2008/10/24

Oordenking: Josua 10

Liewe Susters en Broeders in Christus. God voer die oorlog vir jou.

Josua 10

v.1.. Koning Adoni-Sedek van Jerusalem het gehoor dat Josua hulle Ai vernietig het, soos vir Jerigo, en ook van die slim truuk van Gibeon om vrede met Israel te sluit. Die mense van Jerusalem was baie bang. v.3.. Adoni het 4 ander konings nader geroep om ‘n verbond met hulle te sluit om saam te staan. Hul 1ste stap was om Gibeon self in te neem. Hiervoor het hulle opgetrek.
v.6.. Die mense van Gibeon het vir Josua hulle laat weet van die krisis. U moet ons help!
v.7.. Die Here het vir Josua hierin gelei: “Moenie vir hulle bang wees nie, Ek gee hulle in jou mag oor. ..”
v.8.. Josua het deurnag getrek en die Amoriete skielik oorval. Die Here het hulle paniekbevange gemaak. ‘n Groot slagting het gevolg. v.11.. Die wat gevlug het, is deur die Here met groot haelstene doodgeslaan, meer as met die swaard.
v.12.. Josua het ook vir die Here gevra dat die son stilstaan in Gibeon en Ajalonlaagte. Die son het stilgestaan totdat die vyande verslaan was.
v.14.. So ‘n dag was daar nie nooit weer nie, toe die Here ag geslaan het na die stem vd mens. Die Here het vir Israel die oorlog gevoer.
v.16.. Die 5 konings het gevlug en in ‘n grot weggekruip. Josua gee bevel dat die opening van die grot met ‘n groot klippe geseël moet word en dat die res vd vyand agtervolg moet word. Die Here gee hulle in julle mag.
v.20.. Na die geveg, is al die manskappe is behoue terug na die kamp. Niemand het dit meer gewaag om iets teen Israel te sê nie.
v.22.. Josua gee bevel dat die konings uit die grot gehaal moet word. Dis die konings van Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis en Eglon. Josua roep al die leiers en Israeliete en sê: sit julle voete op die konings se nekke. Josua sê verder: moenie bang wees nie, wees sterk en vasberade, so sal die Here maak met al die ander vyande.
v.26.. Die 5 konings is aan ‘n boom opgehang en teen sononder afgehaal. Hulle is in die grot gegooi en dis met groot klippe toegepak.
v.28.. Daardie dag het Josua Makkeda ingeneem, die koning doodgemaak en die stad uitgeroei.. v.29.. Hierna is Libna ingeval en daarna Lakis. v.34.. Eglon en Hebron was volgende. v.38.. Debir het dieselfde oorgekom.
v.40.. Josua het die hele gebied platgeloop, die Bergland, Suidland, Laeveld en die Hange. Niemand het vrygekom nie. Alles wat asem het, is uitgeroei, soos die Here beveel het.
v.42.. Die veldtogte is gewen omdat die Here die God van Israel die oorlog vir Israel gevoer het. Hulle is terug na die kamp in Gilgal.

*Jou woord is jou woord. Dis wat Josua gedoen het. Toe die leunaars van Gibeon in die moeilikheid beland het, het Josua by sy eed gehou en hulle gaan help.
* Hoe getrou hou jy jou woord, ook teenoor die van wie jy nou nie eintlik hou nie, selfs teenoor jou vyand? Onthou wat ons gesê het, as jy ‘n eed aflê, roep jy God in as jou getuie. Dis baie ernstig. Ek dink dis nogal ‘n groot probleem in huisgesinne, families, vriendkringe, kerke, werkkringe, regerings en in die hele wêreld. Hoe betroubaar is jy?
* Josua het sy les geleer om nie weer sonder die Here op te tree nie en het die Here gevra wat om te doen. Die Here sê dis reg en Hy sal die vyand in Israel se mag oorgee. Deur die swaard en hael het God die geveg gevoer. Die Here het die oorlog vir Israel gevoer.
* Kyk wat het die Here gedoen met gehoorsaamheid aan Hom, die vyand verkrummel voor Israel. Waarmee worstel jy? Wat lyk vir jou absoluut onmoontlik en onveranderd? Waarvoor bewe jy en is jy slapeloos en...? Hou aan om afhanklik van die Here te wees. Hou aan om te vra en hou aan om te doen wat die Here vir jou uitwys om te doen. Al lyk die taak te groot en onmoontlik, luister na die Here en gaan doen dit. Hy doen dit vir jou en Hy gebruik jou in Sy Raadsplan en Wil.
* ‘n Natuurwonder het plaasgevind, die son het stilgestaan! Die Here is in beheer van als, alles en almal.
* Die grootste geveg wat God vir jou gevoer het, was deur Jesus Christus teen die Satan. Hier kon geen mens mens enigsinds iets bydra nie en sal ook nooit kan nie. God het deur Jesus Christus se kruisdood en opstanding klaar die oorwinning gegee. Jy moet net kinderlik glo en vashou aan Jesus Christus. Jy moet net deur die werking van die Heilige Gees hoor en doen wat God vir jou sê en wys. Staan op en gaan voort, moenie in sak en as gaan sit nie. Moenie verval in ‘n groef van pessimisme en negatiewiteit nie. Moenie vaskyk in mense nie, hou jou oog gevestig op Jesus Christus.



Baie mooi naweek vir u.
Joop van Schaik

2008/10/23

Oordenking: Josua 9

Liewe Broeders en Susters. Dit gaan vandag oor die hantering van sukses, jou sukses of die ander een se sukses. Dit gaan oor die Here raadpleeg of sommer self besluit. Dit gaan oor ‘n eed aflê en die hou by die eed.

Josua 9

v.1.. Die konings van ‘n baie groot streek het van Josua en Israel se suksesse gehoor met die oorloë en het bang geword. Hulle het eendragtig saamgestaan om teen Israel te gaan veg.
v.3.. Die inwoners van Gibeon het egter ‘n slim plan uitgedink en uitgevoer. Hulle het ou padkos ingepak, verslete saalsakke op die donkies gesit, verslete geskeurde wynsakke weer toegewerk en gelapte skoen en verslete klere aangetrek.
v.6.. So is hulle na Josua by Gilgal. Hulle lieg: ons kom uit ‘n ver land om ‘n verdrag te sluit. Die Israeliete het wel snuf in die neus gekry, maar die Gibeoniete het oortuigend bly lieg. Kyk net na al die ou goed, ons kom van ver om julle onderdane te wees.
v.14.. Die Israeliete het na als gekyk, maar nie die Here geraadpleeg nie. Josua het die Gibeoniete goed behandel en ‘n verdrag met hulle gesluit, dit met ‘n eed.
v.16.. Drie dae later het die leuen uitgekom en die Israeliete wou dit wreek. Josua en die leier het egter vir die volk gesê dat hulle ‘n eed voor die Here afgelê het, ons kan hulle nie aanval nie. As die eed verbreek word, sal die Here dit straf. Die eed moet nagekom word.
v.21.. Daar is besluit dat die Gibeoniete moet lewe, maar hulle sal houtkappers en waterdraers vir Israel wees.
v.24.. Josua wil wel weet hoekom hulle so gelieg het. Die antwoord was dat hulle baie gehoor het van Moses, van God en als wat gebeur het. Hulle het vir hul lewens gevrees.

*Sukses het ‘n groot invloed. ‘n Invloed op omstanders en op die een wat sukses behaal het. Die omstanders verwonder hulle of raak bang as dit hulle bedreig. Die suksesvolle een raak ongelukkig te braaf of het te veel selfvertroue of raak te selfstandig.
* Dis wat hier gebeur het. Josua en Israel se sukses, wat eintlik die Here se sukses was, het die Gibeoniete en die Israeliete beïnvloed.
* As jy nie sterk is nie, moet jy slim wees, dis wat die Gibeoniete was en dis wat mens baie keer geleer word.
* Dis prysuitdelingstyd by die skole en by die werk. Dis insentiewe en prestasie. Dis kersbonustyd..... Wat is die invloed hiervan op jou? As jy die een is wat die toekenning kry, dan moet jy baie versigtig wees dat dit nie kop toe gaan nie. Geluk, maar bly nederig en afhanklik. As jy dié keer nie die prys of toekenning gekry het nie, jy moet ook oppas, want jy kan dalk dink dis die einde van die wêreld. Dit is nie. Jy word sterker gemaak en hierdie is een van baie toetse en teleurstellings wat die Here nog op jou pad gaan plaas. Leer bietjie by Josua en die volk.
* Wat was die probleeem en wat is baie keer ons probleem? Die Here word nie geraadpleeg nie. Josua het grootkop gekry, die mense geglo sonder God se aanwysing. So gaan ek en jy dikwels aan sonder om die Here in alles te ken, ook die keer toe jy na sukses gedink het jy is slim en goed genoeg om die besluit self te neem. Nee, raadpleeg elke keer die Here, Hy sal jou wys wat om te doen, hoe om als te hanteer, ook die sleg, seer en swaarkry.
* ‘n Eed is afgelê en dit moet gehou word, al is dit teenoor jou vyand of iemand waarvan jyself glad nie hou nie. Hier was Josua baie eerbaar. Die ouens wat hom pas bedrieg het, gelieg het, hulle moet beskerm word want Josua het in die Naam van die Here ‘n eed afgelê en dit mag nie verbreek word nie. Wanneer jy ‘n eed aflê, dan roep jy God as getuie in. Doen dit net wanneer dit nodig is. Die res van die tyd, laat jou ja jou ja wees en jou nee jou nee.

Kom ons hanteer die sukses en teleurstelling deur die genade van God. Kom ons hou ons woord, laat jou woord jou eer wees en lê ‘n eed net af as dit nodig is.

Baie groete en seën

Joop van Schaik

2008/10/22

Oordenking: Josua 8:30-35

* Liewe Susters en Broeders in Christus. Ek kan weer lekker sit en werk. Vandag leer die Here jou dat jy dankbaar na die oorwinning moet wees, dat jy juis dan met die wet vd Here opgeskerp moet word.


U sal onthou dat die stad Ai oorwin is, met koning en al. Oorwinning is deur God gegee.

v.30.. Daarna het Josua op Ebalberg ‘n altaar gebou vir die Here. Hulle het brandoffers vir die Here op die altaar gebring en maaltydoffers vir die Here geoffer.

v.32.. Moses het op die klippe vd altaar ‘n afskrif aangebring vd 10 gebooie, voor die oë van die hele Israel.

v.33.. Die hele Israel, sy leiers sy beamptes en sy regters het daar aan weerskante vd ark gestaan voor die Levitiese priesters wat die verbondsark vd Here dra. Vreemdelinge sowel as burgers was daar.

v.34.. Josua het alles wat die wet sê, die seën sowel as die straf, voorgelees, woord vir woord

v.35.. Die vrouens en kinders en die vreemdelinge wat tussen hulle gebly het, was by.

* Jy is so geneig om nadat jy deur ‘n tyd van worsteling, beproewinge en versoekinge gegaan het, sommer net te wil niks doen, wegbreek of so gou moontlik weer aan te gaan met jou lewe.

* Inderdaad sug jy van verligting en dis eintlik te gelooflik om waar te wees, maar tog is dit so. Jy is soms ook dan so leeg en moeg. Jou liggaam wil ook dan tot stilstand kom. Dis soos wanneer jy na ‘n harde kwartaal op vakansie gaan, en sommer op die 2de dag kry jy hierdie aaklige hoofpyn of jy word siek. Jy wil vakansie hou, nie siek wees nie! Dokters sê ook dat dit eintlik doodnormaal is, want jou liggaam kom skielik tot stilstand, kom agter wat kort alles en soek hersteltyd, of dit wat gehou het, gee dan in.

* Ons wil dit met die Here ook doen. Jy wil so goed uitspan, dat jy die Here ook daar anderkant wil uitskuif. Dis net waar ons die fout maak. Dis die Here wat jou gelei het, krag gegee het, weer laat opstaan het en nou ook die oorwinning oor die probleem. Hier sien ons dat Josua in gehoorsaamheid ‘n altaar bou en die offers bring. Ons sien dat die leiers en elke liewe burger daar is, ook die vreemdeling wat tussen hulle kom woon het.

* Ons kan sê dit was ‘n dankdiens. Die 10 gebooie word sigbaar op die altaar geskryf en dit word gelees. In ons terme ‘n erediens met die Bybel in die hand en hart.

* Hoe bring jy ‘n offer? Deur heel eerste vir God met jou hart en siel dankie te sê. Deur met vrymoedigheidheid te doen en te gee wat die Here van jou verwag. Deur getrou te bou aan jou persoonlike verhouding met die Here. Deur getrou te bou aan jou verbindtenis met jou medegelowige binne en buite jou gemeente. Deur deurlopend die Woord van God in die erediens te hoor, ieder en elk van ons moet teenwoordig wees.....

* Jesus Christus was die volmaakte offer aan die kruis. Geen brandoffer of maaltydoffer is nou meer nodig nie. Hy verlos jou volkome en jy het die oorwinning. Nou roep die Here jou op met Rom.12:1b: “Gee julleself aan God as lewendige en heilige offers...”

* Geliefde, na uitkoms en oorwinning, gaan net so baie na die Here soos toe jy in die nood was. Wys jou dankbaarheid, wees ‘n altaar deur jouself op te offer in diens van God. Hou by God se Woord. Maak self die Woord van God sigbaar aan alle mense rondom jou. Hulle moet die Here kan sien in jou en Sy gebooie kan lees op jou.


Geseënde dag vir u.


Joop van Schaik