2008/10/29

Oordenking: Josua 13

Dagsê susters en broeders. Ons gaan nou ‘n rukkie stilstaan by die beginsel van ‘n regverdige toedeling van grondgebied. Die Here besluit wie wat kry.

Josua 13


By Josua 12 het ons gesien dat die stamme Ruben, Gad en ‘n helfte van die Manassestam hulle plek in die son gekry het. Josua 13 bou hierop voort met fyner besonderhede.

v.1..Josua het baie oud geword en daar is nog ‘n baie groot deel vd land wat in besit geneem moes word. Onder die dele wat oorbly, is daar al die Filistynse gebiede en die hele Gesurgebied, asook nog ander plekke. Daar is die hele Kanaänitiese gebied van Teman.....

v.6.. Die Here sê dat Hy al die bewoners vd bergwêreld sal verdryf om vir die Israeliete plek te maak, so ook met die ander plekke...... Intussen moet Josua al hierdie gebiede as besitting aan Israel toewys, soos die Here beveel het.

v.8.. Die gebied oos vd Jordaan is reeds aan Ruben, Gad en ‘n helfte vd Manasse stam gegee. v.14.. Net aan die Levistam is nie ‘n eie gebied as besitting toegeken nie. Die Leviete is offers aan die Here die God van Israel en hulle ontvang van wat Hom toekom, soos Hy hulle beloof het. Ons sal nog sien hoe die Leviete by elke stam se gebied ‘n deel ontvang.

v.15.. Weer word die gebied vir die stam Ruben uitgespel. Dit het aan die Jordaan gegrens. Daar was verskeie stede en buiteposte.

v.24.. Weer word die gebied vir die stam Gad uitgespel. Dit was die streek oos vd Jordaan. Daar was verskeie stede en buiteposte.

v.29.. Weer word die gebied vir die een helfte vd Mansse stam uitgespel. Wat ons hier moet raaksien, is dat die een deel van Manasse se nageslag hierdie gebied ontvang het. Dit was die nakomelinge van Makir die een seun van Manasse. Sy ander seun se nageslag kry op ‘n ander plek hulle deel.

v.32.. Ook hier word gesê: “Aan die stam Levi het Moses nie ’n eie besitting toegeken nie. Hulle ontvang van wat die Here die God van Israel self toekom, soos Hy hulle beloof het.”

* Wat opval, is dat die Here klaar Sy besluite geneem het. Dit moet nou nog net uitgevoer word. Hy kon dit sommer net laat gebeur het, maar nee, Hy het besluit dat die mens deel is van Sy Skepping en die mens moet hier hoor, luister en doen. Wat ‘n voorreg dat God Almagtig elke liewe mens in Sy Raadsplan gebruik!

*Gelukkig is ons plek in die mooiste beloofde land klaar vir ons voorberei, ‘n plek in die woning van God! Jesus het dit klaar voorberei. Jy en ek moet egter ons regmatige plek hier op aarde inneem, dit wat die Vader vir jou bestem het, dit moet jy najaag en uitvoer.

* Jy leer dus dat jy nie met jou optrede iets kan verdien nie, jy ontvang dit as ‘n geskenk. En omdat jy dit uit genade ontvang, wil jy mos nou baie graag gehoorsaam wees aan die Here. Dis nou dankbaarheid!

*Geliefde, jy het jou spesifieke plek, jy en jou mense rondom jou. Jou gemeente het ‘n spesifieke plek in jou omgewing. Neem daardie plek in en wys wie is God.

* Ons word ook weer ‘n keer met die Leviete stam daarop gewys dat die Here Sy deel, Sy dankoffer ontvang en dit gebruik om die godsdiens mee in instand te hou. In elke stamgebied was daar Leviete, aanbiddingsplekke, altare en ... Die Leviete is orals versorg en het die volk gelei in hulle diens aan die Here. Wat ‘n voorreg, vir die Leviet en die burger van God se volk. Wat ‘n voorreg vir jou en my om deel van die kerk in ons gebied te wees. Wat ‘n voorreg om te offer en te dien.

* Wees verseker van God se liefde vir jou, Hy gee jou ‘n plek in die hemel en Hy gee jou regmatige plek alreeds hier op die aarde. Ontvang dit, benut dit en dien God so.


Groete


Joop van Schaik

2008/10/28

Oordenking: Josua 12

Liewe Broeders en Susters. Doen gerus voorraadopname en kyk wat doen God vir jou.

Josua 12

v.1.. Die Israeliete het die konings van verskeie lande verslaan en die gebied ingeneem. Dis die oorkant van die Jordaan, die gebied van die Arnon vallei af tot by Hermonberg, en die hele oostelike deel van die Jordaanvallei. Dit was Koning Sihon van die Ammoriete in Gesbon en Koning Og van Basan.
v.6.. Moses het nog hierdie 2 konings verslaan en die gebied gegee aan die stam Ruben, die stam Gad en die halwe Manassestam.
v.7.. Josua hulle het ook die konings vd land duskant die Jordaan, aan die westekant, die Libanonvallei tot Karmelberg na Seïr toe, verslaan.
v.24.. Dit was altesaam 31 konings.

Hoofstuk 13 wat kom... Josua was al baie oud en hy kry opdrag om die land verder te verdeel en toe te deel.

*Die Here het regtig voorgegaan met die oorlog wat gevoer is teen al die volke wat afgode aanbid. Getrouheid aan die Here was kardinaal van belang. Die Here hou Sy Woord. Daarom moet mense dit ook doen.
* Die verdeling van grond aan elke stam het reeds begin. ‘n Opname is gemaak van wat alles al gedoen was. Moses het ‘n deel van die werk gedoen en Josua het dit opgevolg, beide getroue diensknegte van die Here.
* As mens hierdie gelyste inligting deurkyk, dan besef jy hoe groot God se Almag is en wat Hy doen.
* ‘n Regverdige verdeling van die land wat al ingeneem is en wat nog ingeneem moet word, gaan nou plaasvind.
* Dis belangrik dat ek en jy ook gereeld tot stilstand kom om ‘n voorraadopname te maak. Maak veral ‘n voorraad opname van God se genade in jou lewe. Maak staat op God se belofte en leef daardeur. Hoe wonderlik om te weet dat ek en jy reeds ons plek in die hemel het. Jesus Christus het dit klaar vir ons verwerf.
* Vra ook gereeld elke dag vir die Here dat Hy jou wys wat jou taak is vir elke dag. Die jaar loop vinnig tot ‘n einde en ons doen al weer beplanning vir die volgende jaar. Bid en vra God dat Hy jou help om die jaar se werk en roeping mooi te voltooi. Bid dat Hy jou sal help om weer kragte op te bou vir die nuwe jaar wat kom. Beplan, maar moet jou nie nou so komkommer dat dat jy paniekerig raak nie. Onthou gerus wat in Fil.4:13 staan; “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”

Groete

Joop van Schaik

2008/10/27

Oordenking: Josua 11

Broeder en Suster, die oormag lyk dikwels te groot, die probleme te ingewikkeld..... Hoe nou gemaak?

Josua 11

v.1.. Koning Jabin van Hasor het ook gehoor van Josua se oorwinnings. Hy stuur toe boodskappe na baie ander konings in die omgewing uit sodat hulle ook ‘n bondgenootskap kan vorm teen Israel. Dis so gedoen en die leërs was so baie soos die sand vd see. Daar was ook baie perde en strydwaens. Hulle het by Meromwaters teen Israel ontplooi.

v.6.. Die Here sê vir Josua, moenie vir hulle bang wees nie. Môre gee ek hulle oor aan Israel.

v.7.. Josua hulle het die bondgenootskap skielik oorval daar by Meromwaters. Die Here het hulle in Josua se mag oorgegee.

v.10.. Daarna het Josua na Hasor gegaan en dié stad ook ingeneem. Die plek en sy koning het vroeër ‘n leiersposisie ingeneem tussen al die koninkryke daar. Alles is uitgeroei. Die stad is afgebrand.

v.12.. Al die ander stede in die omgewing is ook ingeneem, die konings en die mense is uitgeroei. Die ou gevestigde stede is nie afgebrand nie.

v.15.. Wat die Here sy dienaar Moses beveel het, het Moses vir Josua beveel, en dit het Josua gedoen, niks is nagelaat nie.

v.16.. Josua het die hele land ingeneem, die Bergland, Suidland, Gosengebied, Laeveld.....

v.19.. Behalwe die Hewiete in Gibeon, het nie een stad met Israel vrede gemaak nie. Die Israeliete het hulle almal in gevegte verower.

v.20.. Dit was die Here wat hulle inverset laat kom het, sodat hulle teen Israel geveg het: hulle moes sonder genade uitgeroei word, soos die Here Moses beveel het.

v.21.. In die tyd het Josua ook die Enakiete (reuse) in die berge, Hebron, Debir, Anab en in die Judaberge uitgeroei. Net in Gasa, Gat en Asdos was daar Enakiete oor.

v.23.. Josua het die hele land ingeneem soos die Here vir Moses beveel het, en het toe die land as besitting aan Israel gegee, vir elke stam ‘n deel. Die land kon toe rus van oorlog.

*Nog ‘n bondgenootskap word gevorm. Hulle trek op teen Israel by Meromwaters, maar die Here gee hulle in Israel se mag oor. Die Here het vir Josua gesê dat hulle nie bang hoef te wees nie.

* Bondgenootskappe is vandag nog ‘n praktyk. Verskillende lande kom ooreen om mekaar te help teen ‘n gemeenskaplike vyand. Die Irak oorlog is ‘n voorbeeld hiervan. Die VSA en Brittanje en nog ander het saamgestaan. In die politiek werk dit nog so. Die ANC is ‘n bondgenootskap. Tussen besighede is daar dikwels ‘n ooreenkoms om saam te staan teen ‘n gemeenskaplike opposisie. Jy en jou vriende het dalk al ooreengekom om als in julle vermoë te doen om die ou van wie julle nie hou, se lewe moeilik te maak.

* Nog baie ander stede, konings en ook die reuse is uitgeroei. Soos die Here beveel het, so is dit gedoen.

* Die Here het die mense in verset laat kom sodat hulle kon veg en verloor. Hy het Israel gelei, voorgegaan en in staat gestel om die oorlog te voer en te oorwin. Die Here laat hierdie mense net soos die Farao in verset kom teen God en teen Israel. Die Here se doel daarmee is om Sy grootheid te bewys. Oorwinning word gegee, ten spyte van geweldige teenkanting en oormag.

* Verset is nie ‘n lekker ding nie, veral as dit teen jou is. Hoe moet jy verset of teenstand hanteer? Gaan na die Here toe en praat dit met Hom in gebed en Bybelleestyd uit. Die Here laat ook dinge teen jou toe, met die doel om jou geloof sterker te maak en om jou afhanklikheid van Hom groter te maak. Die Here plaas dikwels die verkeerdste of booste ou op jou pad, sodat jy dit moet hanteer in afhanklikheid. Die Here gee oorwinning aan jou.

* ‘n Tweede keer is gesê: soos die Here beveel het, is gedoen. Dis jou en my oplossing ook, vra vir God, hoor by Hom, en doen wat Hy jou beveel. Dis die enigste pad vir jou om te loop. Hou aan daarmee, elke dag, elke oomblik van jou lewe.


Baie mooi dag vir jou/u. Hoor by God en doen wat Hy jou wys.


Joop van Schaik

2008/10/24

Oordenking: Josua 10

Liewe Susters en Broeders in Christus. God voer die oorlog vir jou.

Josua 10

v.1.. Koning Adoni-Sedek van Jerusalem het gehoor dat Josua hulle Ai vernietig het, soos vir Jerigo, en ook van die slim truuk van Gibeon om vrede met Israel te sluit. Die mense van Jerusalem was baie bang. v.3.. Adoni het 4 ander konings nader geroep om ‘n verbond met hulle te sluit om saam te staan. Hul 1ste stap was om Gibeon self in te neem. Hiervoor het hulle opgetrek.
v.6.. Die mense van Gibeon het vir Josua hulle laat weet van die krisis. U moet ons help!
v.7.. Die Here het vir Josua hierin gelei: “Moenie vir hulle bang wees nie, Ek gee hulle in jou mag oor. ..”
v.8.. Josua het deurnag getrek en die Amoriete skielik oorval. Die Here het hulle paniekbevange gemaak. ‘n Groot slagting het gevolg. v.11.. Die wat gevlug het, is deur die Here met groot haelstene doodgeslaan, meer as met die swaard.
v.12.. Josua het ook vir die Here gevra dat die son stilstaan in Gibeon en Ajalonlaagte. Die son het stilgestaan totdat die vyande verslaan was.
v.14.. So ‘n dag was daar nie nooit weer nie, toe die Here ag geslaan het na die stem vd mens. Die Here het vir Israel die oorlog gevoer.
v.16.. Die 5 konings het gevlug en in ‘n grot weggekruip. Josua gee bevel dat die opening van die grot met ‘n groot klippe geseël moet word en dat die res vd vyand agtervolg moet word. Die Here gee hulle in julle mag.
v.20.. Na die geveg, is al die manskappe is behoue terug na die kamp. Niemand het dit meer gewaag om iets teen Israel te sê nie.
v.22.. Josua gee bevel dat die konings uit die grot gehaal moet word. Dis die konings van Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis en Eglon. Josua roep al die leiers en Israeliete en sê: sit julle voete op die konings se nekke. Josua sê verder: moenie bang wees nie, wees sterk en vasberade, so sal die Here maak met al die ander vyande.
v.26.. Die 5 konings is aan ‘n boom opgehang en teen sononder afgehaal. Hulle is in die grot gegooi en dis met groot klippe toegepak.
v.28.. Daardie dag het Josua Makkeda ingeneem, die koning doodgemaak en die stad uitgeroei.. v.29.. Hierna is Libna ingeval en daarna Lakis. v.34.. Eglon en Hebron was volgende. v.38.. Debir het dieselfde oorgekom.
v.40.. Josua het die hele gebied platgeloop, die Bergland, Suidland, Laeveld en die Hange. Niemand het vrygekom nie. Alles wat asem het, is uitgeroei, soos die Here beveel het.
v.42.. Die veldtogte is gewen omdat die Here die God van Israel die oorlog vir Israel gevoer het. Hulle is terug na die kamp in Gilgal.

*Jou woord is jou woord. Dis wat Josua gedoen het. Toe die leunaars van Gibeon in die moeilikheid beland het, het Josua by sy eed gehou en hulle gaan help.
* Hoe getrou hou jy jou woord, ook teenoor die van wie jy nou nie eintlik hou nie, selfs teenoor jou vyand? Onthou wat ons gesê het, as jy ‘n eed aflê, roep jy God in as jou getuie. Dis baie ernstig. Ek dink dis nogal ‘n groot probleem in huisgesinne, families, vriendkringe, kerke, werkkringe, regerings en in die hele wêreld. Hoe betroubaar is jy?
* Josua het sy les geleer om nie weer sonder die Here op te tree nie en het die Here gevra wat om te doen. Die Here sê dis reg en Hy sal die vyand in Israel se mag oorgee. Deur die swaard en hael het God die geveg gevoer. Die Here het die oorlog vir Israel gevoer.
* Kyk wat het die Here gedoen met gehoorsaamheid aan Hom, die vyand verkrummel voor Israel. Waarmee worstel jy? Wat lyk vir jou absoluut onmoontlik en onveranderd? Waarvoor bewe jy en is jy slapeloos en...? Hou aan om afhanklik van die Here te wees. Hou aan om te vra en hou aan om te doen wat die Here vir jou uitwys om te doen. Al lyk die taak te groot en onmoontlik, luister na die Here en gaan doen dit. Hy doen dit vir jou en Hy gebruik jou in Sy Raadsplan en Wil.
* ‘n Natuurwonder het plaasgevind, die son het stilgestaan! Die Here is in beheer van als, alles en almal.
* Die grootste geveg wat God vir jou gevoer het, was deur Jesus Christus teen die Satan. Hier kon geen mens mens enigsinds iets bydra nie en sal ook nooit kan nie. God het deur Jesus Christus se kruisdood en opstanding klaar die oorwinning gegee. Jy moet net kinderlik glo en vashou aan Jesus Christus. Jy moet net deur die werking van die Heilige Gees hoor en doen wat God vir jou sê en wys. Staan op en gaan voort, moenie in sak en as gaan sit nie. Moenie verval in ‘n groef van pessimisme en negatiewiteit nie. Moenie vaskyk in mense nie, hou jou oog gevestig op Jesus Christus.



Baie mooi naweek vir u.
Joop van Schaik

2008/10/23

Oordenking: Josua 9

Liewe Broeders en Susters. Dit gaan vandag oor die hantering van sukses, jou sukses of die ander een se sukses. Dit gaan oor die Here raadpleeg of sommer self besluit. Dit gaan oor ‘n eed aflê en die hou by die eed.

Josua 9

v.1.. Die konings van ‘n baie groot streek het van Josua en Israel se suksesse gehoor met die oorloë en het bang geword. Hulle het eendragtig saamgestaan om teen Israel te gaan veg.
v.3.. Die inwoners van Gibeon het egter ‘n slim plan uitgedink en uitgevoer. Hulle het ou padkos ingepak, verslete saalsakke op die donkies gesit, verslete geskeurde wynsakke weer toegewerk en gelapte skoen en verslete klere aangetrek.
v.6.. So is hulle na Josua by Gilgal. Hulle lieg: ons kom uit ‘n ver land om ‘n verdrag te sluit. Die Israeliete het wel snuf in die neus gekry, maar die Gibeoniete het oortuigend bly lieg. Kyk net na al die ou goed, ons kom van ver om julle onderdane te wees.
v.14.. Die Israeliete het na als gekyk, maar nie die Here geraadpleeg nie. Josua het die Gibeoniete goed behandel en ‘n verdrag met hulle gesluit, dit met ‘n eed.
v.16.. Drie dae later het die leuen uitgekom en die Israeliete wou dit wreek. Josua en die leier het egter vir die volk gesê dat hulle ‘n eed voor die Here afgelê het, ons kan hulle nie aanval nie. As die eed verbreek word, sal die Here dit straf. Die eed moet nagekom word.
v.21.. Daar is besluit dat die Gibeoniete moet lewe, maar hulle sal houtkappers en waterdraers vir Israel wees.
v.24.. Josua wil wel weet hoekom hulle so gelieg het. Die antwoord was dat hulle baie gehoor het van Moses, van God en als wat gebeur het. Hulle het vir hul lewens gevrees.

*Sukses het ‘n groot invloed. ‘n Invloed op omstanders en op die een wat sukses behaal het. Die omstanders verwonder hulle of raak bang as dit hulle bedreig. Die suksesvolle een raak ongelukkig te braaf of het te veel selfvertroue of raak te selfstandig.
* Dis wat hier gebeur het. Josua en Israel se sukses, wat eintlik die Here se sukses was, het die Gibeoniete en die Israeliete beïnvloed.
* As jy nie sterk is nie, moet jy slim wees, dis wat die Gibeoniete was en dis wat mens baie keer geleer word.
* Dis prysuitdelingstyd by die skole en by die werk. Dis insentiewe en prestasie. Dis kersbonustyd..... Wat is die invloed hiervan op jou? As jy die een is wat die toekenning kry, dan moet jy baie versigtig wees dat dit nie kop toe gaan nie. Geluk, maar bly nederig en afhanklik. As jy dié keer nie die prys of toekenning gekry het nie, jy moet ook oppas, want jy kan dalk dink dis die einde van die wêreld. Dit is nie. Jy word sterker gemaak en hierdie is een van baie toetse en teleurstellings wat die Here nog op jou pad gaan plaas. Leer bietjie by Josua en die volk.
* Wat was die probleeem en wat is baie keer ons probleem? Die Here word nie geraadpleeg nie. Josua het grootkop gekry, die mense geglo sonder God se aanwysing. So gaan ek en jy dikwels aan sonder om die Here in alles te ken, ook die keer toe jy na sukses gedink het jy is slim en goed genoeg om die besluit self te neem. Nee, raadpleeg elke keer die Here, Hy sal jou wys wat om te doen, hoe om als te hanteer, ook die sleg, seer en swaarkry.
* ‘n Eed is afgelê en dit moet gehou word, al is dit teenoor jou vyand of iemand waarvan jyself glad nie hou nie. Hier was Josua baie eerbaar. Die ouens wat hom pas bedrieg het, gelieg het, hulle moet beskerm word want Josua het in die Naam van die Here ‘n eed afgelê en dit mag nie verbreek word nie. Wanneer jy ‘n eed aflê, dan roep jy God as getuie in. Doen dit net wanneer dit nodig is. Die res van die tyd, laat jou ja jou ja wees en jou nee jou nee.

Kom ons hanteer die sukses en teleurstelling deur die genade van God. Kom ons hou ons woord, laat jou woord jou eer wees en lê ‘n eed net af as dit nodig is.

Baie groete en seën

Joop van Schaik

2008/10/22

Oordenking: Josua 8:30-35

* Liewe Susters en Broeders in Christus. Ek kan weer lekker sit en werk. Vandag leer die Here jou dat jy dankbaar na die oorwinning moet wees, dat jy juis dan met die wet vd Here opgeskerp moet word.


U sal onthou dat die stad Ai oorwin is, met koning en al. Oorwinning is deur God gegee.

v.30.. Daarna het Josua op Ebalberg ‘n altaar gebou vir die Here. Hulle het brandoffers vir die Here op die altaar gebring en maaltydoffers vir die Here geoffer.

v.32.. Moses het op die klippe vd altaar ‘n afskrif aangebring vd 10 gebooie, voor die oë van die hele Israel.

v.33.. Die hele Israel, sy leiers sy beamptes en sy regters het daar aan weerskante vd ark gestaan voor die Levitiese priesters wat die verbondsark vd Here dra. Vreemdelinge sowel as burgers was daar.

v.34.. Josua het alles wat die wet sê, die seën sowel as die straf, voorgelees, woord vir woord

v.35.. Die vrouens en kinders en die vreemdelinge wat tussen hulle gebly het, was by.

* Jy is so geneig om nadat jy deur ‘n tyd van worsteling, beproewinge en versoekinge gegaan het, sommer net te wil niks doen, wegbreek of so gou moontlik weer aan te gaan met jou lewe.

* Inderdaad sug jy van verligting en dis eintlik te gelooflik om waar te wees, maar tog is dit so. Jy is soms ook dan so leeg en moeg. Jou liggaam wil ook dan tot stilstand kom. Dis soos wanneer jy na ‘n harde kwartaal op vakansie gaan, en sommer op die 2de dag kry jy hierdie aaklige hoofpyn of jy word siek. Jy wil vakansie hou, nie siek wees nie! Dokters sê ook dat dit eintlik doodnormaal is, want jou liggaam kom skielik tot stilstand, kom agter wat kort alles en soek hersteltyd, of dit wat gehou het, gee dan in.

* Ons wil dit met die Here ook doen. Jy wil so goed uitspan, dat jy die Here ook daar anderkant wil uitskuif. Dis net waar ons die fout maak. Dis die Here wat jou gelei het, krag gegee het, weer laat opstaan het en nou ook die oorwinning oor die probleem. Hier sien ons dat Josua in gehoorsaamheid ‘n altaar bou en die offers bring. Ons sien dat die leiers en elke liewe burger daar is, ook die vreemdeling wat tussen hulle kom woon het.

* Ons kan sê dit was ‘n dankdiens. Die 10 gebooie word sigbaar op die altaar geskryf en dit word gelees. In ons terme ‘n erediens met die Bybel in die hand en hart.

* Hoe bring jy ‘n offer? Deur heel eerste vir God met jou hart en siel dankie te sê. Deur met vrymoedigheidheid te doen en te gee wat die Here van jou verwag. Deur getrou te bou aan jou persoonlike verhouding met die Here. Deur getrou te bou aan jou verbindtenis met jou medegelowige binne en buite jou gemeente. Deur deurlopend die Woord van God in die erediens te hoor, ieder en elk van ons moet teenwoordig wees.....

* Jesus Christus was die volmaakte offer aan die kruis. Geen brandoffer of maaltydoffer is nou meer nodig nie. Hy verlos jou volkome en jy het die oorwinning. Nou roep die Here jou op met Rom.12:1b: “Gee julleself aan God as lewendige en heilige offers...”

* Geliefde, na uitkoms en oorwinning, gaan net so baie na die Here soos toe jy in die nood was. Wys jou dankbaarheid, wees ‘n altaar deur jouself op te offer in diens van God. Hou by God se Woord. Maak self die Woord van God sigbaar aan alle mense rondom jou. Hulle moet die Here kan sien in jou en Sy gebooie kan lees op jou.


Geseënde dag vir u.


Joop van Schaik

2008/10/18

Sommer net

Liewe suster en broeder in Christus.

Ek skryf vanoggend sommer net iets omrede sittyd min is.

Ek deel sommer uit my hart met u/jou oor iets wat ek in Rigters 6,7,8 gelees het. Dit gaan oor Gideon, een van die Rigters. Uit ‘n klein en onbelangrike familiegroep het die Here hom geroep om die volk te lei. Hulle moes optrek teen die vyand. Daar was 30 000 beskikbare soldate. Tog sê die Here dat hulle te veel is, want as hulle die oorlog wen, gaan hulle dink dis hulle wat so goed is. Die Here sê vir Gideon dat die ouens wat bang is vir oorlog, huis toe kan gaan. 20 000 van die bang ouens gaan huis toe. Daar is 10 000 oor, maar die Here sê dis ook nog te veel. Vat hulle water toe en die wat water met die hand skep, hulle moet Gideon se vegspan uitmaak. Net 300 bly oor! Wat my trek is die persentasie manskappe wat die Here gebruik om Gideon se span uit te maak. Wat is 300 van 30 000? Dis net 1% !!! Die Here stuur 1% om sy werk te gaan doen.

Wat nog verder tref, nadat hulle die eerste veldslag gewen het, was daar nog ‘n groep vyande van 15 000 wat oorwin moet word. Die manskappe is moeg en honger, niemand wil vir hulle iets gee nie. Tog gee die Here hierdie 15 000 in Gideon en sy 300 se hand. Wat is 300 van 15 000? Net 2% !!!

Jy en ek voel dikwels of die werk te veel is, of jy te moeg en uitgeput is. Jy voel die arbeiders is te min en die werk is te veel. Die Here gebruik jou egter om Sy werk vir Hom uit te voer. Met jou wat dalk ook net deel is van 1 of 2 %, gaan die Here Sy werk 100% laat uitvoer. Jou kragte is min, maar die Here gaan met jou 1 of 2% kragte, Sy werk susksesvol uitvoer. Jy is in God se hand en Hy gebruik jou, hoe goeie moed.

Mag die Here jou seën en naby jou, rondom jou en in jou wees deur Sy Heilige Gees.

U/jou broeder in Christus.

Joop van Schaik