2009/06/19

Stap vir stap

Ek wil 2 Kron 34 met u deel:

  • Josia het op 8 jarige ouderdom koning geword en hy het 31jr geregeer.
  • Op 16 het hy begin om die Here te dien.
  • Op 20 het hy begin om die Juda en Jerusalem te suiwer van al die afgode.
  • Op 24 het hy sy hoofuitvoerende beampte gestuur om die huis van die Here te herstel.
Vir ons is dit lang jare wat verbygegaand het voordat hy alles gedoen het wat hy moes, maar die feit is dat hy dit gedoen het. Die Here het ‘n tyd vir alles.

Kyk net na die ouderdoms intervalle, baie interessant! 8,16,20,24. Dit lyk vir my of die Here iets daarmee wil sê, ‘n jong mens vorder stap vir stap in dit wat die Here wil hê hy moet doen.

Mag ons ook groei en vorder op die manier. Kom ons bid vir ons jongmense sodat hulle sal besef hoe belangrik die Here is en dat hulle ook die geloofslewe en die kerklike lewe en verhouding met die Here moet koester.

Kom ons bid vir onsself, sodat ons kan groei en dien met die Vrug van die Gees.

Baie sterkte en seën.

Joop

2009/06/17

Berou en genade

Liewe Broeders en Susters

Iets wat my pas weer aangegryp het, is die wonderlike en grote genade van God deur Jesus Christus vir my en jou as mense.

In 2 Kron. 33 lees ons hoe erg koning Manasse, seun van wyle koning Hiskia, verkeerd gedoen het teen die Here. Manasse het afgodstempels (v.3) gebou en geoffer aan die afgode. Hy het sy eie seuns verbrand! Hy het hom besig gehou met goëlery, waarsêery, en toordery, hy het meegedoen aan die oproep en raadpleging van geeste (v.6). God haat dit en dis gruwelik in Sy oë.

Die Here het Manasse in die hande van die Assiriese koning laat val, met kettings en hake deur sy neus (v.11). Daar in die gat van die lewe, het hy besef dat hy genade by die Here moet kry. Manasse het berou getoon en gebid. Die Here was hom genadig en het hom weer terug laat gaan na Jerusalem en hy was weer koning daar (v.12,13)

Geliefdes, my en jou sondes, sondes van geliefdes, ouers en kinders, vreemdelinge en vyande is baie baie groot. Maar hoor wat die Here hier openbaar: besef dat jy in ‘n gat is, vasgevang in die kettings van die sonde en Satan. Die Heilige Gees laat ons ook opstaan uit die gutter van die lewe, smeek om genade en toon berou voor God.

Gryp vas wat Jesus Christus met sy kruisdood en opstanding vir jou en ander gedoen het, en kyk wat gebeur!

So gee die Here weer aan jou sy liefde en genade, soos vorm die Here jou soos wat Hy jou wil laat wees. Glo, bely, gryp vas deur die inwerking en uitwerking van die Gees en ontvang vrede en verlossing.

Versprei die wonderlike boodskap met jou mond en met jou hart.

Mag jy ‘n wonderlike dag verder ontvang.


Groete en seën vir jou.

Joop van Schaik

2009/06/12

Woorde van geloof en versterking

Geliefdes in Christus, hoor die woorde van Geloof en versterking:

2 Kon. 6:16: Hy het geantwoord: “Moenie bang wees nie, dié wat by ons is, is meer as wat hulle is.” 2 Kron. 32:7. Hiskia sê dit vir sy amptenare en die volk tydens die oorlog met Sanherib. By ons is meer is meer as by hom. By hom is ‘n menslike mag, maar by ons is die Here ons God wat ons sal help en ons oorlog sal veg.

Is dit nie wonderlik om dit te hoor nie! Ek wil jou nuuskierig maak oor wat daar gebeur en wat nou met jou en ons gebeur. Gaan lees dit asb.

Ek bid dat die Heilige Gees jou sal vul met sy inwerking en uitwerking.

Joop van Schaik

2009/04/17

Preke

Liewe Broeders en Susters in Christus,

Ons het voor die vakansie laas gekommunikeer. Dis heerlik om weer die kuberruimte te betree en die evangelie so te versprei en om bande verder te versterk.

Van u het my bekommerd gevra waar is die preke wat ek met e-pos aanstuur want julle gebruik dit en stuur dit aan aan ander gelowiges. Ek het so ‘n brief van vriende en medegelowiges gekry uit Swaziland. Baie van u gee dit ook aan mense wat nie meer in die kerk kan kom nie. Baie van u hou daarvan om na die sondag dit weer te lees sodat daar darem meer as 5% onthou kan word.

Hier is ook 'n skakel na die preke op ons webwerf: Gaan na ons webwerf en kyk by die Aflaai-Area.

Baie groete en sterkte en mag jy seën ontvang en ‘n seën wees.

Joop van Schaik

2009/03/06

Erediens

’n Erediens is ’n samekoms van gelowiges en die middelpunt is God Drie-Ening wat aan die woord kom met Sy Woord/Bybel deur die kragtige werking van die Heilige Gees. Kom ons bid dat elke Christen meer en meer die behoefte het om getrou na sy kerk te gaan.

Jy is deel van die liggaam van Christus en jy het ’n doel en taak in die gemeente. Maar alles begin in jou binnekamer waar jy gereeld op jou Vader se skoot moet sit. Dan gaan dit verder deurdat jy saam met medegelowiges aansit om van God se Woord te eet.

Bid asb. vir mekaar en bid ook asb vir my. Ek is maar net ’n krom stok wat in die Here se hand ’n reguit hou moet slaan.

Baie groete en seën.

Joop van Schaik

2009/01/30

Byt vas by die werk en in die lewe

Ek lees nou net van Elia wat geroep is om Agab te konfronteer, dis in 1 Kon. 18. Onder die goddelose koning Agab en sy baie erger vrou Isebel, het Obadja gewerk. Obadja het die Here baie getrou gedien en ook sy werk as paleisopsigter (bestuurder) gedoen. Elia gee vir Obadja opdrag om vir Agab te sê dat Elia binnekort met Agab sal kom praat. Obadja vrees vir sy eie lewe. Tog bly die opdrag: gaan sê vir Elia ek kom sien hom vandag.

So staan jy ook in jou werk as getroue Christen en kind van die Here, dikwels ook onder druk en vrees. Tog moet jy jou werk getrou bly doen, maar jy moet onbevrees as Christen dit doen.

Die Here is in beheer en Hy sal jou help om vas te staan en Hy beskerm jou. Dien die Here met geloof en krag.

Joop van Schaik

2008/12/09

Oordenking: Josua 24

Josua gee sy afskeidsboodskap: My familie sal die Here dien. Die vraag is net: wie gaan julle dien, vir die afgode of vir God?

Josua 24

v.1.. Josua het weer al die stamme van Israel in Sigem bymekaargeroep. Hy het die leiers, die hoofde, die regters en die ampsdraers geroep en hulle het hulle plekke ingeneem in die teenwoordigheid van God. Josua het die volk namens die Here toegespreek:

v.2.. Lank gelede het julle voorvaders, dis nou o.a. Tera die pa van Abraham en Nahor, anderkant die Eufraat gewoon en hulle het ander gode gedien. Tog het die Here Abraham en almal anderkant die Eufraat geneem en die hele Kanaän laat deurgaan. Die Here het ‘n groot nageslag gegee, dis nou deur Isak en Jakob. Jakob is op ‘n stadium na Egipte toe weggevoer.

v.5.. Die Here het vir Moses en Aäron gestuur om Egipte met baie rampe te tref. Daarna het die Here die volk uit Egipte gelei deur die Rietsee. Die Egiptenaars is getref met die dood. Daarna het Israel lank in die woestyn rondgetrek.

v.8.. Daarna het die Here Israel na die land vd Ammoriete gebring oos vd Jordaan. Die Here het hulle in Israel se mag oorgegee.

v.11.. Israel het deur die Jordaan getrek en by Jerigo uitgekom. Al die mense van Jerigo is in die mag van Israel oorgegee. Die Here het aan Israel ‘n land gegee wat hulle nie bewerk het nie en stede wat hulle nie gebou het nie.

v.14.. Betoon nou eerbied aan die Here en dien Hom met opregtheid en met trou. Sien af vd gode wat julle dien. As julle dit nie wil doen nie, kies dan vandag wie julle wil dien, die gode van die voorvaders of die gode van die Amoriete. WAT MY EN MY FAMILIE BETREF, ONS SAL DIE HERE DIEN.

v.16.. Die volk het geantwoord: Ons dink glad nie daaraan om die Here te verlaat en ander gode te dien nie. Die Here het ons gered. Ook ons sal die Here dien. Hy is ons God.

v.19.. Maar Josua het gesê: Julle kan nie die Here dien nie. Hy eis onverdeelde trou. As julle die Here verlaat, sal Hy teen julle draai en ‘n einde aan julle maak. Die volk sê weer:, nee, ons sal die Here dien!

v.23.. Josua: verwyder dan die gode onder julle uit. Die volk: Ons sal die Here ons God dien, ons sal na Hom luister. Daardie dag het Josua ‘n verbond gesluit en daar in Sigem vir hulle voorskrifte en bepalings vasgelê. Hy het die dinge in die wetboek van God opgeskryf, ‘n groot klip gevat en dit by die heiligdom vd Here regop gesit. Die klip sal ‘n getuie teen die volk wees as hulle wel oortree en God bedrieg. Hierna is die volk weer elkeen na sy eie plek.

v.29.. Hierna het Josua die dienaar vd Here gesterf op 110 jarige ouderdom. Hy begrawe in die gebied wat aan hom as besitting gegee is.

v.31.. Israel het die Here bly dien tydens die lewe van Josua en tydens die lewe vd leiers wat vir Josua oorleef het en alles ervaar het wat die Here vir Israel gedoen het. Josef se liggaam is ook herbegrawe in Sigem. Ook Eleasar die seun van Aäron is oorlede en begrawe.


*Wat tref, is dat die volk en sy voorgangers in die teenwoordigheid van die Here vergader. Die Here is self teenwoordig en Hy is getuie. Almal word tot rekenskap opgeroep.

* So moet jy en ek ook rekenskap gee aan God Almagtig. Dit sou wonderlik gewees het as alle Christen gelowiges hier op aarde, op een slag bymekaar kon kom. Dis nou van alle Christelike Kerke en almal wat die Enige Ware God, Vader, Seun en Heilige Gees, aanbid. Ongelukkig is dit nie hier op aarde moontlik nie, nie voor die wederkoms van Jesus Christus nie. Tog is God Alomteenwoordig en Hy woon deur Sy Heilige Gees in ons harte. Wanneer ons as gelowiges in eredienste bymekaarkom, dan ervaar ons in die kleine hoe dit sal wees as alle gelowiges bymekaar sal wees.

*Goed, die punt is, ons word in 2008 –-> 2009 ook opgeroep om rekenskap te gee van waar ons met God staan. Hoe het jy en ek die Here gedien? Het ons God nie dalk ook met afgode gedeel of vervang nie? ‘n Afgod is mos iets wat ons in die plek van God of naas/langs God stel. Ons moet oppas om vinger te wys na ander mense wat sg. so goddeloos is. Ek en jy kan met eiewilligheid net so godeloos leef en optree. Die eie ek is teenoor God gewoonlik die grootste afgod. Die wêreldse dinge, die menslike dinge is dikwels ook ‘n groot bedreiging.

* Geliefde, wie dien jy en wie gaan jy dien? Soos Josua wil ek graag verklaar: Ek, ek en my familie, ons sal die Here dien. Ek glo ook dat jy/u dieselfde wil verklaar: Ons, ons sal die Here en net Hom alleen dien!

* Jou en my verantwoordelikheid is dan om ons lewe te suiwer van die afgode van die tyd en om ons geheel en al aan God toe te wy.

* Mag die Here ons die krag gee om met volle oorgawe, met alles wat ons is en het, 2008 deur te gaan na 2009! Mag jy in jou gemeente en kerk, in jou huis,skool en werk, mag jy in jou dorp en land, God Drie-Enig dien en eer. Mag jou lewe die gedenkteken wees van God se grootheid en genade, deur voorspoed en rampspoed.


Groete in Jesus Christus


Joop van Schaik