2008/11/21

Oordenking: Josua 22:1-8

Geliefde in Christus, jammer dat ek nou eers weer aan die skryf kom. Ek het die voorreg gehad om die Oostelike Streek-Sinode by te woon. Dis die gebied vanaf Germiston tot in Komatipoort en Pongola. Ons het die mees vredevolle Sinode sitting gehad en ervaar. Daar was geen besware en netelige sake om te hanteer nie. Die hoogtepunt was die ondervraging van ‘n teologiese student en sy beroepbaarstelling. Ook het ons besluit om die Tans Oranje Instituut vir spesiale onderwys meer bekend te stel in die koerante en in ons gemeente. Ons sal graag ons vredevolle en baie goeie gesindheid onder mekaar na die Algemene Sinode van die GKSA neem. Mag die Here DV daardie vergadering seën.

So van seën gepraat, dis wat gedoen word deur Josua tot die Stamme Ruben, Gad en Mannasse.


Josua 22:1-8

v.1.. Josua het die stamme Ruben, Gad en die een helfte vd Manassestam geroep en vir hulle gesê: Julle het alles gehoorsaam gedoen wat Moses die dienaar vd Here julle beveel het.

v.3.. Julle het die hele tyd nie julle broers in die steek gelaat nie en gedoen wat die Here beveel het. Nou het julle broers ‘n woonplek. Gaan julle nou na julle eie woonplekke, die deel oorkant die Jordaan.

v.5.. Sorg net dat julle die gebod van die Here getrou onderhou, nl. Om die Here julle God lief te hê en volgens sy wil te lewe, sy gebooie te gehoorsaam, aan Hom getrou te bly en Hom met julle hele hart en siel te dien.

v.6.. Josua het hulle met ‘n seënwens laat gaan na hulle woonplekke toe.

v.8.. Gaan terug na julle woonplekke met groot rykdom, groot troppe vee, silver, goud....

* Net voordat Israel deur die Jordaan sou gaan, het die stamme gesê dat hulle die gebied daar duskant van die Jordaan as woongebied wil hê. Dis so goedgekeur, met die voorwaarde dat hulle eers saam sal gaan en in alle gevegte saam sal veg totdat al die stamme hulle grondgebied kon kry. Hulle het hulle woord gehou en nou kan hulle teruggaan. (Num.32 en 34:14)

* Nou is dit so mooi dat hulle met ‘n seën weggestuur word.

* Baie belangrik, hier aan die einde van die lang pad, voordat ‘n nuwe wonderlike tyd aanbreek, word hulle eers weer herinner aan God se liefde en gebod, hulle liefde vir God en hoe hulle Sy gebooie moet gehoorsaam met hart en siel.

* Dan kom die wegstuur met ‘n seën. Inderdaad is hulle ook geseënd, want hulle kon met rykdom, vee, edelmetale... terug keer en ‘n goeie lewe gaan leef.

* Wanneer mens so aan die einde van ‘n jaar kom, wanneer jy ‘n taak baie getrou afgehandel het, dan is dit lekker om mekaar te bedank en mekaar seën toe te wens. Die seën behels dat dit met jou goed mag gaan, maar die belangrikste is dat jy geestelike seën kan bly ontvang, dat jou verhouding met God kan verdiep en groei. Om die rede word jy ook vandag weer met die teksgedeelte geleer dat die Here gevolg moet word en dat jy elke oomblik moet lewe volgens Sy wil.

* Dit is ook my begeerte vir jou, mag jy deur die Here vasgehou word en mag jy geseën word deur die Here. Mag jy geestelike seëninge in oovloed kry en mag jy genoeg ontvang om van te lewe en om God te dien met jou hart en siel. Bly net asb. op die Here se pad.

Groete en seën.

Joop van Schaik

2008/11/17

Oordenking: Josua 21

Liewe Broeders en Suster, vandag leer ons dat die kerk oraloor onder ons moet wees en instand gehou moet word, en dat God Sy belofte nakom. Hy doen en gee wat Hy sê en belowe.


Josua 21

v.1.. Die familiehoofde vd Leviete het na die priester Eleasar en na Josua en na die familiehoofde vd Israelitiese stamme gekom en gesê: “Die Here het deur Moses beveel dat ons stede moet kry om in te woon en weiveld vir ons vee.”

v.3.. Die Israeliete het toe die bevel vd Here uitgevoer en vir die Leviete woongebiede en weivelde gegee.

v.4.. Daar is vir die Kehatgroep geloot vir stede en weivelde..

v.6.. Vir die Gersongroep is daar ook stede geloot...

v.7.. Vir die Merarigroep is daar ook stede geloot...

v.41.. Die Leviete het altesaam 48 stede met weivelde in die woongebied van die Israeliete gehad.

v.43.. Die Here het aan Israel die hele land gegee wat Hy met ‘n eed aan hulle voorvaders beloof het. Die Here het hulle na alle kante toe rus gegee soos Hy aan die voorvaders beloof het. Die Here het al hulle vyande in hulle mag oorgegee.

v.45.. Nie een van al die goeie beloftes wat die Here aan Israel gemaak het, het onvervul gebly nie. Almal is nagekom.

* Soos die Here beveel en belowe het, het dinge gebeur.

* Die Here het beveel dat die Leviete regoor die hele lande stede moet kry, tesame met weivelde. Die Leviete het dus wel eiendom gekry, maar nie soos die ander 11 stamme in ‘n eie streek nie.

* Die Leviete verteenwoordig die teenwoordigheid van die Here oral oor. ‘n Land kan nie sonder die Here se werk deur die Leviete voortgaan nie. Die Here moet oral en altyd betrokke wees en daar moet altyd eers gevra word wat die Here se wil is. Die Leviete het dus ‘n woonplek gekry, kon ook hulle diere versorg, en is verder gevoed deur die 10des van offerandes van verskillende aard. Wat aan die Here geoffer is, is gegee aan die diensknegte.

* Vandag kan mens dankbaar wees dat daar in ons land en sekere wêrelddele Christelike Kerke is. Die Here moet altyd geken en gevolg word. Die versorging van die dienaars en die instandhouding van die kerk is verseker baie belangrik.

* Ongelukkig loop mens jou dikwels vas teen die ondankbaarheid van baie ‘gelowiges’ wat nie hul dankoffers aan die Here gee nie. Dit beteken ook dat ons landwyd en wêreldwyd gemeentes en hulle diensknegte het wat nie eervol versorg word nie. Dink net wat kan die Here deur gemeentes, kerkrade en diensknegte doen as die 10des werklik teruggegee word aan die Here. Wat die Here op die manier toekom, word gegee vir die diensknegte. Ek is seker dat daar meer as dubbel soveel predikante en pastore sal wees wat die veld ingestoot kan word om die Koninkrykswerk te lei. Gelowiges sal op die manier ook baie meer gereeld besoek kan word en in kleiner liefdevolle groepe gemobiliseer kan word. Askuus, nou raak ek in vervoering.... Maar soos daar geskryf is in Luk.10:2 “Hy het vir hulle gesê: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.”(NAV) Kom ons bid dat die Here meer arbeiders sal roep en dat Hy jou en my sal aanspoor om die 10des te offer sodat die werk wat gedoen word, kan verdubbel...

* Wat die Here belowe, dit doen Hy! Hou hieraan vas. Jy beleef baie voorspoed en rampspoed. Jy dink dalk die Here het jou al lankal vergeet, dis nie waar nie, Hy werk met jou. Die Here buig jou en vorm jou. Beroep jou op God se beloftes, nie op aardes luukses nie. God het Israel belowe dat Hy hulle die land sal gee om in te lewe. Ongelukkig het hulle dit weer opgemors. Jy het die belofte dat Jesus Christus jou Verlosser is, dat Hy jou sondes wegneem, dat Hy jou weer ‘n 2de kans gee, dalk ‘n 100ste kans gee. Benut die kans. As jy nalatig is in jou gelooflewe, as jy jaag na prestasie, erkenning en rykdom, as jy vasgevang is in die nek van die bottel of ander verslawende middele, as jy ’n kort humeur het, as jy vloek.... So kan ons baie dinge opnoem. Laat jou lei deur die Heilige Gees en wend jou tot ons Hemelse Vader, smeek in die naam van Jesus Christus om vergifnis en verlossing en reiniging van jou sondes. As jy opreg is hiermee, het jy verlossing gekry. Wys dan met jou lewe dat jy ’n kind van God is en hou koers agter Jesus aan.

* Doen jou deel om God se gemeente te onderhou met jou dankoffers. Beroep jou op God se beloftes, Hy doen wat Hy belowe.

Baie sterkte en ek bid u/jou die seën van die Here God toe.

Joop van Schaik