2008/10/31

Oordenking: Josua 14

Liewe Suster en Broeder. God sorg en Hy laat jou die reuse oorwin.

Josua 14

v.1.. Hier volg ‘n oorsig oor die gebiede wat die Israeliete in Kanaän ontvang het. Priester Eleasar en Josua het die toekenning gedoen dmv loting soos die Here beveel het.

v.3.. Die Leviete kry nie ‘n eie gebied nie, wel dorpe en weiding by al die stamme.

v.4.. Die nageslag van Josef het 2 stamme gevorm, Mannasse en Efraim.

v.6.. Toe die mense van die stam van Juda na Josua gekom het, het Kaleb seun van Jefunne vir Josua herinner oor wat die Here aan Moses oor hulle 2 gesê het. Kaleb was 40 jr oud toe hy en Josua die land saam met 12 ander verkenners verken het. Tien vd verkenners se hart was verstyf van angs en het negatiewe berig gegee. Kaleb en Josua het ‘n positiewe verklaring gemaak.

v.8.. Kaleb het God getrou gedien en Moses het met ‘n eed belowe dat die gebied waar hy toe as verkenner deurgegaan het, aan hom en sy nageslag as besitting gegee sal word.

v.10.. 45 jaar later, toe Kaleb 85 was, het hy Josua hieraan herinner. Kaleb sê dat hy nog baie krag het, net soos op 40. Gee my nou asb. die bergwêreld, die vestingstede van die Enakiete. Miskien sal die Here by my wees sodat ek dit kan verower soos die Here my belowe het. (Die Enakiete was die reuse).

v.13.. Josua het sy seën uitgespreek oor Kaleb en hom Hebron as besitting toegeken. Daarom behoort Hebron aan Kaleb, want hy het die Here God getrou gevolg.

* U/jy sal vir Josua en Kaleb as verkenners onthou.Ons lees hiervan in Num.13 en 14. Baie negatief, bevrees en beangs, gevul met ongeloof, het hulle gesê dat die land baie mooi is, maar te gevaarlik. Josua en Kaleb het gesê dat die Here dit aan Isael gee, hulle moet voortgaan. In Num.14:24 word die belofte gemaak dat die land wat hy verken het, aan sy nageslag gegee sal word.

* Wat sê dit vir jou? Die Here hou Sy woord. Die Here sorg vir jou, nou, later en elke dag.

* Wat verwag die Here van jou? Getrouheid, gehoorsaamheid, vertoue in die Here.

* Ons is half in ‘n skok toestand met die wêreld ekonomie wat so seergekry het. Jy het ook baie seergekry. Die mensdom met sy geld en mag, is nie bestand teen God se Almag nie. In ‘n oogwink kan alles net niks wees. Net so gryp God in en kan als in ‘n miljoenste van ‘n sekonde wegneem word en ‘n ronde 0 gemaak word. Dis wat gaan gebeur as die wederkoms plaasvind. Dan is alles op aarde ‘n niks, ‘n nul....

* Aan die ander kant, God sorg. Jy kan op die Here se belofte staatmaak en jou ook daarop beroep. Jy kan die Here menslik gesproke daaraan herinner. Hy vergeet nie, maar toets jou of jy nog onthou dat die Here wel sal sorg. Gaan met vrymoedigheid, soos Ps.81 dit berym, na die Here en vra om te ontvang wat Hy belowe het.

* Jy leer dus om werklik te vertrou en te weet dat die Here gesorg het, nou sorg en altyd sal sorg vir jou en jou nageslag.

*Die wonderlikste is dat jy ook herinner word met Joh.3:16 “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.(NAV). Wat ‘n wonderlike liefde, verlossing en wete dat jou erfenis die ewige lewe is, nou al!

*Wat ook baie mooi is, is om te sien dat Kaleb kans sien vir die Reuse. Die Enakiete was die Reuse, die Gloliats van daardie tyd. Hy het nie gesê, ek is nou al oud en dat die Here dit so ‘n bietjie makliker vir hom moet maak nie. Nee,hy het gesê dat sy kragte nog ok is en dat, as dit die Here se wil is, dat Hy die Enakiete en kie aan hom sal oorgee. Dit het ook so gebeur.

* Vir jou leer dit dat jy nie moet wegskram vir die reuse van die lewe nie. Hoe groot die taak ook al is, hoe moelik die opdrag, die Here sal met jou wees en jy sal DV volgens Sy wil regkry wat jy moet. Pak dus hierdie dag en res van die jaar die reuse aan, pak die reuse taak aan, pak die mense wat soos reuse voor jou staan aan. Niks is te groot in jou pad as dit die Here se pad is nie.Wees jy ook maar net getrou.


Baie mooi dag vir jou, wees getrou en gebruik die krag wat die Here vir jou gee.


Joop van Schaik

2008/10/29

Oordenking: Josua 13

Dagsê susters en broeders. Ons gaan nou ‘n rukkie stilstaan by die beginsel van ‘n regverdige toedeling van grondgebied. Die Here besluit wie wat kry.

Josua 13


By Josua 12 het ons gesien dat die stamme Ruben, Gad en ‘n helfte van die Manassestam hulle plek in die son gekry het. Josua 13 bou hierop voort met fyner besonderhede.

v.1..Josua het baie oud geword en daar is nog ‘n baie groot deel vd land wat in besit geneem moes word. Onder die dele wat oorbly, is daar al die Filistynse gebiede en die hele Gesurgebied, asook nog ander plekke. Daar is die hele Kanaänitiese gebied van Teman.....

v.6.. Die Here sê dat Hy al die bewoners vd bergwêreld sal verdryf om vir die Israeliete plek te maak, so ook met die ander plekke...... Intussen moet Josua al hierdie gebiede as besitting aan Israel toewys, soos die Here beveel het.

v.8.. Die gebied oos vd Jordaan is reeds aan Ruben, Gad en ‘n helfte vd Manasse stam gegee. v.14.. Net aan die Levistam is nie ‘n eie gebied as besitting toegeken nie. Die Leviete is offers aan die Here die God van Israel en hulle ontvang van wat Hom toekom, soos Hy hulle beloof het. Ons sal nog sien hoe die Leviete by elke stam se gebied ‘n deel ontvang.

v.15.. Weer word die gebied vir die stam Ruben uitgespel. Dit het aan die Jordaan gegrens. Daar was verskeie stede en buiteposte.

v.24.. Weer word die gebied vir die stam Gad uitgespel. Dit was die streek oos vd Jordaan. Daar was verskeie stede en buiteposte.

v.29.. Weer word die gebied vir die een helfte vd Mansse stam uitgespel. Wat ons hier moet raaksien, is dat die een deel van Manasse se nageslag hierdie gebied ontvang het. Dit was die nakomelinge van Makir die een seun van Manasse. Sy ander seun se nageslag kry op ‘n ander plek hulle deel.

v.32.. Ook hier word gesê: “Aan die stam Levi het Moses nie ’n eie besitting toegeken nie. Hulle ontvang van wat die Here die God van Israel self toekom, soos Hy hulle beloof het.”

* Wat opval, is dat die Here klaar Sy besluite geneem het. Dit moet nou nog net uitgevoer word. Hy kon dit sommer net laat gebeur het, maar nee, Hy het besluit dat die mens deel is van Sy Skepping en die mens moet hier hoor, luister en doen. Wat ‘n voorreg dat God Almagtig elke liewe mens in Sy Raadsplan gebruik!

*Gelukkig is ons plek in die mooiste beloofde land klaar vir ons voorberei, ‘n plek in die woning van God! Jesus het dit klaar voorberei. Jy en ek moet egter ons regmatige plek hier op aarde inneem, dit wat die Vader vir jou bestem het, dit moet jy najaag en uitvoer.

* Jy leer dus dat jy nie met jou optrede iets kan verdien nie, jy ontvang dit as ‘n geskenk. En omdat jy dit uit genade ontvang, wil jy mos nou baie graag gehoorsaam wees aan die Here. Dis nou dankbaarheid!

*Geliefde, jy het jou spesifieke plek, jy en jou mense rondom jou. Jou gemeente het ‘n spesifieke plek in jou omgewing. Neem daardie plek in en wys wie is God.

* Ons word ook weer ‘n keer met die Leviete stam daarop gewys dat die Here Sy deel, Sy dankoffer ontvang en dit gebruik om die godsdiens mee in instand te hou. In elke stamgebied was daar Leviete, aanbiddingsplekke, altare en ... Die Leviete is orals versorg en het die volk gelei in hulle diens aan die Here. Wat ‘n voorreg, vir die Leviet en die burger van God se volk. Wat ‘n voorreg vir jou en my om deel van die kerk in ons gebied te wees. Wat ‘n voorreg om te offer en te dien.

* Wees verseker van God se liefde vir jou, Hy gee jou ‘n plek in die hemel en Hy gee jou regmatige plek alreeds hier op die aarde. Ontvang dit, benut dit en dien God so.


Groete


Joop van Schaik

2008/10/28

Oordenking: Josua 12

Liewe Broeders en Susters. Doen gerus voorraadopname en kyk wat doen God vir jou.

Josua 12

v.1.. Die Israeliete het die konings van verskeie lande verslaan en die gebied ingeneem. Dis die oorkant van die Jordaan, die gebied van die Arnon vallei af tot by Hermonberg, en die hele oostelike deel van die Jordaanvallei. Dit was Koning Sihon van die Ammoriete in Gesbon en Koning Og van Basan.
v.6.. Moses het nog hierdie 2 konings verslaan en die gebied gegee aan die stam Ruben, die stam Gad en die halwe Manassestam.
v.7.. Josua hulle het ook die konings vd land duskant die Jordaan, aan die westekant, die Libanonvallei tot Karmelberg na Seïr toe, verslaan.
v.24.. Dit was altesaam 31 konings.

Hoofstuk 13 wat kom... Josua was al baie oud en hy kry opdrag om die land verder te verdeel en toe te deel.

*Die Here het regtig voorgegaan met die oorlog wat gevoer is teen al die volke wat afgode aanbid. Getrouheid aan die Here was kardinaal van belang. Die Here hou Sy Woord. Daarom moet mense dit ook doen.
* Die verdeling van grond aan elke stam het reeds begin. ‘n Opname is gemaak van wat alles al gedoen was. Moses het ‘n deel van die werk gedoen en Josua het dit opgevolg, beide getroue diensknegte van die Here.
* As mens hierdie gelyste inligting deurkyk, dan besef jy hoe groot God se Almag is en wat Hy doen.
* ‘n Regverdige verdeling van die land wat al ingeneem is en wat nog ingeneem moet word, gaan nou plaasvind.
* Dis belangrik dat ek en jy ook gereeld tot stilstand kom om ‘n voorraadopname te maak. Maak veral ‘n voorraad opname van God se genade in jou lewe. Maak staat op God se belofte en leef daardeur. Hoe wonderlik om te weet dat ek en jy reeds ons plek in die hemel het. Jesus Christus het dit klaar vir ons verwerf.
* Vra ook gereeld elke dag vir die Here dat Hy jou wys wat jou taak is vir elke dag. Die jaar loop vinnig tot ‘n einde en ons doen al weer beplanning vir die volgende jaar. Bid en vra God dat Hy jou help om die jaar se werk en roeping mooi te voltooi. Bid dat Hy jou sal help om weer kragte op te bou vir die nuwe jaar wat kom. Beplan, maar moet jou nie nou so komkommer dat dat jy paniekerig raak nie. Onthou gerus wat in Fil.4:13 staan; “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”

Groete

Joop van Schaik

2008/10/27

Oordenking: Josua 11

Broeder en Suster, die oormag lyk dikwels te groot, die probleme te ingewikkeld..... Hoe nou gemaak?

Josua 11

v.1.. Koning Jabin van Hasor het ook gehoor van Josua se oorwinnings. Hy stuur toe boodskappe na baie ander konings in die omgewing uit sodat hulle ook ‘n bondgenootskap kan vorm teen Israel. Dis so gedoen en die leërs was so baie soos die sand vd see. Daar was ook baie perde en strydwaens. Hulle het by Meromwaters teen Israel ontplooi.

v.6.. Die Here sê vir Josua, moenie vir hulle bang wees nie. Môre gee ek hulle oor aan Israel.

v.7.. Josua hulle het die bondgenootskap skielik oorval daar by Meromwaters. Die Here het hulle in Josua se mag oorgegee.

v.10.. Daarna het Josua na Hasor gegaan en dié stad ook ingeneem. Die plek en sy koning het vroeër ‘n leiersposisie ingeneem tussen al die koninkryke daar. Alles is uitgeroei. Die stad is afgebrand.

v.12.. Al die ander stede in die omgewing is ook ingeneem, die konings en die mense is uitgeroei. Die ou gevestigde stede is nie afgebrand nie.

v.15.. Wat die Here sy dienaar Moses beveel het, het Moses vir Josua beveel, en dit het Josua gedoen, niks is nagelaat nie.

v.16.. Josua het die hele land ingeneem, die Bergland, Suidland, Gosengebied, Laeveld.....

v.19.. Behalwe die Hewiete in Gibeon, het nie een stad met Israel vrede gemaak nie. Die Israeliete het hulle almal in gevegte verower.

v.20.. Dit was die Here wat hulle inverset laat kom het, sodat hulle teen Israel geveg het: hulle moes sonder genade uitgeroei word, soos die Here Moses beveel het.

v.21.. In die tyd het Josua ook die Enakiete (reuse) in die berge, Hebron, Debir, Anab en in die Judaberge uitgeroei. Net in Gasa, Gat en Asdos was daar Enakiete oor.

v.23.. Josua het die hele land ingeneem soos die Here vir Moses beveel het, en het toe die land as besitting aan Israel gegee, vir elke stam ‘n deel. Die land kon toe rus van oorlog.

*Nog ‘n bondgenootskap word gevorm. Hulle trek op teen Israel by Meromwaters, maar die Here gee hulle in Israel se mag oor. Die Here het vir Josua gesê dat hulle nie bang hoef te wees nie.

* Bondgenootskappe is vandag nog ‘n praktyk. Verskillende lande kom ooreen om mekaar te help teen ‘n gemeenskaplike vyand. Die Irak oorlog is ‘n voorbeeld hiervan. Die VSA en Brittanje en nog ander het saamgestaan. In die politiek werk dit nog so. Die ANC is ‘n bondgenootskap. Tussen besighede is daar dikwels ‘n ooreenkoms om saam te staan teen ‘n gemeenskaplike opposisie. Jy en jou vriende het dalk al ooreengekom om als in julle vermoë te doen om die ou van wie julle nie hou, se lewe moeilik te maak.

* Nog baie ander stede, konings en ook die reuse is uitgeroei. Soos die Here beveel het, so is dit gedoen.

* Die Here het die mense in verset laat kom sodat hulle kon veg en verloor. Hy het Israel gelei, voorgegaan en in staat gestel om die oorlog te voer en te oorwin. Die Here laat hierdie mense net soos die Farao in verset kom teen God en teen Israel. Die Here se doel daarmee is om Sy grootheid te bewys. Oorwinning word gegee, ten spyte van geweldige teenkanting en oormag.

* Verset is nie ‘n lekker ding nie, veral as dit teen jou is. Hoe moet jy verset of teenstand hanteer? Gaan na die Here toe en praat dit met Hom in gebed en Bybelleestyd uit. Die Here laat ook dinge teen jou toe, met die doel om jou geloof sterker te maak en om jou afhanklikheid van Hom groter te maak. Die Here plaas dikwels die verkeerdste of booste ou op jou pad, sodat jy dit moet hanteer in afhanklikheid. Die Here gee oorwinning aan jou.

* ‘n Tweede keer is gesê: soos die Here beveel het, is gedoen. Dis jou en my oplossing ook, vra vir God, hoor by Hom, en doen wat Hy jou beveel. Dis die enigste pad vir jou om te loop. Hou aan daarmee, elke dag, elke oomblik van jou lewe.


Baie mooi dag vir jou/u. Hoor by God en doen wat Hy jou wys.


Joop van Schaik