2008/09/25

Oordenking: Deut 33

Broeders en Susters, ons is nou byna klaar met die boek Deuteronomium. Dis baie baie insiggewend wat die Here ons als leer. Dis lekker en wonderlik om woord vir woord van die Bybel deur te gaan.

Deut.33
v.1.. Moses, die man van God, het die Israeliete voor sy dood met die volgende woorde geseën:.. Die Here kom van Sinai af.... (Die hele hoofstuk is die inhoud vd seën).
v.3.. U Here, het u volk lief, al die heiliges is in u hand. Hulle sit aan u voete, elkeen luister na u woorde...
v.6.. Ruben moet lewe... v.7.. oor Juda – maak hom sterk...
v.8.. oor Levi – U tummin en urim is toevertrou aan u troue dienaar... hulle onderrig die volk in die wet en bepalings... hulle bring wierookoffers en brandoffers op die altaar...
v.12.. oor Benjamin – wie deur die Here bemin word, is veilig by Hom...
v.13.. oor Josef – Mag sy land deur die Here geseën word, net die beste uit die hemel... Mag die 10 000de van Efraim en ook die 1000de van Manasse ook so geseën wees.
v.18.. oor Sebulon – jy moet bly wees as jy op pad gaan...
... oor Issaskar - jy moet bly wees as jy by die huis bly. Hulle geniet die oorvloed uit die see, die skatte wat deur die sand bedek word.
v.20.. oor Gad... Hy lê soos ‘n leeu, sterkes en leiers is sy prooi. Gad het die beste vir hom uitgekies, die uitsoekdeel...
v.22.. oor Dan .. is ‘n jong leeu, hy bespring sy prooi.
v.23.. oor Naftali.. hy geniet baie guns, word ryklik geseën...
v.24.. oor Aser.. hy is meer geseënd as die ander seuns... hy sal sy voete met olie was...
v.26.. Jesurun (Israel), daar is niemand soos God nie, Hy ry deur die hemel om jou te kom help, in Sy majesteit ry Hy op die wolke. Die ewige God is ‘n skuilplek, sy arms is altyd onder jou. Hy verdryf die vyand..
v.29.. Jy is ‘n volk wat deur die Here verlos is! Hy beskerm en help jou. Hy gee aan jou mag, jou vyande kruip voor jou....
* Dit was die gebruik dat net voordat iemand afsterf, veral as hy nou weet dat sy tyd naby is, om al die kinders bymekaar te roep en ‘n seën uit te spreek. Hier gebruik die Here vir Moses as ‘n tipe Vader van die volk Israel om elke stamgroep by die naam te noem en ‘n seën toe te wens-uit te spreek. Hulle het dit ook nodig gehad want daar moes nog baie groot dinge gebeur nadat hulle die Jordaan sou oorsteek.
* Nadat die 12 Stamme een vir een “ingeroep” is, beklemtoon Moses dat daar net een God is en dat Hy een volk gekies het. Net hierdie een God mag erken, aanbid en gedien word. Israel is die uitverkore volk omdat God so besluit het, nou moet hulle afhanklik wees van Hom en Hom alleen.
* Geliefde, ek en jy moet baie meer aan mekaar dink en vir mekaar bid. Ons moet baie meer die seën van die Here vir mekaar toebid, want ons het dit nodig. Ons is dikwels so besig om die strydbyle te slyp, dat ons skoon vergeet waarvoor ons hier is. Ons aandag word so opgeneem deur die ANC politieke speletjies, dat ons twyfel en vrees. Nee, kom ons hou vas aan die Enigste God wat daar is. Ek en jy en elke mens wat in God 3-1 glo, is nou die Israel. Ons het reeds baie dinge ontvang en die beste lê nog voor, die Jordaan moet nog oorgesteek word.
* Ek vra myself veral die afgelope tyd met die politieke verwikkelinge af: Waar is God in die politiek? Kom ons bid dat die Here die magsbehepte en soustreinryers tot stilstand sal dwing, dat Hy sal ingryp sodat ons land ‘n vrye, regverdige en veilige woonplek vir ons almal sal wees. Jou en my groot doelwit is om God se koninkryk hier plaaslik en in SA te laat kom.
* Geliefde, jy is klaar verlos deur Jesus Christus, lewe nou soos ‘n verloste, ontvang die seën van die Here en bid Sy seën vir mekaar toe. Ons bid ook dat die Vader ingryp en dat Hy Sy wil in SA sal laat geskied. God is die Enigste ware God en jy en ek is Sy kinders. Ontvang Jesus se vrede en wees ‘n seën.

Mooi dag,
Joop

No comments: