2009/07/24

Is dit hoe Christene met mekaar praat?

(Brief aan Beeld, maar nie deur hulle gepubliseer nie.)

Is dit hoe Christene met mekaar praat?

Die skrywes oor die vrou in die amp in die GKSA bedroef my geweldig. Koerantlees is ontstellend. Ek is self ‘n Christen, ‘n Gereformeerde Christen. Ek is self ‘n dienskneg van Christus, ‘n bedienaar van die Woord van God. Ek was self op die Sinode, deel van die gebede, bespreking, worsteling en besluitneming. My standpunt hieroor is nie belangrik nie, wat wel belangrik is, is ‘n dringende oproep dat ons as Christene landwyd en wêreldwyd, hierdie tipe sake anders hanteer.

Die duiwel lag lekker oor die twisgesprekke binne die kring van Christene. Dít is ‘n praktyk van die sondige natuur (Gal. 5:20). Ek en jy maak ons skuldig hieraan deurdat die manier waarop ons geloofsake en kerksake hanteer, lei tot twis, verdeeldheid en skeuring. God laat dit so toe, totdat jy en ek besef dat ons tot inkeer voor Hom moet kom. Om te besin is reg, maar met afguns? Jy reageer met ‘n brief, jy maak jou eie bloedbroer broer of suster seer, jy maak jou broeder of suster in ‘n ander gemeente en Christelike Kerk seer… Is dit hoe Christene met mekaar praat?

Kom ons bid eerder dat ons wat navolgers van Christus is, meer met die vrug van die Gees met mekaar sal omgaan. Gal. 5:22-23: “liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.” Ek is lief vir die Here, jy is lief vir die Here. Ek is verskriklik dankbaar om ‘n kind van God te wees, om deel van die plaaslike gemeente te wees, jy ook. Dit is nie altyd maklik of lekker om ‘n Christen te wees nie, wel ‘n groot voorreg! Dus, voordat jy iets skryf ,vra eers: is dit wat ek nou sê tot eer van God Drie-Enig? Is die manier waarop ek dit sê tot eer van God?

Mag ons as Christene wat deel is van verskillende Christelike Kerke, eerder met liefde kommunikeer en besin. Mag God se koninkryk hier op aarde deur jou en my kom. Die tyd is min, die tyd is kosbaar!

Joop van Schaik, Kempton Park.