2009/06/19

Stap vir stap

Ek wil 2 Kron 34 met u deel:

  • Josia het op 8 jarige ouderdom koning geword en hy het 31jr geregeer.
  • Op 16 het hy begin om die Here te dien.
  • Op 20 het hy begin om die Juda en Jerusalem te suiwer van al die afgode.
  • Op 24 het hy sy hoofuitvoerende beampte gestuur om die huis van die Here te herstel.
Vir ons is dit lang jare wat verbygegaand het voordat hy alles gedoen het wat hy moes, maar die feit is dat hy dit gedoen het. Die Here het ‘n tyd vir alles.

Kyk net na die ouderdoms intervalle, baie interessant! 8,16,20,24. Dit lyk vir my of die Here iets daarmee wil sê, ‘n jong mens vorder stap vir stap in dit wat die Here wil hê hy moet doen.

Mag ons ook groei en vorder op die manier. Kom ons bid vir ons jongmense sodat hulle sal besef hoe belangrik die Here is en dat hulle ook die geloofslewe en die kerklike lewe en verhouding met die Here moet koester.

Kom ons bid vir onsself, sodat ons kan groei en dien met die Vrug van die Gees.

Baie sterkte en seën.

Joop

2009/06/17

Berou en genade

Liewe Broeders en Susters

Iets wat my pas weer aangegryp het, is die wonderlike en grote genade van God deur Jesus Christus vir my en jou as mense.

In 2 Kron. 33 lees ons hoe erg koning Manasse, seun van wyle koning Hiskia, verkeerd gedoen het teen die Here. Manasse het afgodstempels (v.3) gebou en geoffer aan die afgode. Hy het sy eie seuns verbrand! Hy het hom besig gehou met goëlery, waarsêery, en toordery, hy het meegedoen aan die oproep en raadpleging van geeste (v.6). God haat dit en dis gruwelik in Sy oë.

Die Here het Manasse in die hande van die Assiriese koning laat val, met kettings en hake deur sy neus (v.11). Daar in die gat van die lewe, het hy besef dat hy genade by die Here moet kry. Manasse het berou getoon en gebid. Die Here was hom genadig en het hom weer terug laat gaan na Jerusalem en hy was weer koning daar (v.12,13)

Geliefdes, my en jou sondes, sondes van geliefdes, ouers en kinders, vreemdelinge en vyande is baie baie groot. Maar hoor wat die Here hier openbaar: besef dat jy in ‘n gat is, vasgevang in die kettings van die sonde en Satan. Die Heilige Gees laat ons ook opstaan uit die gutter van die lewe, smeek om genade en toon berou voor God.

Gryp vas wat Jesus Christus met sy kruisdood en opstanding vir jou en ander gedoen het, en kyk wat gebeur!

So gee die Here weer aan jou sy liefde en genade, soos vorm die Here jou soos wat Hy jou wil laat wees. Glo, bely, gryp vas deur die inwerking en uitwerking van die Gees en ontvang vrede en verlossing.

Versprei die wonderlike boodskap met jou mond en met jou hart.

Mag jy ‘n wonderlike dag verder ontvang.


Groete en seën vir jou.

Joop van Schaik