2008/12/09

Oordenking: Josua 24

Josua gee sy afskeidsboodskap: My familie sal die Here dien. Die vraag is net: wie gaan julle dien, vir die afgode of vir God?

Josua 24

v.1.. Josua het weer al die stamme van Israel in Sigem bymekaargeroep. Hy het die leiers, die hoofde, die regters en die ampsdraers geroep en hulle het hulle plekke ingeneem in die teenwoordigheid van God. Josua het die volk namens die Here toegespreek:

v.2.. Lank gelede het julle voorvaders, dis nou o.a. Tera die pa van Abraham en Nahor, anderkant die Eufraat gewoon en hulle het ander gode gedien. Tog het die Here Abraham en almal anderkant die Eufraat geneem en die hele Kanaän laat deurgaan. Die Here het ‘n groot nageslag gegee, dis nou deur Isak en Jakob. Jakob is op ‘n stadium na Egipte toe weggevoer.

v.5.. Die Here het vir Moses en Aäron gestuur om Egipte met baie rampe te tref. Daarna het die Here die volk uit Egipte gelei deur die Rietsee. Die Egiptenaars is getref met die dood. Daarna het Israel lank in die woestyn rondgetrek.

v.8.. Daarna het die Here Israel na die land vd Ammoriete gebring oos vd Jordaan. Die Here het hulle in Israel se mag oorgegee.

v.11.. Israel het deur die Jordaan getrek en by Jerigo uitgekom. Al die mense van Jerigo is in die mag van Israel oorgegee. Die Here het aan Israel ‘n land gegee wat hulle nie bewerk het nie en stede wat hulle nie gebou het nie.

v.14.. Betoon nou eerbied aan die Here en dien Hom met opregtheid en met trou. Sien af vd gode wat julle dien. As julle dit nie wil doen nie, kies dan vandag wie julle wil dien, die gode van die voorvaders of die gode van die Amoriete. WAT MY EN MY FAMILIE BETREF, ONS SAL DIE HERE DIEN.

v.16.. Die volk het geantwoord: Ons dink glad nie daaraan om die Here te verlaat en ander gode te dien nie. Die Here het ons gered. Ook ons sal die Here dien. Hy is ons God.

v.19.. Maar Josua het gesê: Julle kan nie die Here dien nie. Hy eis onverdeelde trou. As julle die Here verlaat, sal Hy teen julle draai en ‘n einde aan julle maak. Die volk sê weer:, nee, ons sal die Here dien!

v.23.. Josua: verwyder dan die gode onder julle uit. Die volk: Ons sal die Here ons God dien, ons sal na Hom luister. Daardie dag het Josua ‘n verbond gesluit en daar in Sigem vir hulle voorskrifte en bepalings vasgelê. Hy het die dinge in die wetboek van God opgeskryf, ‘n groot klip gevat en dit by die heiligdom vd Here regop gesit. Die klip sal ‘n getuie teen die volk wees as hulle wel oortree en God bedrieg. Hierna is die volk weer elkeen na sy eie plek.

v.29.. Hierna het Josua die dienaar vd Here gesterf op 110 jarige ouderdom. Hy begrawe in die gebied wat aan hom as besitting gegee is.

v.31.. Israel het die Here bly dien tydens die lewe van Josua en tydens die lewe vd leiers wat vir Josua oorleef het en alles ervaar het wat die Here vir Israel gedoen het. Josef se liggaam is ook herbegrawe in Sigem. Ook Eleasar die seun van Aäron is oorlede en begrawe.


*Wat tref, is dat die volk en sy voorgangers in die teenwoordigheid van die Here vergader. Die Here is self teenwoordig en Hy is getuie. Almal word tot rekenskap opgeroep.

* So moet jy en ek ook rekenskap gee aan God Almagtig. Dit sou wonderlik gewees het as alle Christen gelowiges hier op aarde, op een slag bymekaar kon kom. Dis nou van alle Christelike Kerke en almal wat die Enige Ware God, Vader, Seun en Heilige Gees, aanbid. Ongelukkig is dit nie hier op aarde moontlik nie, nie voor die wederkoms van Jesus Christus nie. Tog is God Alomteenwoordig en Hy woon deur Sy Heilige Gees in ons harte. Wanneer ons as gelowiges in eredienste bymekaarkom, dan ervaar ons in die kleine hoe dit sal wees as alle gelowiges bymekaar sal wees.

*Goed, die punt is, ons word in 2008 –-> 2009 ook opgeroep om rekenskap te gee van waar ons met God staan. Hoe het jy en ek die Here gedien? Het ons God nie dalk ook met afgode gedeel of vervang nie? ‘n Afgod is mos iets wat ons in die plek van God of naas/langs God stel. Ons moet oppas om vinger te wys na ander mense wat sg. so goddeloos is. Ek en jy kan met eiewilligheid net so godeloos leef en optree. Die eie ek is teenoor God gewoonlik die grootste afgod. Die wêreldse dinge, die menslike dinge is dikwels ook ‘n groot bedreiging.

* Geliefde, wie dien jy en wie gaan jy dien? Soos Josua wil ek graag verklaar: Ek, ek en my familie, ons sal die Here dien. Ek glo ook dat jy/u dieselfde wil verklaar: Ons, ons sal die Here en net Hom alleen dien!

* Jou en my verantwoordelikheid is dan om ons lewe te suiwer van die afgode van die tyd en om ons geheel en al aan God toe te wy.

* Mag die Here ons die krag gee om met volle oorgawe, met alles wat ons is en het, 2008 deur te gaan na 2009! Mag jy in jou gemeente en kerk, in jou huis,skool en werk, mag jy in jou dorp en land, God Drie-Enig dien en eer. Mag jou lewe die gedenkteken wees van God se grootheid en genade, deur voorspoed en rampspoed.


Groete in Jesus Christus


Joop van Schaik

2008/12/08

Oordenking: Josua 23

Liewe Broeder en Suster, my verlof het aangebreek, maar ek wil graag die boek Josua saam met u klaar deurwerk. Vandag werk Josua 23 met ons en op ‘n ander dag die laaste hoofstuk, Josua 24.

Josua 23

v.1.. Die Here het rus van alle kante aan Israel gegee, Josua was al baie oud. Josua het die hele Israel opgeroep, die leiers, die hoofde, die regters en die ampsdraers.

v.3.. Josua het aan hulle gesê: Julle het gesien wat die Here julle God alles aan die ander nasies gedoen het twv julle. Dit is Hy, die Here julle God wat die oorlog vir julle voer. Baie plekke is verower en het die eiendom van die stamme geword.

v.5.. Wat die Here belowe het, het Hy gedoen.

v.6.. Julle moet sterk staan in die uitvoering van alles wat geskryf staan in die wetboek van Moses, moenie daarvan links of regs afwyk nie. So sal julle nie die nasies wat nog tussen julle woon, se gode aanroep en in hulle naam ‘n eed aflê nie. Julle moet aan die Here julle God getrou bly.

v.10.. 1 van julle jaag ‘n 1000 op loop, want dit is die Here julle God wat die oorlog vir julle voer. Lê julle daarop toe om die Here julle God lief te hê.

v.12.. As julle egter ‘n ander pad loop en julle verbind aan die ander nasies wat tussen julle bly, met hulle vermeng en trou, dan sal die Here nie die nasies verdryf nie. Hulle sal vir julle strikke en wippe stel. Hulle sal julle ondergang wees.

v.14.. Josua sê dat hy self op die pad gaan van elke mens hier op aarde, hy gaan sterf. Julle weet met julle hele hart en siel, dat nie een van al die goeie beloftes wat die Here julle God oor julle gemaak het, onvervuld gebly het nie. Almal het gerealiseer.

v.15.. Aan die ander kant, net so sal die Here ook Sy woord hou, as hulle Sy verbondsverpligtings nie nakom nie deur voor ander gode te buig en hulle te dien, dan sy toorn/woede teen hulle ontvlam en sal hulle gou uit die goeie land verdryf word.

* Josua kyk terug na ‘n ryk en vol lewe. Hy het baie dinge beleef en veral God se genade ontvang. Hy was inderdaad ‘n dienskneg vd Here. Wat die mooiste was vir Josua, is dat die Here Sy Woord hou.

*Josua het al die leiers en die hele Israel bymekaar geroep en hulle gewys op Nb dinge. Die een is dat God die oorlog gevoer het en Israel het baie plekke ontvang. Die tweede is dat God Sy beloftes nakom. Die derde is: net soos die Here seën gee op gehoorsaamheid en dankbaarheid, net so sal hy ongehoorsaamheid en aanbidding van afgode, baie erg straf.

* Geliefdes, ons kan ook terug kyk na ‘n ryk en vol jaar. Jy sal ook kan getuig dat God Sy Woord en beloftes nakom. Dit gee soveel rede vir jou om vol te hou om op God se pad te bly. Leer God elke dag meer en meer ken en hou by Sy verbondsbepalings. Moenie afdraai paadjies vat nie, moenie dink jy kan God deel of vervang met iets of iemand anders wat na jou mening ook goddelik is nie. Dit kan nie en mag nie. So gou soos nou sal God die mat onder jou uitruk en jy sal wegkwyn van godverlatenheid. Mag God ons daarvan bewaar.

* Die mooiste belofte wat die Here gemaak het, is dat Hy Sy Seun sou gestuur het en Hom wel gestuur. Ons is nou in die “Kersgety”. Kom ons wees versigtig om nie die punt te mis nie. Kom ons loof die Here, Prys Sy Naam en dien Hom met ons hele hart, siel, verstand en met al ons krag.

* Mag die Here jou hartseer sagter maak, mag die Here jou spanning verlig, mag die Here jou bekommernisse oplos, mag die Here jou optel uit die nood, mag jy vreugde en vrede ontvang, mag die liefde in jou lewe blom, mag die Here jou seën en naby wees.


Baie groete

Joop van Schaik.

2008/11/26

Oordenking: Josua 22:9-34

Geliefde, konflik en misverstand is nou eenmaal deel van ons lewe. Hoe moet ons dit hanteer? Kom ons kyk hoe dit in Josua 22 hanteer word.

Josua 22:9-34

v.9.. Die stamme Ruben, Gad en die halwe Manassestam is vd res van Israel in Kanaän weg na hulle eie gebied oorkant die Jordaan, Gilead. Toe hulle daar by Gelilot aan die Jordaan se kant in Kanaän kom, bou hulle ‘n baie groot indrukwekkende altaar.

v.11 Toe die res van Israel het dit gehoor, was hulle baie ontsteld. Hulle het ‘n volksvergadering gehou en gereed gemaak vir oorlog teen die 2 en ‘n half stamme. Hulle het vir Pinehas, seun van priester Eleasar na 2enhalf gestuur. Saam met Pinehas was daar 10 volksleiers, 1 van elke stam (9enhalf).

v.16.. Die boodskap was: Hoe kon julle so ‘n daad van ontrou begaan teen die God van Israel? Dis verset en sonde teen God. Môre breek Sy toorn los teen die hele Israel. Kom eerder terug na ons, as om nog ‘n ander altaar te bou bo en behalwe die altaar vd Here ons God. Hulle dink ook terug aan wat Akan seun van Serag gedoen het in die verlede. Toe het die toorn vd Here losgebreek teen Israel. Dit kan nou weer gebeur!

v.21.. Die mense vd 2enhalwe stam sê toe: Nee! Net die Here is God, Hy alleen. Ons het nie die altaar gebou om in verset te kom nie. Hulle verskoning was dat hulle bekommerd was dat die ander 9enhalwe stamme hulle sal wegwys en verhinder om die Here te dien, dat daar gesê sal word: julle het nie deel in die Here nie.

v.28.. Ons het die altaar nie gebou om daarop te offer nie, maar dat dit vir die nageslag sal dien as ‘n model van ‘n altaar, en dat die altaar as getuie sal dien tussen ons en julle. Ons dink glad nie om in verset teen die Here te kom nie.

v.30.. Pinehas en die leiers het die rede aanvaar en het ook gesê: ons weet nou die Here is by julle en julle was nie ontrou aan Hom nie. Pinehas en die leiers is terug na Israel en het gaan verslag doen. Die Israeliete was tevrede en het God geprys.

v.34.. Die mense van 2enhalf, het die altaar ‘n naam gegee: “Hy is die getuie tussen ons dat die Here God is.”

* Ons sien dat hier nou eintlik twee groepe gevorm word binne die 12 stamme van Israel. Die twee groepe voel bedreig deur mekaar. Daar is ook wantroue onderling. Dit blyk egter dat beide die groepe wel die Here wil aanbid.

* Wat mooi is, is om te sien dat daar nie net sonder enige kommunikasie oorlog gemaak is nie. Die ongelukkige groep het ‘n priester segsman en 10 ander leiers gestuur na die ouens teen wie hulle dit het. ‘n Ontmoeting het plaasgevind en die ding is uitgepraat. Die konflik is uit uitgeklaar en as misverstand verklaar. Albei dien die Here.

* Jy moet ook ‘n les hieruit leer. Moenie net aanvaar dat dit wat jy dink iemand anders doen of sê, werklik so is nie. Gaan maak seker wat aangaan. Praat tog net met mekaar. Jy sal dalk eerder stilbly en dan broei die ding hier in jou hart. Wat later uitbroei, gaan nie mooi wees nie. Doen moeite en beskou dit as baie belangrik om die probleem, konflik of misverstand uit te klaar.

* Binne ‘n groot groep moet dit ook geld. Dit kan wees in ‘n familiekring, vriendekring, werkkring, kerk en orals...

* Wanneer jy weet dat jy met ‘n medegelowige te doen het, moet jy juis moeite doen. Probeer ook eers met die ongelowige te praat, al weet jy dat julle nie eintlik dieselfde fondament het nie. Dalk raak jy die ongelowige aan vir die Here. Dink veral ook aan Matt.18:15-17.

* Die naam vd altaar is so mooi: “Hy is die getuie tussen ons dat die Here God is”. Laat jou verhouding met jou geliefdes en ander mense so ‘n altaar wees. Laat jou manier van doen ‘n getuienis wees van wie en wat God Drie-Enig is. So is jy ‘n evangelis van formaat.


Baie sterkte vir die laaste deel van Novembermaand.


Groete. Seën word u/jou toegebid.


Joop van Schaik

2008/11/21

Oordenking: Josua 22:1-8

Geliefde in Christus, jammer dat ek nou eers weer aan die skryf kom. Ek het die voorreg gehad om die Oostelike Streek-Sinode by te woon. Dis die gebied vanaf Germiston tot in Komatipoort en Pongola. Ons het die mees vredevolle Sinode sitting gehad en ervaar. Daar was geen besware en netelige sake om te hanteer nie. Die hoogtepunt was die ondervraging van ‘n teologiese student en sy beroepbaarstelling. Ook het ons besluit om die Tans Oranje Instituut vir spesiale onderwys meer bekend te stel in die koerante en in ons gemeente. Ons sal graag ons vredevolle en baie goeie gesindheid onder mekaar na die Algemene Sinode van die GKSA neem. Mag die Here DV daardie vergadering seën.

So van seën gepraat, dis wat gedoen word deur Josua tot die Stamme Ruben, Gad en Mannasse.


Josua 22:1-8

v.1.. Josua het die stamme Ruben, Gad en die een helfte vd Manassestam geroep en vir hulle gesê: Julle het alles gehoorsaam gedoen wat Moses die dienaar vd Here julle beveel het.

v.3.. Julle het die hele tyd nie julle broers in die steek gelaat nie en gedoen wat die Here beveel het. Nou het julle broers ‘n woonplek. Gaan julle nou na julle eie woonplekke, die deel oorkant die Jordaan.

v.5.. Sorg net dat julle die gebod van die Here getrou onderhou, nl. Om die Here julle God lief te hê en volgens sy wil te lewe, sy gebooie te gehoorsaam, aan Hom getrou te bly en Hom met julle hele hart en siel te dien.

v.6.. Josua het hulle met ‘n seënwens laat gaan na hulle woonplekke toe.

v.8.. Gaan terug na julle woonplekke met groot rykdom, groot troppe vee, silver, goud....

* Net voordat Israel deur die Jordaan sou gaan, het die stamme gesê dat hulle die gebied daar duskant van die Jordaan as woongebied wil hê. Dis so goedgekeur, met die voorwaarde dat hulle eers saam sal gaan en in alle gevegte saam sal veg totdat al die stamme hulle grondgebied kon kry. Hulle het hulle woord gehou en nou kan hulle teruggaan. (Num.32 en 34:14)

* Nou is dit so mooi dat hulle met ‘n seën weggestuur word.

* Baie belangrik, hier aan die einde van die lang pad, voordat ‘n nuwe wonderlike tyd aanbreek, word hulle eers weer herinner aan God se liefde en gebod, hulle liefde vir God en hoe hulle Sy gebooie moet gehoorsaam met hart en siel.

* Dan kom die wegstuur met ‘n seën. Inderdaad is hulle ook geseënd, want hulle kon met rykdom, vee, edelmetale... terug keer en ‘n goeie lewe gaan leef.

* Wanneer mens so aan die einde van ‘n jaar kom, wanneer jy ‘n taak baie getrou afgehandel het, dan is dit lekker om mekaar te bedank en mekaar seën toe te wens. Die seën behels dat dit met jou goed mag gaan, maar die belangrikste is dat jy geestelike seën kan bly ontvang, dat jou verhouding met God kan verdiep en groei. Om die rede word jy ook vandag weer met die teksgedeelte geleer dat die Here gevolg moet word en dat jy elke oomblik moet lewe volgens Sy wil.

* Dit is ook my begeerte vir jou, mag jy deur die Here vasgehou word en mag jy geseën word deur die Here. Mag jy geestelike seëninge in oovloed kry en mag jy genoeg ontvang om van te lewe en om God te dien met jou hart en siel. Bly net asb. op die Here se pad.

Groete en seën.

Joop van Schaik

2008/11/17

Oordenking: Josua 21

Liewe Broeders en Suster, vandag leer ons dat die kerk oraloor onder ons moet wees en instand gehou moet word, en dat God Sy belofte nakom. Hy doen en gee wat Hy sê en belowe.


Josua 21

v.1.. Die familiehoofde vd Leviete het na die priester Eleasar en na Josua en na die familiehoofde vd Israelitiese stamme gekom en gesê: “Die Here het deur Moses beveel dat ons stede moet kry om in te woon en weiveld vir ons vee.”

v.3.. Die Israeliete het toe die bevel vd Here uitgevoer en vir die Leviete woongebiede en weivelde gegee.

v.4.. Daar is vir die Kehatgroep geloot vir stede en weivelde..

v.6.. Vir die Gersongroep is daar ook stede geloot...

v.7.. Vir die Merarigroep is daar ook stede geloot...

v.41.. Die Leviete het altesaam 48 stede met weivelde in die woongebied van die Israeliete gehad.

v.43.. Die Here het aan Israel die hele land gegee wat Hy met ‘n eed aan hulle voorvaders beloof het. Die Here het hulle na alle kante toe rus gegee soos Hy aan die voorvaders beloof het. Die Here het al hulle vyande in hulle mag oorgegee.

v.45.. Nie een van al die goeie beloftes wat die Here aan Israel gemaak het, het onvervul gebly nie. Almal is nagekom.

* Soos die Here beveel en belowe het, het dinge gebeur.

* Die Here het beveel dat die Leviete regoor die hele lande stede moet kry, tesame met weivelde. Die Leviete het dus wel eiendom gekry, maar nie soos die ander 11 stamme in ‘n eie streek nie.

* Die Leviete verteenwoordig die teenwoordigheid van die Here oral oor. ‘n Land kan nie sonder die Here se werk deur die Leviete voortgaan nie. Die Here moet oral en altyd betrokke wees en daar moet altyd eers gevra word wat die Here se wil is. Die Leviete het dus ‘n woonplek gekry, kon ook hulle diere versorg, en is verder gevoed deur die 10des van offerandes van verskillende aard. Wat aan die Here geoffer is, is gegee aan die diensknegte.

* Vandag kan mens dankbaar wees dat daar in ons land en sekere wêrelddele Christelike Kerke is. Die Here moet altyd geken en gevolg word. Die versorging van die dienaars en die instandhouding van die kerk is verseker baie belangrik.

* Ongelukkig loop mens jou dikwels vas teen die ondankbaarheid van baie ‘gelowiges’ wat nie hul dankoffers aan die Here gee nie. Dit beteken ook dat ons landwyd en wêreldwyd gemeentes en hulle diensknegte het wat nie eervol versorg word nie. Dink net wat kan die Here deur gemeentes, kerkrade en diensknegte doen as die 10des werklik teruggegee word aan die Here. Wat die Here op die manier toekom, word gegee vir die diensknegte. Ek is seker dat daar meer as dubbel soveel predikante en pastore sal wees wat die veld ingestoot kan word om die Koninkrykswerk te lei. Gelowiges sal op die manier ook baie meer gereeld besoek kan word en in kleiner liefdevolle groepe gemobiliseer kan word. Askuus, nou raak ek in vervoering.... Maar soos daar geskryf is in Luk.10:2 “Hy het vir hulle gesê: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.”(NAV) Kom ons bid dat die Here meer arbeiders sal roep en dat Hy jou en my sal aanspoor om die 10des te offer sodat die werk wat gedoen word, kan verdubbel...

* Wat die Here belowe, dit doen Hy! Hou hieraan vas. Jy beleef baie voorspoed en rampspoed. Jy dink dalk die Here het jou al lankal vergeet, dis nie waar nie, Hy werk met jou. Die Here buig jou en vorm jou. Beroep jou op God se beloftes, nie op aardes luukses nie. God het Israel belowe dat Hy hulle die land sal gee om in te lewe. Ongelukkig het hulle dit weer opgemors. Jy het die belofte dat Jesus Christus jou Verlosser is, dat Hy jou sondes wegneem, dat Hy jou weer ‘n 2de kans gee, dalk ‘n 100ste kans gee. Benut die kans. As jy nalatig is in jou gelooflewe, as jy jaag na prestasie, erkenning en rykdom, as jy vasgevang is in die nek van die bottel of ander verslawende middele, as jy ’n kort humeur het, as jy vloek.... So kan ons baie dinge opnoem. Laat jou lei deur die Heilige Gees en wend jou tot ons Hemelse Vader, smeek in die naam van Jesus Christus om vergifnis en verlossing en reiniging van jou sondes. As jy opreg is hiermee, het jy verlossing gekry. Wys dan met jou lewe dat jy ’n kind van God is en hou koers agter Jesus aan.

* Doen jou deel om God se gemeente te onderhou met jou dankoffers. Beroep jou op God se beloftes, Hy doen wat Hy belowe.

Baie sterkte en ek bid u/jou die seën van die Here God toe.

Joop van Schaik

2008/11/13

Oordenking: Josua 20 - "Asiel"

Liewe Broeder en Suster. Vandag gaan oor “asiel”.

Josua 20

v.1.. Die Here het vir Josua aangesê dat hy asielstede moet afstaan soos wat Hy destyds aan Moses beveel het. Die funksie van ‘n asielstad, is dat iemand wat onopsetlik en sonder voorbedagte rade die dood van ‘n ander veroorsaak het, na die stad kan vlug om sodoende die wraak van ‘n bloedverwant van die oorledene te ontkom.
v.4.. Die prosedure is as volg: wanneer ‘n vlugteling by die ingang vd stadspoort kom, stel hy sy saak by die leiers vd stad. As dinge volg die ouens reg is, dan neem hulle hom op in die stad en gee vir hom/haar ‘n woonplek. As daar dan persone wat hom agtervolg daar aankom, sal die leiers hom nie oorgee in hulle hande nie. (As die familie die man/vrou sou vang voordat hy/sy by die asielstad uitkom, kon hulle hom volgens die reg net daar doodmaak)
v.6.. Dit werk verder dan so: die vlugteling verskyn by die bevoegde vergadering en die hoëpriester van daardie tyd moes eers sterf. Daarna kan die een wat iemand se dood onskuldig veroorsaak het, weer vry teruggaan huis toe. Dit kan nogal lank vat, daarom die noodsaak van ‘n asielstad.
v.7.. ‘n paar stede is toegewys as asielstede.

* Sjoe, dis nou nogal ‘n wonderlike ding wat hier ingestel is. Mens hoor so nou en dan op die nuus van asielsoekers. Nou verstaan mens beter wat ‘n “aansoek om asiel”, beteken. Ook vandag kan iemand wat bang is dat sy lewe geneem kan word, of dat hy nie ‘n regverdige verhoor gaan kry nie, aansoek om asiel doen by ‘n ander land. Miskien kan die regsouens onder ons bevestig of dit ook is wat dit vandag beteken.
* Ons leer hier dat ons moet erken dat jy of iemand ‘n onopsetlike sonde kan pleeg, of ‘n sonde sonder vooraf bedagte rade kan doen. Jy en ek is dikwels hieraan skuldig, sommer aan baie klein goedjies. Jy het dit nie so bedoel nie, maar tog het dit gebeur. Jy voel skuldig, jy is skuldig en wat nou?
* Ons het vandag die regstelsel wat beoordeel oor wat reg en verkeerd is en wat wel opsetlik gepleeg is, of wat onopsetlik gepleeg is of gebeur het of nie. Terwyl die saak aan die gang is, kan die persoon vrygelaat word op borgtog (ook ‘n tipe asiel).
* Wat ek hieruit leer, is dat daar wel dinge teen my gedoen was en gedoen word, wat nie opsetlik is nie. Die seun of meisie, man of vrou, het iets gesê of gedoen, maar hy of sy het nie naastenby besef wat die gevolg daarvan gaan wees nie. Party dinge gebeur ook net per ongeluk. Dis hoekom mens dit ‘n ongeluk noem. Die asiel gedagte is daarom dat jy nou dadelik moet besef dat jy hierdie onopsetlike dinge wat gebeur, baie meer versigtig moet hanteer. As jy bv. per ongeluk die oorsaak was dat jou broer of vriend seerkry of selfs ‘n ledemaat verloor, dan is daar genade vir jou. Jy moet ook genade aan die een bewys wat dit dalk met jou gedoen het of met jou laat gebeur het. Benader dinge dus baie anders.
* Wat vir jou baie beteken, is dat jy asiel deur Jesus Chrisus by die Vader kry. Boonop kry jy nie net asiel vir wat jy onopsetlik gesondig het nie, maar ook vir die dinge wat jy opsetlik gesondig het. Jesus Christus tree vir jou in by die Vader. Hy het klaar die straf gedra en keer die straf wat die Vader moet gee, af. Jesus is jou Middelaar en jou Verlosser. Jy het asiel in die hemel en jou plek is klaar vir jou toegeken, dis vas en seker klaar jou erfenis (1Pt.1).
* Wat leer ons dus: Wees baie geduldiger met dit wat teen jou gebeur. Stel eers vas of iets opsetlik was of dalk onopsetlik. Wanneer iemand sy opsetlike sonde teen jou bely, vergewe hom/haar, al moet die regbank sy gang gaan. Nog meer moet jy bereid wees om iemand wat onopsetlik teen jou gesondig het, te vergewe, al is dit ook die oorsaak van die dood van ‘n geliefde. Jy en ek kry asiel, beskerming en vergifnis deur Christus by die Vader. Glo dit deur die werking van die Heilige Gees.

* Mag jy ‘n geseënde tyd van verligting en bevryding kry en gee. Vra asiel en gee asiel.


Joop van Schaik.

2008/11/12

Oordenking: Josua 19

Liewe Broeders en Susters. As jy wil regverdig wees, moet dit nie net sê nie, doen dit so.


Josua 19

v.1..9 Die 2de loting was vir die families van die stam Simeon. Hulle eiendom was binne-in dié van die gebied van die stam van Juda. Hulle het die gebied gedeel omdat dit te groot was vir die stam van Juda.

v.10..16 Die 3de loting was vir die families in die stam Sebulon. Die gebied tot by Sarid.

v.17..23 Die 4de loting was vir die families in die stam Issaskar.

v.23..31 Die 5de loting was vir die families in die stam Aser.

v.32..39 Die 6de loting was vir die families in die stam Naftali.

v.40.. Vir die families in die stam Dan, is 7de geloot.

v.47.. Die stam Dan het sy gebied verloor en het toe vir Lesem aangeval en verower en daar gaan woon. Lesem se naam is toe verander na Dan.

v.49.. Nadat die Israeliete die land in sy onderskeie gebiede aan die stamme toegewys het, het Josua aan die beurt gekom. Die Israeliete het die toewysing gemaak en Josua het ‘n eiendom tussen die van hulle ontvang. Op bevel vd Here het hulle hom die stad gegee wat hy gevra het. Dit was Timnat-Serag in die Efraïmsberge. Hy het die stad herbou en daar gaan woon.

v.51.. Hier word afgesluit deur weer te sê dat die verdeling en toekenning deur loting in Silo in die teenwoordigheid van die Here, by die ingang van die tent van ontmoeting, plaasgevind het.

*Hierdie tema van die verdeling van die land, hou ons al ‘n paar dae besig. Hier kom later nog dinge oor die asielstede en die Leviete wat iets tussen almal kry.

* Gister het ons na die beginsel van samewerking tot ‘n regverdige bestel of verdeling gekyk. Vandag se hoofstuk voer dit uit. Ons sien dat daarby gehou is. Op ‘n stadium kan jy dalk kyk wat van elke stam se gebied gesê word. Ds. Willem Vogel het een keer hier by ons kom preek oor die stam Sebulon en hulle grondgebied. Dit was nou regtig insiggewend.

* Ons sien ook dat Josua sy beurt gekry het. Die leier was laaste aan die beurt, maar tog het hy sy regmatige deel gekry. Wat mooi is, is dat die Here deur die Israeliete die uitdeel proses omgedraai het. Eers was Josua die ou wat die leiding geneem het en ander het ontvang, en toe deel die Israeliete uit en Josua ontvang. Die belofte aan Kaleb en Josua is dus nou volledig uitgevoer, al was Kaleb eerste aan die beurt en Josua laaste.

* Almal het dus nou ‘n beurt gekry. Die groot ding is nou net wat maak jy met wat jy ontvang?

* Wat ook beklemtoon word, is dat die hele proses in die teenwoordigheid van die Here plaasgevind het, van die begin tot die einde.

* Wat maak jy met wat jy van die Here ontvang? Is dit vanselfsprekend of ‘n gawe?

* Ken jy die Here in alles, ek bedoel alles? So gaan jy met genade geworstel kry deur die beproewinge en versoekings. So gaan jy ook in tyd van vreugde nie vergeet van die Here nie.


* Ons moet net weer beklemtoon dat gebed en Bybellees een van die belangrikste items op jou dag se agenda moet wees.


Mag u/jy geseënd wees en ‘n seën wees.


Joop van Schaik