuldige. Hy erken skuld en sonde teen God. Akan met sy seuns en dogters, diere en alles wat hy besit, is gestenig en verbrand.

v.26.. Die Here se toorn het bedaar. Akorlaagte is die plek genoem: “die dood oor ons bring”.

* Na die groot oorwinning, kom die ontnugtering. Ontrouheid en ongehoorsaamheid bederf als. Wat aan die Here behoort, is gesteel. Begeertes van die menslike hart het oorgeneem.

* Wat neem jy wat aan die Here behoort? Het jy dalk ‘n dankoffer die maand nagelaat of nie na jou vermoë geoffer nie. Daar is geen verskil met die wat Akan gedoen het nie. Is jy getrou aan die Here met jou erediensbywoning en meelewing by jou gemeente? Doen jy wat jou hand vind om te doen in jou daaglikse lewe sodat meer mense vir God Drie-Enig kan bely?Is jy dankbaar vir wat jy het, of is jy so bitter soos Alwyn of Bitterals?

* Wat een verkeerd doen, is tot nadeel van baie. Akan het veroorsaak dat die veldslag met Ai, ‘n bloedbad geword het. Josua raadpleeg nie eens die Here nie. Hy luister na die manne! Josua, die leiers, die volk is in sak en as, hulle verkwalik die Here! Sjoe, dit erg. Maar weet jy, ek en jy doen dit ook. As jy in jou huwelik en gesin ontrou is, of nie jou verantwoordelikhede nakom nie, word hulle wat die naaste aan jou is, die seerste gemaak. As jy koud en lou is teenoor jou gemeente, die kerk vd Here, dan benadeel jy die uitwerking en inwerking op jouself en ander. As een liggaamsdeel doodgaan, tas dit die res aan, vergiftig dit als.

* Staan op en reinig jou. Die skuldige is aangewys en gestraf. Geliefde, jy en ek moet mooi nadink oor wat ons doen en nie doen nie. Vra die Vader dat Hy jou deur Sy Seun Jesus Christus reinig. Vra dat die Heilige Gees in jou werk sodat jy dit wat Christus jou gee, kan aangryp. Huil voor God oor jou en my en ons ontrouheid. Gelukkig kry ek en jy weer kans om ontrouheid, ongehoorsaamheid, eiewilligheid en bitterheid te oorkom en te verander.

* Jou sonde het die dood oor Jesus Christus gebring. Sy dood het die lewe oor jou gebring. Jou lewe moet ander mense ophelp en aanhelp.

*Reinig jou en wees getrou

* Kyk gerus waar jy dit nou by jou werk, huis of iewers kan doen. Mag die Here jou seën sodat jy ‘n seën kan wees.



Joop van Schaik

2008/10/14

Oordenking: Josua 6

Liewe Broeders en Susters. God het Sy strategie en plan met jou.


v.1.. Jerigo was verskans en gesluit teen die Israeliete, niemand kon uit of ingaan nie.

v.2.. Die Here sê vir Josua: Ek gee Jerigo, sy koning en sy sodate nou in jou mag.

v.3.. God se oorlogstrategie: Julle moet om die stad loop. Die manne met wapens moet vir 6 dae 1 maal om die stad loop. 7 Priesters moet elkeen ‘n ramshoring voor die ark dra. Die 7de dag moet julle 7 maal om die stad loop. Dan moet die priesters die ramshorings blaas en die soldate moet dan die oorlogskreet hard uitskreeu. Die mure vd stad sal inmekaarsak en dan moet elke soldaat reguit vorentoe gaan en die oorlog gaan veg.

v.6.. Josua het presies dit beveel.

v.17.. Die hele stad moet uitgedelg word, behalwe Ragab die prostituut en almal wat by haar is. Die soldate mag niks vat wat aan die Here behoort nie – dis die silwer, brons en ystergoed – dit moet na die skatkis van die Here gaan.

v.22.. Die 2 verkenners wat by Ragab was, kry die opdrag haar en haar mense te gaan haal en versorg. Hulle is onder die Israeliete opgeneem.

v.27.. Die Here was by Josua. Oor die hele land het Josua bekend geword.

*Die Here bly altyd in beheer. Hy bepaal wat alle mense se wel en weë is. Hy besluit waar jy rondgaan, oorbly of ingeperk is. Gelukkig het God Sy Raadsplan en Beskik Hy oor alles.

* Net soos die Here Jerigo in Josua en die volk se hand gee, so gee Hy die Satan oor in jou hand. Jesus het die Satan klaar oorwin. Sy vernietiging word teruggehou tot met die wederkoms. Nou word die Satan beperkend toegelaat om soos ‘n brullende leeu mense te verlei. Tog sê die Here, jy moet aktief wees in die geveg. Jy moet Satan teenstaan, jou sonde weerstaan, en die verleiding van die wêreld wegwys. Vra die Here biddend dat Hy jou oorwinning gee oor jou probleme en uitdagings. As jy iets wegsteek, al jy lieg, as jy iets onderdeur die tafel verkry, as..... Dis nie hoe dit werk nie. Nee, Staan die duiwel teen.

* God het ‘n Strategie, kyk net wat sê Hy vir Josua hulle: stap, skreeu en veg!

* Josua se beste besluit wat Hy telkens neem, is om aan God gehoorsaam te wees. Dis jou beste besluit ook. Dis iets wat ons ons werknemers, werkers, familie, vriende en politici moet leer en toebid. God beplan, besluit en doen. Jy vra, hoor, glo en doen soos wat God jou wys en leer.

* Ragab, die prostituut, die verwerpte, kom tot inkeer en die Heilige Gees lei haar tot diep insig. Josua en die 2 verspieders hou hulle woord teenoor die sondaar. Sy word gered van die dood. Sy word gered van die ewige dood. Sy word opgeneem in die volk Israel. Sy is vandag ook in die hemel.

* Die Here bou aan Josua se beeld as leier, nie hy self nie. Die resep was dus die hele tyd: afhanklikheid van God, gehoorsaamheid aan God, dankbaarheid tot God.

* Die Here is met jou en Hy laat jou slaag met dit wat Hy jou laat doen.


U/Jou broeder in Christus.


Joop van Schaik

2008/10/13

Oordenking: Josua 5:2-13

Liewe Broeders en Susters. Bevry is die kernboodskap, jy is bevry!


Die besnydenis by Gilgal.

v.2.. Die Here het vir Josua gesê dat hy klipmesse moet maak en al die Israeliet (mans) moet besny. Die plek is genoem die “Heuwel van die Besnydenis !”

v.4.. Die rede was dat almal wat vroeër besny was en uit Egipte getrek het, in die woestyn gesterf het. Hulle was ongehoorsaam en ondankbaar teenoor die Here en die straf was die dood. Die wat in die 40 jarige woestyntrek gebore was, was nie besny nie.

v.8.. Nadat die hele nasie se mans besny was, het hulle eers in die kamp gebly om gesond te word. Die Here se boodskap op grond vd gehoorsaamheid deurdat hulle besny is, was: “Vandag het Ek julle bevry vd smaad wat van Egipte se tyd op julle rus.” Die plek is Gilgal genoem, dit beteken: “die Here het bevry”.

Die Paasfees.

v.10.. Daar in Gilgal het die Israeliete die paasfees/pasga gevier. Die opbrengs vd die land is geëet en die manna het opgehou om elke dag te val. Kanaän se oes is geëet.

Die leëraanvoerder vd Here.

v.13.. ‘n “Man’ het aan Josua verskyn, hy het ‘n ontblote swaard in die hand gehad. Josua vra of hy vriend of vyand is. Die “man” sê dat hy die aanvoerder vd leër vd Here is. Josua buig diep en vra wat hy aan hom as dienaar wil/moet sê. Die “man” sê dat Josua sy skoene moet uittrek want hy staan nou op ‘n gewyde plek. Josua trek sy skoene uit.

* Die besnydenis is ‘n verbondsteken wat die Here gegee het. Dit moes volgens instelling op die 8ste dag na geboorte gedoen word. Vir 40 jaar is dit nie gedoen nie want die volk was ondankbaar en ongehoorsaam. Nadat die Here se straf toegepas was, moet die nuwe geslag hulle gehoorsaamheid aan Hom betoon, afhanklik van Hom wees en weer die teken van die verbond toepas.

* Die besnydenis veral vir groot mans was maar ‘n baie seer storie. Vir ‘n tyd lank was hulle buite aksie. Tog was hulle veilig want die Here het hulle Self bewaar van aanvalle. Gehoorsaamheid lei tot beskerming deur God. Dis die wonderlike, gehoorsaamheid, al is dit pynlik en in die wêreld moeilik en in die wêreld se oë sinneloos en stupid, die Here seën dit en Hy beskerm jou. Waar het jy afgedwaal? Die Heilige Gees werk in jou sodat jou gewete jou pla. Luister gerus daarna en vra die Here om jou te lei om dit reg te stel. Jesus neem dit geheel en al weg.

* Vandag is die teken vd verbond die doop. Jesus was besny en gedoop. In Hom trek alles saam. Gelukkig het ons nie meer die besnydenis nie, dis ‘n eina!. Wat wel moet gebeur, is dat jou hart besny moet word, jou gesindheid moet verander en jy moet terugdraai na God toe. Vandag word die doop aan manlik en vroulik bedien, jy is persoonlik vir God belangrik. Die water vd doop teken die afwassing van jou sondes. Dis heerlik en wonderlik om dit te weet.

* Die pasga was in gehoorsaamheid en dankbaarheid gevier, en dadelik voorsien die Here in kos en ander lewensmiddele. Die pasga was die opdrag sodat die uittog uit Egipte herdenk kan word om God se Almag weereens te besef en eer aan Hom te bring.

* Vandag het ons die nagmaal. Nou herdenk ons nie die uittog uit Egipte nie, maar die feit dat Jesus ons uit die hel red. Ek en jy behoort eintlik vir ewig van God verlate te wees, maar nou red God jou deur Sy Seun wat aan die kruis gesterf het! Sy offer is voldoende en genoegsaam. Nou herdenk ons met die nagmaal dat jou plek in die hemel klaar gereed gemaak is. Jesus het oorwin en jy oorwin. Is dit nie genoeg rede om dankbaar gehoorsaam te wees nie? JY IS BEVRY!


Baie mooi dag vir jou.


Joop van Schaik