2009/06/17

Berou en genade

Liewe Broeders en Susters

Iets wat my pas weer aangegryp het, is die wonderlike en grote genade van God deur Jesus Christus vir my en jou as mense.

In 2 Kron. 33 lees ons hoe erg koning Manasse, seun van wyle koning Hiskia, verkeerd gedoen het teen die Here. Manasse het afgodstempels (v.3) gebou en geoffer aan die afgode. Hy het sy eie seuns verbrand! Hy het hom besig gehou met goëlery, waarsêery, en toordery, hy het meegedoen aan die oproep en raadpleging van geeste (v.6). God haat dit en dis gruwelik in Sy oë.

Die Here het Manasse in die hande van die Assiriese koning laat val, met kettings en hake deur sy neus (v.11). Daar in die gat van die lewe, het hy besef dat hy genade by die Here moet kry. Manasse het berou getoon en gebid. Die Here was hom genadig en het hom weer terug laat gaan na Jerusalem en hy was weer koning daar (v.12,13)

Geliefdes, my en jou sondes, sondes van geliefdes, ouers en kinders, vreemdelinge en vyande is baie baie groot. Maar hoor wat die Here hier openbaar: besef dat jy in ‘n gat is, vasgevang in die kettings van die sonde en Satan. Die Heilige Gees laat ons ook opstaan uit die gutter van die lewe, smeek om genade en toon berou voor God.

Gryp vas wat Jesus Christus met sy kruisdood en opstanding vir jou en ander gedoen het, en kyk wat gebeur!

So gee die Here weer aan jou sy liefde en genade, soos vorm die Here jou soos wat Hy jou wil laat wees. Glo, bely, gryp vas deur die inwerking en uitwerking van die Gees en ontvang vrede en verlossing.

Versprei die wonderlike boodskap met jou mond en met jou hart.

Mag jy ‘n wonderlike dag verder ontvang.


Groete en seën vir jou.

Joop van Schaik

No comments: