2008/10/24

Oordenking: Josua 10

Liewe Susters en Broeders in Christus. God voer die oorlog vir jou.

Josua 10

v.1.. Koning Adoni-Sedek van Jerusalem het gehoor dat Josua hulle Ai vernietig het, soos vir Jerigo, en ook van die slim truuk van Gibeon om vrede met Israel te sluit. Die mense van Jerusalem was baie bang. v.3.. Adoni het 4 ander konings nader geroep om ‘n verbond met hulle te sluit om saam te staan. Hul 1ste stap was om Gibeon self in te neem. Hiervoor het hulle opgetrek.
v.6.. Die mense van Gibeon het vir Josua hulle laat weet van die krisis. U moet ons help!
v.7.. Die Here het vir Josua hierin gelei: “Moenie vir hulle bang wees nie, Ek gee hulle in jou mag oor. ..”
v.8.. Josua het deurnag getrek en die Amoriete skielik oorval. Die Here het hulle paniekbevange gemaak. ‘n Groot slagting het gevolg. v.11.. Die wat gevlug het, is deur die Here met groot haelstene doodgeslaan, meer as met die swaard.
v.12.. Josua het ook vir die Here gevra dat die son stilstaan in Gibeon en Ajalonlaagte. Die son het stilgestaan totdat die vyande verslaan was.
v.14.. So ‘n dag was daar nie nooit weer nie, toe die Here ag geslaan het na die stem vd mens. Die Here het vir Israel die oorlog gevoer.
v.16.. Die 5 konings het gevlug en in ‘n grot weggekruip. Josua gee bevel dat die opening van die grot met ‘n groot klippe geseël moet word en dat die res vd vyand agtervolg moet word. Die Here gee hulle in julle mag.
v.20.. Na die geveg, is al die manskappe is behoue terug na die kamp. Niemand het dit meer gewaag om iets teen Israel te sê nie.
v.22.. Josua gee bevel dat die konings uit die grot gehaal moet word. Dis die konings van Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis en Eglon. Josua roep al die leiers en Israeliete en sê: sit julle voete op die konings se nekke. Josua sê verder: moenie bang wees nie, wees sterk en vasberade, so sal die Here maak met al die ander vyande.
v.26.. Die 5 konings is aan ‘n boom opgehang en teen sononder afgehaal. Hulle is in die grot gegooi en dis met groot klippe toegepak.
v.28.. Daardie dag het Josua Makkeda ingeneem, die koning doodgemaak en die stad uitgeroei.. v.29.. Hierna is Libna ingeval en daarna Lakis. v.34.. Eglon en Hebron was volgende. v.38.. Debir het dieselfde oorgekom.
v.40.. Josua het die hele gebied platgeloop, die Bergland, Suidland, Laeveld en die Hange. Niemand het vrygekom nie. Alles wat asem het, is uitgeroei, soos die Here beveel het.
v.42.. Die veldtogte is gewen omdat die Here die God van Israel die oorlog vir Israel gevoer het. Hulle is terug na die kamp in Gilgal.

*Jou woord is jou woord. Dis wat Josua gedoen het. Toe die leunaars van Gibeon in die moeilikheid beland het, het Josua by sy eed gehou en hulle gaan help.
* Hoe getrou hou jy jou woord, ook teenoor die van wie jy nou nie eintlik hou nie, selfs teenoor jou vyand? Onthou wat ons gesê het, as jy ‘n eed aflê, roep jy God in as jou getuie. Dis baie ernstig. Ek dink dis nogal ‘n groot probleem in huisgesinne, families, vriendkringe, kerke, werkkringe, regerings en in die hele wêreld. Hoe betroubaar is jy?
* Josua het sy les geleer om nie weer sonder die Here op te tree nie en het die Here gevra wat om te doen. Die Here sê dis reg en Hy sal die vyand in Israel se mag oorgee. Deur die swaard en hael het God die geveg gevoer. Die Here het die oorlog vir Israel gevoer.
* Kyk wat het die Here gedoen met gehoorsaamheid aan Hom, die vyand verkrummel voor Israel. Waarmee worstel jy? Wat lyk vir jou absoluut onmoontlik en onveranderd? Waarvoor bewe jy en is jy slapeloos en...? Hou aan om afhanklik van die Here te wees. Hou aan om te vra en hou aan om te doen wat die Here vir jou uitwys om te doen. Al lyk die taak te groot en onmoontlik, luister na die Here en gaan doen dit. Hy doen dit vir jou en Hy gebruik jou in Sy Raadsplan en Wil.
* ‘n Natuurwonder het plaasgevind, die son het stilgestaan! Die Here is in beheer van als, alles en almal.
* Die grootste geveg wat God vir jou gevoer het, was deur Jesus Christus teen die Satan. Hier kon geen mens mens enigsinds iets bydra nie en sal ook nooit kan nie. God het deur Jesus Christus se kruisdood en opstanding klaar die oorwinning gegee. Jy moet net kinderlik glo en vashou aan Jesus Christus. Jy moet net deur die werking van die Heilige Gees hoor en doen wat God vir jou sê en wys. Staan op en gaan voort, moenie in sak en as gaan sit nie. Moenie verval in ‘n groef van pessimisme en negatiewiteit nie. Moenie vaskyk in mense nie, hou jou oog gevestig op Jesus Christus.



Baie mooi naweek vir u.
Joop van Schaik

2008/10/23

Oordenking: Josua 9

Liewe Broeders en Susters. Dit gaan vandag oor die hantering van sukses, jou sukses of die ander een se sukses. Dit gaan oor die Here raadpleeg of sommer self besluit. Dit gaan oor ‘n eed aflê en die hou by die eed.

Josua 9

v.1.. Die konings van ‘n baie groot streek het van Josua en Israel se suksesse gehoor met die oorloë en het bang geword. Hulle het eendragtig saamgestaan om teen Israel te gaan veg.
v.3.. Die inwoners van Gibeon het egter ‘n slim plan uitgedink en uitgevoer. Hulle het ou padkos ingepak, verslete saalsakke op die donkies gesit, verslete geskeurde wynsakke weer toegewerk en gelapte skoen en verslete klere aangetrek.
v.6.. So is hulle na Josua by Gilgal. Hulle lieg: ons kom uit ‘n ver land om ‘n verdrag te sluit. Die Israeliete het wel snuf in die neus gekry, maar die Gibeoniete het oortuigend bly lieg. Kyk net na al die ou goed, ons kom van ver om julle onderdane te wees.
v.14.. Die Israeliete het na als gekyk, maar nie die Here geraadpleeg nie. Josua het die Gibeoniete goed behandel en ‘n verdrag met hulle gesluit, dit met ‘n eed.
v.16.. Drie dae later het die leuen uitgekom en die Israeliete wou dit wreek. Josua en die leier het egter vir die volk gesê dat hulle ‘n eed voor die Here afgelê het, ons kan hulle nie aanval nie. As die eed verbreek word, sal die Here dit straf. Die eed moet nagekom word.
v.21.. Daar is besluit dat die Gibeoniete moet lewe, maar hulle sal houtkappers en waterdraers vir Israel wees.
v.24.. Josua wil wel weet hoekom hulle so gelieg het. Die antwoord was dat hulle baie gehoor het van Moses, van God en als wat gebeur het. Hulle het vir hul lewens gevrees.

*Sukses het ‘n groot invloed. ‘n Invloed op omstanders en op die een wat sukses behaal het. Die omstanders verwonder hulle of raak bang as dit hulle bedreig. Die suksesvolle een raak ongelukkig te braaf of het te veel selfvertroue of raak te selfstandig.
* Dis wat hier gebeur het. Josua en Israel se sukses, wat eintlik die Here se sukses was, het die Gibeoniete en die Israeliete beïnvloed.
* As jy nie sterk is nie, moet jy slim wees, dis wat die Gibeoniete was en dis wat mens baie keer geleer word.
* Dis prysuitdelingstyd by die skole en by die werk. Dis insentiewe en prestasie. Dis kersbonustyd..... Wat is die invloed hiervan op jou? As jy die een is wat die toekenning kry, dan moet jy baie versigtig wees dat dit nie kop toe gaan nie. Geluk, maar bly nederig en afhanklik. As jy dié keer nie die prys of toekenning gekry het nie, jy moet ook oppas, want jy kan dalk dink dis die einde van die wêreld. Dit is nie. Jy word sterker gemaak en hierdie is een van baie toetse en teleurstellings wat die Here nog op jou pad gaan plaas. Leer bietjie by Josua en die volk.
* Wat was die probleeem en wat is baie keer ons probleem? Die Here word nie geraadpleeg nie. Josua het grootkop gekry, die mense geglo sonder God se aanwysing. So gaan ek en jy dikwels aan sonder om die Here in alles te ken, ook die keer toe jy na sukses gedink het jy is slim en goed genoeg om die besluit self te neem. Nee, raadpleeg elke keer die Here, Hy sal jou wys wat om te doen, hoe om als te hanteer, ook die sleg, seer en swaarkry.
* ‘n Eed is afgelê en dit moet gehou word, al is dit teenoor jou vyand of iemand waarvan jyself glad nie hou nie. Hier was Josua baie eerbaar. Die ouens wat hom pas bedrieg het, gelieg het, hulle moet beskerm word want Josua het in die Naam van die Here ‘n eed afgelê en dit mag nie verbreek word nie. Wanneer jy ‘n eed aflê, dan roep jy God as getuie in. Doen dit net wanneer dit nodig is. Die res van die tyd, laat jou ja jou ja wees en jou nee jou nee.

Kom ons hanteer die sukses en teleurstelling deur die genade van God. Kom ons hou ons woord, laat jou woord jou eer wees en lê ‘n eed net af as dit nodig is.

Baie groete en seën

Joop van Schaik

2008/10/22

Oordenking: Josua 8:30-35

* Liewe Susters en Broeders in Christus. Ek kan weer lekker sit en werk. Vandag leer die Here jou dat jy dankbaar na die oorwinning moet wees, dat jy juis dan met die wet vd Here opgeskerp moet word.


U sal onthou dat die stad Ai oorwin is, met koning en al. Oorwinning is deur God gegee.

v.30.. Daarna het Josua op Ebalberg ‘n altaar gebou vir die Here. Hulle het brandoffers vir die Here op die altaar gebring en maaltydoffers vir die Here geoffer.

v.32.. Moses het op die klippe vd altaar ‘n afskrif aangebring vd 10 gebooie, voor die oë van die hele Israel.

v.33.. Die hele Israel, sy leiers sy beamptes en sy regters het daar aan weerskante vd ark gestaan voor die Levitiese priesters wat die verbondsark vd Here dra. Vreemdelinge sowel as burgers was daar.

v.34.. Josua het alles wat die wet sê, die seën sowel as die straf, voorgelees, woord vir woord

v.35.. Die vrouens en kinders en die vreemdelinge wat tussen hulle gebly het, was by.

* Jy is so geneig om nadat jy deur ‘n tyd van worsteling, beproewinge en versoekinge gegaan het, sommer net te wil niks doen, wegbreek of so gou moontlik weer aan te gaan met jou lewe.

* Inderdaad sug jy van verligting en dis eintlik te gelooflik om waar te wees, maar tog is dit so. Jy is soms ook dan so leeg en moeg. Jou liggaam wil ook dan tot stilstand kom. Dis soos wanneer jy na ‘n harde kwartaal op vakansie gaan, en sommer op die 2de dag kry jy hierdie aaklige hoofpyn of jy word siek. Jy wil vakansie hou, nie siek wees nie! Dokters sê ook dat dit eintlik doodnormaal is, want jou liggaam kom skielik tot stilstand, kom agter wat kort alles en soek hersteltyd, of dit wat gehou het, gee dan in.

* Ons wil dit met die Here ook doen. Jy wil so goed uitspan, dat jy die Here ook daar anderkant wil uitskuif. Dis net waar ons die fout maak. Dis die Here wat jou gelei het, krag gegee het, weer laat opstaan het en nou ook die oorwinning oor die probleem. Hier sien ons dat Josua in gehoorsaamheid ‘n altaar bou en die offers bring. Ons sien dat die leiers en elke liewe burger daar is, ook die vreemdeling wat tussen hulle kom woon het.

* Ons kan sê dit was ‘n dankdiens. Die 10 gebooie word sigbaar op die altaar geskryf en dit word gelees. In ons terme ‘n erediens met die Bybel in die hand en hart.

* Hoe bring jy ‘n offer? Deur heel eerste vir God met jou hart en siel dankie te sê. Deur met vrymoedigheidheid te doen en te gee wat die Here van jou verwag. Deur getrou te bou aan jou persoonlike verhouding met die Here. Deur getrou te bou aan jou verbindtenis met jou medegelowige binne en buite jou gemeente. Deur deurlopend die Woord van God in die erediens te hoor, ieder en elk van ons moet teenwoordig wees.....

* Jesus Christus was die volmaakte offer aan die kruis. Geen brandoffer of maaltydoffer is nou meer nodig nie. Hy verlos jou volkome en jy het die oorwinning. Nou roep die Here jou op met Rom.12:1b: “Gee julleself aan God as lewendige en heilige offers...”

* Geliefde, na uitkoms en oorwinning, gaan net so baie na die Here soos toe jy in die nood was. Wys jou dankbaarheid, wees ‘n altaar deur jouself op te offer in diens van God. Hou by God se Woord. Maak self die Woord van God sigbaar aan alle mense rondom jou. Hulle moet die Here kan sien in jou en Sy gebooie kan lees op jou.


Geseënde dag vir u.


Joop van Schaik

2008/10/18

Sommer net

Liewe suster en broeder in Christus.

Ek skryf vanoggend sommer net iets omrede sittyd min is.

Ek deel sommer uit my hart met u/jou oor iets wat ek in Rigters 6,7,8 gelees het. Dit gaan oor Gideon, een van die Rigters. Uit ‘n klein en onbelangrike familiegroep het die Here hom geroep om die volk te lei. Hulle moes optrek teen die vyand. Daar was 30 000 beskikbare soldate. Tog sê die Here dat hulle te veel is, want as hulle die oorlog wen, gaan hulle dink dis hulle wat so goed is. Die Here sê vir Gideon dat die ouens wat bang is vir oorlog, huis toe kan gaan. 20 000 van die bang ouens gaan huis toe. Daar is 10 000 oor, maar die Here sê dis ook nog te veel. Vat hulle water toe en die wat water met die hand skep, hulle moet Gideon se vegspan uitmaak. Net 300 bly oor! Wat my trek is die persentasie manskappe wat die Here gebruik om Gideon se span uit te maak. Wat is 300 van 30 000? Dis net 1% !!! Die Here stuur 1% om sy werk te gaan doen.

Wat nog verder tref, nadat hulle die eerste veldslag gewen het, was daar nog ‘n groep vyande van 15 000 wat oorwin moet word. Die manskappe is moeg en honger, niemand wil vir hulle iets gee nie. Tog gee die Here hierdie 15 000 in Gideon en sy 300 se hand. Wat is 300 van 15 000? Net 2% !!!

Jy en ek voel dikwels of die werk te veel is, of jy te moeg en uitgeput is. Jy voel die arbeiders is te min en die werk is te veel. Die Here gebruik jou egter om Sy werk vir Hom uit te voer. Met jou wat dalk ook net deel is van 1 of 2 %, gaan die Here Sy werk 100% laat uitvoer. Jou kragte is min, maar die Here gaan met jou 1 of 2% kragte, Sy werk susksesvol uitvoer. Jy is in God se hand en Hy gebruik jou, hoe goeie moed.

Mag die Here jou seën en naby jou, rondom jou en in jou wees deur Sy Heilige Gees.

U/jou broeder in Christus.

Joop van Schaik

2008/10/16

Oordenking: Josua 8

Liewe Broeder en Suster, luister na wat God wil hê jy moet doen, dan sal jy slaag.

Josua 8

v.1.. Na die pakslae by Ai agv ongehoorsaamheid aan die Here, gee die Here die opdrag dat Josua die volk moet gereed maak om Ai in te neem. Ek gee Ai, sy volk, sy land nou aan jou oor. Doen met hulle soos met Jerigo. Net die buit en vee kan julle vat.

v.3.. Josua het 30 000 dapper manne gekies en hulle in die nag laat plekke inneem agter die stad, net buite die stad. Josua en die res vd manskappe sal gewoon die stad tegemoet gaan. Wanneer die mense van Ai dan uitkom om hulle te ontmoet, sal Israel maak of hulle vlug. So lok hulle die manne uit en weg van Ai.

v.7.. Dan sal die 30 000 uit hulle skuilplek kom en die stad in besit neem. Die Here God gee dit aan julle oor. Brand die stad want God beveel dit. So doen die manskappe. Josua slaap tussen die manskappe. Vroeg die oggend het Josua opgetrek na Ai.

v.12.. Josua neem 5 000 manskappe en plaas hulle ook in ‘n verskuilde posisie tussen Bet-El en Ai, wes vd stad.

v.14.. Die manne van Ai trek Israel tegemoet vir die veldslag. Daar was geen man in Ai nie.

v.18.. Die Here se vir Josua dat hy sy swaard na Ai toe moet uitsteek, want dit word oorgegee. Op dd oomblik het die verskuilde manskappe die stad ingeval. Israel was orals! 12 000 mense van Ai sterf. Israel kon die vee en die buit vat soos die Here gesê het.

v.29.. Die koning van Ai is aan ‘n boom opgehang tot sonsondergang en is toe begrawe onder ‘n hoop klippe.

*Uitkoms na ‘n moeilike tyd is mos heerlik! Nadat jy die gevolge van jou sonde moes dra, nadat daar belydenis van die sonde was, die stryd daarteen, kom die bevryding daarvan. Dis heerlik om weet jy is bevry van jou sonde. Net so is dit ook heerlik om oplossings te kry vir jou probleme.

* Die Here sorg vir voedsel-vleis en ander middele deur die buit wat hulle kon neem. So sorg die Here deur jou eerlike en harde arbeid. Baie keer kom daar uit ‘n onverwagte oord onverdiende hulp, geld, redding en uitkoms. Dis die Here wat so werk en doen.

* Josua is deur die Here ‘n baie vaardige strateeg gemaak. ‘n Oolog moet strategies beplan word en presies uitgevoer word. Die belangrikste is egter dat die Here die opdrag moet gee voordat gedoen word. Die eerste probeerslag met Ai wat ‘n ramp, want dit was sonder God. Nou sê God wat is wat en Hy gee verstand aan Josua om ‘n bekwame strateeg te wees. So moet jy ook vir jou persoonlike lewe, jou kerk, jou werk en skool ‘n stategie van God ontvang, dit fyn saam met die Here beplan en dan uitvoer. Jy sal suksesvol wees as die Here jou seën.

* Stiptelike gehoorsaam aan God is dus die belangrikste in jou lewe, in die kerk se bestaan en doen. So gebruik die Here ook voorgangers om die swaard uit te strek, lidmate en kerkraadslede, en besluite om die pad aan te dui en voor te loop. Saam moet ons luister, saam moet ons bereid wees om die geveg aan te knoop teen die duiwel, die wêreld en die sonde. As elkeen van ons sy eie pad loop, dan gebeur wat met die ANC gebeur, soos wat vorige politieke partye ook maar gedoen het.

* Josua is by en tussen die manskappe. As jy ‘n voorganger is, kan jy nie in jou glaskas gaan sit en orders gee nie. Jy as Christen kan nie op jou eie selfopgelegde afgesonderde miershoop gaan staan en vingerwys of skreeu nie. Jy moet fisies self tussen die mense ‘n waardige en liefdevolle deelnemer en voorganger wees.

* Kom ons bid vir ons land Suid-Afrika, dat die leiers eers sal luister na God en dit wat hulle ontvang sal doen. Kom ons bid vir alle Christene en Christelike Kerke, dat die Woord in suiwerheid en waarheid geken, verkondig en uitgeleef sal word. Kom ons bid vir die GKSA, sodat ons die bande en grense kan oorbrug wat nie skrifgetrou is nie, dat ons in ons gemeentes en tussen ons gemeentes stategies vir God se koninkryk sal veg. Kom ons bid vir ‘n hart vol moed, ‘n skerp verstand en ‘n ferm hand en voet.


Geseënde dag vir u/jou.


Joop van Schaik

2008/10/15

Oordenking: Josua 7

Liewe Broeder en Suster. Vandag gaan oor ontrouheid/getrouheid aan en tot die Here.

Josua 7

v.1.. Jerigo is pas verslaan en vernietig. Ongelukkig was daar ontroue Israeliete. Van hulle het nie die banoffer nagekom nie. Iemand het items wat vir die skatkis van die Here bedoel was gevat (Jos.6:19 wys wat die opdrag was). Die Here se toorn het ontvlam.

v.2.. Die stad Ai was volgende om in te neem. Josua stuur verkenners uit. Die verkenners kom terug en sê dat dit sommer maklik gaan wees en dat hulle net 3000 manskappe kan saamvat om oorlog te maak.

v.3.. Josua vra nie by die Here wat Sy opdrag vir hulle is met Ai nie. Josua stuur die 3000 manne, maar hulle moes op die vlug slaan en uiteindelik sterf almal.

v.6.. Die volk se moed was gebreek, Josua het sy klere geskeur en tot die aand toe met sy gesig op die grond gelê voor die ark van die Here, so ook die leiers van Israel. Baie neerslagtig kla hulle by die Here.

v.10.. Die Here antwoord: staan op. Israel het gesondig en die verbond verbreek. Hulle het van die gewyde goed gevat, gesteel en gelieg. Daarom kan die Israeliete nie teen hulle vyande staande bly nie. As julle nie al die gewyde goed, die gesteelde goed teryggee nie, sal Ek nie meer by julle bly nie. Staan op reinig julle en die skuldige moet uitgewys word. Sy straf is dat hy verbrand moet word.

v.16.. Josua het die stamme laat nader kom en die proses begin. Die stam Juda is uitgewys. Die Seragfamilie is aangewys. Uit die familie is Sabdi aangewys. Akan uit dié familie is uitgewys as die skuldige. Hy erken skuld en sonde teen God. Akan met sy seuns en dogters, diere en alles wat hy besit, is gestenig en verbrand.

v.26.. Die Here se toorn het bedaar. Akorlaagte is die plek genoem: “die dood oor ons bring”.

* Na die groot oorwinning, kom die ontnugtering. Ontrouheid en ongehoorsaamheid bederf als. Wat aan die Here behoort, is gesteel. Begeertes van die menslike hart het oorgeneem.

* Wat neem jy wat aan die Here behoort? Het jy dalk ‘n dankoffer die maand nagelaat of nie na jou vermoë geoffer nie. Daar is geen verskil met die wat Akan gedoen het nie. Is jy getrou aan die Here met jou erediensbywoning en meelewing by jou gemeente? Doen jy wat jou hand vind om te doen in jou daaglikse lewe sodat meer mense vir God Drie-Enig kan bely?Is jy dankbaar vir wat jy het, of is jy so bitter soos Alwyn of Bitterals?

* Wat een verkeerd doen, is tot nadeel van baie. Akan het veroorsaak dat die veldslag met Ai, ‘n bloedbad geword het. Josua raadpleeg nie eens die Here nie. Hy luister na die manne! Josua, die leiers, die volk is in sak en as, hulle verkwalik die Here! Sjoe, dit erg. Maar weet jy, ek en jy doen dit ook. As jy in jou huwelik en gesin ontrou is, of nie jou verantwoordelikhede nakom nie, word hulle wat die naaste aan jou is, die seerste gemaak. As jy koud en lou is teenoor jou gemeente, die kerk vd Here, dan benadeel jy die uitwerking en inwerking op jouself en ander. As een liggaamsdeel doodgaan, tas dit die res aan, vergiftig dit als.

* Staan op en reinig jou. Die skuldige is aangewys en gestraf. Geliefde, jy en ek moet mooi nadink oor wat ons doen en nie doen nie. Vra die Vader dat Hy jou deur Sy Seun Jesus Christus reinig. Vra dat die Heilige Gees in jou werk sodat jy dit wat Christus jou gee, kan aangryp. Huil voor God oor jou en my en ons ontrouheid. Gelukkig kry ek en jy weer kans om ontrouheid, ongehoorsaamheid, eiewilligheid en bitterheid te oorkom en te verander.

* Jou sonde het die dood oor Jesus Christus gebring. Sy dood het die lewe oor jou gebring. Jou lewe moet ander mense ophelp en aanhelp.

*Reinig jou en wees getrou

* Kyk gerus waar jy dit nou by jou werk, huis of iewers kan doen. Mag die Here jou seën sodat jy ‘n seën kan wees.



Joop van Schaik

2008/10/14

Oordenking: Josua 6

Liewe Broeders en Susters. God het Sy strategie en plan met jou.


v.1.. Jerigo was verskans en gesluit teen die Israeliete, niemand kon uit of ingaan nie.

v.2.. Die Here sê vir Josua: Ek gee Jerigo, sy koning en sy sodate nou in jou mag.

v.3.. God se oorlogstrategie: Julle moet om die stad loop. Die manne met wapens moet vir 6 dae 1 maal om die stad loop. 7 Priesters moet elkeen ‘n ramshoring voor die ark dra. Die 7de dag moet julle 7 maal om die stad loop. Dan moet die priesters die ramshorings blaas en die soldate moet dan die oorlogskreet hard uitskreeu. Die mure vd stad sal inmekaarsak en dan moet elke soldaat reguit vorentoe gaan en die oorlog gaan veg.

v.6.. Josua het presies dit beveel.

v.17.. Die hele stad moet uitgedelg word, behalwe Ragab die prostituut en almal wat by haar is. Die soldate mag niks vat wat aan die Here behoort nie – dis die silwer, brons en ystergoed – dit moet na die skatkis van die Here gaan.

v.22.. Die 2 verkenners wat by Ragab was, kry die opdrag haar en haar mense te gaan haal en versorg. Hulle is onder die Israeliete opgeneem.

v.27.. Die Here was by Josua. Oor die hele land het Josua bekend geword.

*Die Here bly altyd in beheer. Hy bepaal wat alle mense se wel en weë is. Hy besluit waar jy rondgaan, oorbly of ingeperk is. Gelukkig het God Sy Raadsplan en Beskik Hy oor alles.

* Net soos die Here Jerigo in Josua en die volk se hand gee, so gee Hy die Satan oor in jou hand. Jesus het die Satan klaar oorwin. Sy vernietiging word teruggehou tot met die wederkoms. Nou word die Satan beperkend toegelaat om soos ‘n brullende leeu mense te verlei. Tog sê die Here, jy moet aktief wees in die geveg. Jy moet Satan teenstaan, jou sonde weerstaan, en die verleiding van die wêreld wegwys. Vra die Here biddend dat Hy jou oorwinning gee oor jou probleme en uitdagings. As jy iets wegsteek, al jy lieg, as jy iets onderdeur die tafel verkry, as..... Dis nie hoe dit werk nie. Nee, Staan die duiwel teen.

* God het ‘n Strategie, kyk net wat sê Hy vir Josua hulle: stap, skreeu en veg!

* Josua se beste besluit wat Hy telkens neem, is om aan God gehoorsaam te wees. Dis jou beste besluit ook. Dis iets wat ons ons werknemers, werkers, familie, vriende en politici moet leer en toebid. God beplan, besluit en doen. Jy vra, hoor, glo en doen soos wat God jou wys en leer.

* Ragab, die prostituut, die verwerpte, kom tot inkeer en die Heilige Gees lei haar tot diep insig. Josua en die 2 verspieders hou hulle woord teenoor die sondaar. Sy word gered van die dood. Sy word gered van die ewige dood. Sy word opgeneem in die volk Israel. Sy is vandag ook in die hemel.

* Die Here bou aan Josua se beeld as leier, nie hy self nie. Die resep was dus die hele tyd: afhanklikheid van God, gehoorsaamheid aan God, dankbaarheid tot God.

* Die Here is met jou en Hy laat jou slaag met dit wat Hy jou laat doen.


U/Jou broeder in Christus.


Joop van Schaik