2008/11/13

Oordenking: Josua 20 - "Asiel"

Liewe Broeder en Suster. Vandag gaan oor “asiel”.

Josua 20

v.1.. Die Here het vir Josua aangesê dat hy asielstede moet afstaan soos wat Hy destyds aan Moses beveel het. Die funksie van ‘n asielstad, is dat iemand wat onopsetlik en sonder voorbedagte rade die dood van ‘n ander veroorsaak het, na die stad kan vlug om sodoende die wraak van ‘n bloedverwant van die oorledene te ontkom.
v.4.. Die prosedure is as volg: wanneer ‘n vlugteling by die ingang vd stadspoort kom, stel hy sy saak by die leiers vd stad. As dinge volg die ouens reg is, dan neem hulle hom op in die stad en gee vir hom/haar ‘n woonplek. As daar dan persone wat hom agtervolg daar aankom, sal die leiers hom nie oorgee in hulle hande nie. (As die familie die man/vrou sou vang voordat hy/sy by die asielstad uitkom, kon hulle hom volgens die reg net daar doodmaak)
v.6.. Dit werk verder dan so: die vlugteling verskyn by die bevoegde vergadering en die hoëpriester van daardie tyd moes eers sterf. Daarna kan die een wat iemand se dood onskuldig veroorsaak het, weer vry teruggaan huis toe. Dit kan nogal lank vat, daarom die noodsaak van ‘n asielstad.
v.7.. ‘n paar stede is toegewys as asielstede.

* Sjoe, dis nou nogal ‘n wonderlike ding wat hier ingestel is. Mens hoor so nou en dan op die nuus van asielsoekers. Nou verstaan mens beter wat ‘n “aansoek om asiel”, beteken. Ook vandag kan iemand wat bang is dat sy lewe geneem kan word, of dat hy nie ‘n regverdige verhoor gaan kry nie, aansoek om asiel doen by ‘n ander land. Miskien kan die regsouens onder ons bevestig of dit ook is wat dit vandag beteken.
* Ons leer hier dat ons moet erken dat jy of iemand ‘n onopsetlike sonde kan pleeg, of ‘n sonde sonder vooraf bedagte rade kan doen. Jy en ek is dikwels hieraan skuldig, sommer aan baie klein goedjies. Jy het dit nie so bedoel nie, maar tog het dit gebeur. Jy voel skuldig, jy is skuldig en wat nou?
* Ons het vandag die regstelsel wat beoordeel oor wat reg en verkeerd is en wat wel opsetlik gepleeg is, of wat onopsetlik gepleeg is of gebeur het of nie. Terwyl die saak aan die gang is, kan die persoon vrygelaat word op borgtog (ook ‘n tipe asiel).
* Wat ek hieruit leer, is dat daar wel dinge teen my gedoen was en gedoen word, wat nie opsetlik is nie. Die seun of meisie, man of vrou, het iets gesê of gedoen, maar hy of sy het nie naastenby besef wat die gevolg daarvan gaan wees nie. Party dinge gebeur ook net per ongeluk. Dis hoekom mens dit ‘n ongeluk noem. Die asiel gedagte is daarom dat jy nou dadelik moet besef dat jy hierdie onopsetlike dinge wat gebeur, baie meer versigtig moet hanteer. As jy bv. per ongeluk die oorsaak was dat jou broer of vriend seerkry of selfs ‘n ledemaat verloor, dan is daar genade vir jou. Jy moet ook genade aan die een bewys wat dit dalk met jou gedoen het of met jou laat gebeur het. Benader dinge dus baie anders.
* Wat vir jou baie beteken, is dat jy asiel deur Jesus Chrisus by die Vader kry. Boonop kry jy nie net asiel vir wat jy onopsetlik gesondig het nie, maar ook vir die dinge wat jy opsetlik gesondig het. Jesus Christus tree vir jou in by die Vader. Hy het klaar die straf gedra en keer die straf wat die Vader moet gee, af. Jesus is jou Middelaar en jou Verlosser. Jy het asiel in die hemel en jou plek is klaar vir jou toegeken, dis vas en seker klaar jou erfenis (1Pt.1).
* Wat leer ons dus: Wees baie geduldiger met dit wat teen jou gebeur. Stel eers vas of iets opsetlik was of dalk onopsetlik. Wanneer iemand sy opsetlike sonde teen jou bely, vergewe hom/haar, al moet die regbank sy gang gaan. Nog meer moet jy bereid wees om iemand wat onopsetlik teen jou gesondig het, te vergewe, al is dit ook die oorsaak van die dood van ‘n geliefde. Jy en ek kry asiel, beskerming en vergifnis deur Christus by die Vader. Glo dit deur die werking van die Heilige Gees.

* Mag jy ‘n geseënde tyd van verligting en bevryding kry en gee. Vra asiel en gee asiel.


Joop van Schaik.

2008/11/12

Oordenking: Josua 19

Liewe Broeders en Susters. As jy wil regverdig wees, moet dit nie net sê nie, doen dit so.


Josua 19

v.1..9 Die 2de loting was vir die families van die stam Simeon. Hulle eiendom was binne-in dié van die gebied van die stam van Juda. Hulle het die gebied gedeel omdat dit te groot was vir die stam van Juda.

v.10..16 Die 3de loting was vir die families in die stam Sebulon. Die gebied tot by Sarid.

v.17..23 Die 4de loting was vir die families in die stam Issaskar.

v.23..31 Die 5de loting was vir die families in die stam Aser.

v.32..39 Die 6de loting was vir die families in die stam Naftali.

v.40.. Vir die families in die stam Dan, is 7de geloot.

v.47.. Die stam Dan het sy gebied verloor en het toe vir Lesem aangeval en verower en daar gaan woon. Lesem se naam is toe verander na Dan.

v.49.. Nadat die Israeliete die land in sy onderskeie gebiede aan die stamme toegewys het, het Josua aan die beurt gekom. Die Israeliete het die toewysing gemaak en Josua het ‘n eiendom tussen die van hulle ontvang. Op bevel vd Here het hulle hom die stad gegee wat hy gevra het. Dit was Timnat-Serag in die Efraïmsberge. Hy het die stad herbou en daar gaan woon.

v.51.. Hier word afgesluit deur weer te sê dat die verdeling en toekenning deur loting in Silo in die teenwoordigheid van die Here, by die ingang van die tent van ontmoeting, plaasgevind het.

*Hierdie tema van die verdeling van die land, hou ons al ‘n paar dae besig. Hier kom later nog dinge oor die asielstede en die Leviete wat iets tussen almal kry.

* Gister het ons na die beginsel van samewerking tot ‘n regverdige bestel of verdeling gekyk. Vandag se hoofstuk voer dit uit. Ons sien dat daarby gehou is. Op ‘n stadium kan jy dalk kyk wat van elke stam se gebied gesê word. Ds. Willem Vogel het een keer hier by ons kom preek oor die stam Sebulon en hulle grondgebied. Dit was nou regtig insiggewend.

* Ons sien ook dat Josua sy beurt gekry het. Die leier was laaste aan die beurt, maar tog het hy sy regmatige deel gekry. Wat mooi is, is dat die Here deur die Israeliete die uitdeel proses omgedraai het. Eers was Josua die ou wat die leiding geneem het en ander het ontvang, en toe deel die Israeliete uit en Josua ontvang. Die belofte aan Kaleb en Josua is dus nou volledig uitgevoer, al was Kaleb eerste aan die beurt en Josua laaste.

* Almal het dus nou ‘n beurt gekry. Die groot ding is nou net wat maak jy met wat jy ontvang?

* Wat ook beklemtoon word, is dat die hele proses in die teenwoordigheid van die Here plaasgevind het, van die begin tot die einde.

* Wat maak jy met wat jy van die Here ontvang? Is dit vanselfsprekend of ‘n gawe?

* Ken jy die Here in alles, ek bedoel alles? So gaan jy met genade geworstel kry deur die beproewinge en versoekings. So gaan jy ook in tyd van vreugde nie vergeet van die Here nie.


* Ons moet net weer beklemtoon dat gebed en Bybellees een van die belangrikste items op jou dag se agenda moet wees.


Mag u/jy geseënd wees en ‘n seën wees.


Joop van Schaik

2008/11/11

Oordenking: Josua 18 - Samewerking tot regverdigheid

Broeders en Susters. Regverdige verdeling van grond vind hier by Israel plaas. Die manier wat waarop dit gedoen is, is baie insiggewend.Werk saam tot op die punt waar almal dink dis regverdig wat gedoen word en ontvang word.

Josua 18

v.1.. Die hele Israelietiese volksvergadering het in Silo bymekaar gekom en die tent van ontmoeting is daar opgeslaan. Die land was onder hulle beheer gewees, maar daar was nog 7 stamme wat nog nie hulle grondgebied ontvang het nie.
v.3.. Josua spreek hulle aan omdat hulle nog nie die lang in besit gaan neem het nie. Hy vra toe 3 manne uit elke stam met die doel om hulle te stuur na die hele gebied toe. Hierdie saamgestelde groep moes die hele gebied wat oor is, in 7 dele te verdeel.
v.6.. In teenwoordigheid vd Here sal daar deur loting ‘n toewysing gemaak word. Die Leviet kry nie ‘n deel nie want hulle woon tussen die ander stamme en lewe uit wat die Here toekom.
v.9.. Die Manne is toe weg en het in ‘n boek ‘n beskrywing vd 7dele opgeteken, stad vir stad.
v.10.. Josua het in teenwoordigheid vd Here die loting gedoen en die land verdeel.
v.11.. Deur loting is ‘n gebied aan die stam van Benjamin toegeken tussen die gebiede van die stamme van Juda en Josef (Manasse en Efraim).
v.12...28 Al die grense was vasgestel en dit is in besit geneem der die families van Benjamin.

* Die tent van ontmoeting was die reisende opslaankerk gewees. Orals waarheen die volk getrek het, is die tent van ontmoeting saam geneem. Later sou die tempel in Jerusalem die tent van ontmoeting vervang. Wanneer die volk by die Here moet hoor wat hulle moet doen, of as die Here met hulle wou praat, het die priester of leier na die tent van ontmoeting toe gegaan. Daar het die Here in ‘n wolk aan hulle verskyn en Sy wil en bevele is oorgedra. So moes die volk dan doen wat aan hulle gesê is.
* Hoe verdeel jy nou ‘n stuk land regverdig? Dink bietjie aan jou kinderdae. 2 kinders moet ‘n stuk koek deel. Wat is die beste manier om die verdeling te maak? Die een wat die koek op deel, moet die kleinste stukkie vat. Nodeloos om te sê dat daardie stuk koek 50/50 opgedeel is.
* Hier het die Here deur Samuel ‘n skitterend plan gemaak. 3 manne van elke stam moes saamkom om 7 gelykwaardige areas in te deel. Die toekenning is deur loting gemaak. Die groot ding was dat hulle almal wat daar teenwoordig was, sal sorg dat al 7 dele ewe goed is, want hy is tog so bang hy kry dalk die swakker deel. Op die ou end is al 7 dele baie goed verdeel.
* Ons het hier amper iets soos ‘n Klassis vergadering, of dalk ‘n Streek-Sinode sitting. Afgevaardigdes van al die gemeentes kom bymekaar om gemeenskaplikse sake te bespreek. Wanneer daar oor iets verskil word, word daar gewerk na ‘n punt van wedersydse instemming. Die GKSA het juis volgende week 7 Streek-Sinodes wat in sitting gaan wees. Die 7 Streek-Sinodes se afgevaardigdes gaan dan vanaf 5 Januarie tot 17 Januarie 09 die Nasionale Sinode vergadering hou. Hier word dan weer besin oor al die gemeenskaplike sake van die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika. Doen asb. Voorbidding in daardie tyd sodat daar met wysheid gehandel kan word.
*Jy kan hierdie beginsels van afvaardiging om te besin oor ‘n regverdige toedeling of besluitneming oor iets, ook in jou werk gebruik. Werk saam tot ‘n punt waar jy saamstem, of jy totdat tevrede is met die uitslag van ‘n stemming.
* In die kleiner kring behoort jy ook ‘n probleem uit te praat en vredevolle oplossings te soek.
* Gelukkig loot die Here nie oor jou plek in die hemel nie. Hy het Jesus Christus klaar gestuur om jou plek in die hemel gereed te maak. Wat van jou verwag word, is ‘n dankbare leefstyl. Probeer ook regverdig wees met mense wat op jou pad kom.
* Geniet en waardeer wat jy van die Here ontvang.

Baie groete en sterkte

Joop van Schaik

2008/11/10

Oordenking: Josua 17:14-18 - Vra en bring jou kant

Broeders en Susters, vra gerus vir meer, maar moet dit nie te ver vat nie. Staan op en bring jou kant.

Josua 17:14-18

v.14.. Die nakomelinge van Josef het met Josua gaan praat: Waarom loot u vir ons net een keer? Ons is baie mense, want die Here het ons besonderlik geseën. (Gideon het teenoorgestelde rede gebruik as ‘n verskoning – ek is uit die kleinste familie – Rigters 6).

v.15.. Josua erken dat hulle baie is en sê dat hulle ‘n stuk boswêreld kan gaan skoonmaak in die gebied van die Feresiete en die Refaïte. Hulle reageer en sê dat die Bergland ook nie groot genoeg is nie. Boonop het die Kanaäniete wat daar rond woon ysterstrydwaens.

v.17.. Josua hou egter by sy besluit, hulle kry die Bergland by en dis dit. Wat hy óók sê, is dat die Kanaiete wel ysterstrydwaens het en dat hulle sterk is, maar Josef se nageslag, Manasse en Efraïm sál hulle uitdryf.

*Josef se nageslag, Manasse en Efraïm was skielik nie meer die kleinste groep mense nie. Hulle erken ook dat die Here hulle geseën het.

* Hulle vra nóg grond, hulle krý nog grond, maar is nie tevrede nie. Die ouens gaan nou te ver, dit klink of hulle die broodjie aan albei kante gebotter wil hê. Vra is vry, en die weier...

*Hulle het gekry, maar net genoeg. Hulle moes ook hulle kant bring deur self in te spring en hulle vrees teen die vyand te oorkom. Die ysterstrydwaens was ‘n teken van mag, krag en oorwinning. Tog, al was die Refaïte ook deel van die reuse, al was daar ysterstrydwaens, kry hulle die versekering dat hulle wel sal oorwin.

* Dis eintlik baie mooi hoe die Here deur Josua hier met die Josef ouens werk. Daar word toeggegee net tot op ‘n punt. Dan word die streep getrek en jy moet dan met geloof inspring.

* Vandag kan jy ook met vrymoedigheid vra. Jy kan vra by die Here en jy kan vra by enige mens, jou werkgewer, jou regeerder, jou... Onthou net dat jy nie alles net so op ‘n skinkbord kan kry nie. Jy moet leer om te kan presteer. Jy moet werk om ‘n inkomste te verkry. Jy moet verantwoordelik wees en dit wat aan jou opgedra word, na te kom...

* Wat jy wel op ‘n skinkbord kry, is die ewige lewe, die verlossing van jou sondes. Jy kan dit nie verdien of koop nie. Máár, omdat jy die ewige lewe as geskenk, uit genade ontvang, kan jy nie anders as om self in te spring en uit dankbaarheid te werk en te leef nie.

* Dus, vra gerus met vrymoedigheid, maar moet dit nie te ver vat nie. Erken God se seën in jou lewe. Vra genade en moed en spring in teen die reuse en die ysterstrydwaens in jou lewe. Jy is klaar verlos, veg dus die stryd hier op aarde omdat jy klaar die oorwinnaar is saam met Jesus Christus. Kom uit dankbaarheid jou verantwoordelikheid na teenoor God, jou geliefdes, jou werkgewer en kollegas, jou kerk....

* Priotoriseer asb. Vra wat God wil hê jy eerste moet doen.

* Baie sterkte, dié tyd van die jaar is maar vol druk en spanning. Take moet afgehandel word en volgende jaar sin word al beplan. Dis ‘n dubbele vrag, dis ‘n reus op ‘n strydwa, maar jy sal dit oorwin.


Baie sterkte en seën vir u.


Joop van Schaik