2008/09/25

Oordenking: Deut 33

Broeders en Susters, ons is nou byna klaar met die boek Deuteronomium. Dis baie baie insiggewend wat die Here ons als leer. Dis lekker en wonderlik om woord vir woord van die Bybel deur te gaan.

Deut.33
v.1.. Moses, die man van God, het die Israeliete voor sy dood met die volgende woorde geseën:.. Die Here kom van Sinai af.... (Die hele hoofstuk is die inhoud vd seën).
v.3.. U Here, het u volk lief, al die heiliges is in u hand. Hulle sit aan u voete, elkeen luister na u woorde...
v.6.. Ruben moet lewe... v.7.. oor Juda – maak hom sterk...
v.8.. oor Levi – U tummin en urim is toevertrou aan u troue dienaar... hulle onderrig die volk in die wet en bepalings... hulle bring wierookoffers en brandoffers op die altaar...
v.12.. oor Benjamin – wie deur die Here bemin word, is veilig by Hom...
v.13.. oor Josef – Mag sy land deur die Here geseën word, net die beste uit die hemel... Mag die 10 000de van Efraim en ook die 1000de van Manasse ook so geseën wees.
v.18.. oor Sebulon – jy moet bly wees as jy op pad gaan...
... oor Issaskar - jy moet bly wees as jy by die huis bly. Hulle geniet die oorvloed uit die see, die skatte wat deur die sand bedek word.
v.20.. oor Gad... Hy lê soos ‘n leeu, sterkes en leiers is sy prooi. Gad het die beste vir hom uitgekies, die uitsoekdeel...
v.22.. oor Dan .. is ‘n jong leeu, hy bespring sy prooi.
v.23.. oor Naftali.. hy geniet baie guns, word ryklik geseën...
v.24.. oor Aser.. hy is meer geseënd as die ander seuns... hy sal sy voete met olie was...
v.26.. Jesurun (Israel), daar is niemand soos God nie, Hy ry deur die hemel om jou te kom help, in Sy majesteit ry Hy op die wolke. Die ewige God is ‘n skuilplek, sy arms is altyd onder jou. Hy verdryf die vyand..
v.29.. Jy is ‘n volk wat deur die Here verlos is! Hy beskerm en help jou. Hy gee aan jou mag, jou vyande kruip voor jou....
* Dit was die gebruik dat net voordat iemand afsterf, veral as hy nou weet dat sy tyd naby is, om al die kinders bymekaar te roep en ‘n seën uit te spreek. Hier gebruik die Here vir Moses as ‘n tipe Vader van die volk Israel om elke stamgroep by die naam te noem en ‘n seën toe te wens-uit te spreek. Hulle het dit ook nodig gehad want daar moes nog baie groot dinge gebeur nadat hulle die Jordaan sou oorsteek.
* Nadat die 12 Stamme een vir een “ingeroep” is, beklemtoon Moses dat daar net een God is en dat Hy een volk gekies het. Net hierdie een God mag erken, aanbid en gedien word. Israel is die uitverkore volk omdat God so besluit het, nou moet hulle afhanklik wees van Hom en Hom alleen.
* Geliefde, ek en jy moet baie meer aan mekaar dink en vir mekaar bid. Ons moet baie meer die seën van die Here vir mekaar toebid, want ons het dit nodig. Ons is dikwels so besig om die strydbyle te slyp, dat ons skoon vergeet waarvoor ons hier is. Ons aandag word so opgeneem deur die ANC politieke speletjies, dat ons twyfel en vrees. Nee, kom ons hou vas aan die Enigste God wat daar is. Ek en jy en elke mens wat in God 3-1 glo, is nou die Israel. Ons het reeds baie dinge ontvang en die beste lê nog voor, die Jordaan moet nog oorgesteek word.
* Ek vra myself veral die afgelope tyd met die politieke verwikkelinge af: Waar is God in die politiek? Kom ons bid dat die Here die magsbehepte en soustreinryers tot stilstand sal dwing, dat Hy sal ingryp sodat ons land ‘n vrye, regverdige en veilige woonplek vir ons almal sal wees. Jou en my groot doelwit is om God se koninkryk hier plaaslik en in SA te laat kom.
* Geliefde, jy is klaar verlos deur Jesus Christus, lewe nou soos ‘n verloste, ontvang die seën van die Here en bid Sy seën vir mekaar toe. Ons bid ook dat die Vader ingryp en dat Hy Sy wil in SA sal laat geskied. God is die Enigste ware God en jy en ek is Sy kinders. Ontvang Jesus se vrede en wees ‘n seën.

Mooi dag,
Joop

2008/09/23

Oordenking: Deut 32

Liewe Broeders en Susters. Die voëlvlug deur deur die Woord van God is wonderlik.

Deut.32
Die lied wat die Here deur Moses vir Israel gee, kom nou aan die beurt:
v.1-4.. Die onderrig wat gegee word is soos reënwater... soos dou... soos sagte reëns op die grassies... op die graan. Ek wil die Naam van die Here roem... Die Here is getrou...
v.5-6.. Israel is ontrou aan die Here, nie meer sy kinders nie, nie meer geskik vir diens nie... Is die Here nie jou Vader, jou Skepper nie? Hy het jou gemaak, jou in die lewe gebring...
v.7.. Dink aan die dae lank verby, onthou... Die Here het alles gegee, die grense bepaal...
v.11.. Soos ‘n arend wat sy kleintjies uit die nes uitskop, oor hulle fladder en hulle vang op sy vlerke wat hy oopsprei, soos ‘n arend wat sy kuikens op sy vlerke dra, so het die Here, net Hy alleen, sy volk gelei...
v.13.. Die Here het sy volk die land in besit laat neem... laat eet...
v.15.. Jesurun (Israel) het alles in oorvloed gehad, hy het in opstand gekom... dom gehou, ooreet... hom vermetel gehou teen die Rots wat hom gered het... Jy het jou Rots, jou Skepper nie in ag geneem nie, maar vergeet.
v.19... Die Here het dit gesien en vir jou minagting gekry.... Ek sal nie meer vir julle sorg nie. Hulle het iets wat nie ‘n god is nie, bo My verkies...
v.23.. Ek sal ramp op ramp oor hulle laat kom, my pyle op hulle skier, hongerpyne, ongeneeslike siekte... Op straat is daar angs... in die slaapkamers is daar angs...
v.29.. As hulle wysheid gehad het, sou hulle dit verstaan het....
v.36.. Die Here behartig die saak van sy volk, die Here ontferm Hom oor sy dienaars, want Hy sien hulle krag het ingegee...
v.39.. Besef dit tog, Ek, Ek is die Here! Naas My is daar geen ander God nie. Ek maak dood en Ek gee lewe. Ek maak siek en Ek maak gesond.
v.44.. Moses het nader gekom en hierdie hele lied aan die volk voorgehou
v.46.. Toe Moses klaar was, het hy vir al die Israeliete gesê: Neem al hierdie woorde waarmee ek julle vandag vermaan het, ter harte. Julle moet julle kinder beveel om dit te gehoorsaam. Dit is nie ‘n geringe saak nie.
v.49.. Moses klim op Neboberg en bekyk van bo af die land Kanaän wat Hy as besitting gee. Omdat moses ontrou was by Meriba se waters, kon hy net sien wat Israel gaan ontvang.
*Die Bybel is inderdaad soos reënwater op jou siel. Wanneer jy moeg en moedeloos is, opgewonde en vooruitstrewend is, dan werk die Heilige Gees met die Woord van God op jou in. Dit voed jou en laat jou groei sodat jy met kalmte en vrede kan leef en laat leef.
* Hoe baie keer is ek en jy nie ook maar ontrou aan die Here nie? Jy het wat jy nodig het, jy weet jy ontvang verlossing deur Jesus Christus, maar tog voeter jy dikwels maar net aan. Nee, die Here se geduld gaan opraak en Hy gaan die streep trek, wees gewaarsku.
* Die beeld van die arend wat sy/haar kleintjies daar van bo af uit die nes skop, maar tog die hele tyd daar is, leer jou ook dat die Here jou dinge leer. Baie keer is dit baie moeilik, baie keer vang Hy jou op en dan sê Hy eendag vir jou: nou is dit tyd dat jy vlieg en my werk gaan doen. Dit waarvoor jy bang is, juis dit word nou jou roeping!
* Daar is net een God!!! Alle ander gode is afgode, bestaan nie, is niks, het niks en doen niks.
* Neem ter harte – maak dit deel van jou lewe – wees ernstig met in jou verhouding met die Here – dan gaan jy alles in die lewe kan hanteer.


Groete

Joop