2008/09/12

Oordenking: Deut 26

Liewe Broeders en Susters. Nog ‘n week is verby! Hier is Deut.26

v.1.. Wanneer jy in die land kom wat die Here jou God aan jou gee... moet jy van elke eerste oes wat jy insamel in die land... ‘n deel vat en dit in ‘n mandjie sit en na die plek toe vat wat die Here kies....
v.4.. Die priester neem dit en sit dit voor die altaar vd Here.
v.5.. ‘n Baie besondere erkenning en belydenis oor wie God is, wat Hy gedoen het.. dat Hy hulle uit Egipte gelei het... dat Hy die land van melk en heuning aan hule geskenk het...
v.10.. Dit is die rede waarom ek nou die eerste opbrengs vd land wat deur die Here aan my gegee is, gebring het.
v.11.. Die Here sê dat Israel die goeie dinge wat Hy gee, baie kan geniet, elke Israeliet, huisgenote, Leviete en die vreemdelinge
v.12.. Gaan weer oor die 10des.
v.14.. Met die offergawes, word gevra dat die Here afkyk en die volk sal seën.
v.16-19 is so spesiaal, dat ek dit net so gaan insit:
16 “Die Here jou God beveel jou vandag om volgens hierdie voorskrifte en bepalings te leef en om hulle te gehoorsaam. Jy moet dit doen met hart en siel.
17 Jy het vandag verklaar dat die Here jou God is, en dat jy volgens sy wil sal lewe, dat jy sy voorskrifte en gebooie en bepalings sal gehoorsaam en dat jy na Hom sal luister.
18 Die Here het vandag verklaar dat jy sy eiendomsvolk is soos Hy jou beloof het, en gesê dat jy al sy gebooie moet gehoorsaam, 19 dat Hy jou oor al die nasies wat Hy gemaak het, sal stel en aan jou meer lof en roem en eer sal gee as aan hulle, en dat jy ’n volk sal wees wat aan die Here jou God gewy sal wees soos Hy beloof het.”(NAV)
* Weer ‘n keer word beklemtoon dat alles wat ons ontvang, van die Here kom. Hy gee vir ons als, maar Hy vra die eersteling van ons. Ons oes is die inkomste wat ons kry (salaris, beurs, sakgeld). Heel bo aan die begroting behoort jou eersteling, dankoffer, gelofte... te wees.
* Die rede vir die eersteling offer, is om dankie te sê aan God, God wat jou lief het. Israel het Kanaän gekry sonder om dit te verdien. Ek en jy het Jesus Christus gekry, ‘n plek in die hemel gekry, sonder om dit te verdien. Jy en ek erken dus hoe groot God is en hoe wonderlik Sy genade is.
* Vir die hoeveelste keer word van ons verwag om die Here se verbondsvoorskrifte wat Hy na verlossing gee, met hart en siel te doen. Waar is jou en my hart en siel? Dis wat ons die 17de Sept by die kerkraadsvergadering vir onsself gaan vra, dis wat jy en ek nou vir onsself afvra. Kom ons bid dat die Here elkeen van ons, ons gemeente, elke Christelike gemeente, die hart en siel sal gee soos wat Hy dit wil hê.
* Sjoe, jy verklaar dat die Here jou God is. Jy verklaar dat jy die Bybel wil ken, dat jy gehoorsaam wil wees en dit wil geniet, al gaan dit dikwels baie swaar. Kom ons verklaar saam en verbind ons saam aan God en Sy gebod
* Sjoe, die Here verklaar dat Hy jou en my God is, dat jy Sy eiendom is. Deur Jesus Christus is jy duurgekoop. Jou plek in die hemel is klaar voorberei en gereed. Kom ons lewe dan met ‘n positiewe Godsgesinde benadering. Kom ons sien die mooie raak, kom ons werk deur die moeilike, kom ons wys wie ons is: God se eiendom! Halleluja!


Baie mooi dag vir u/jou. Mag jy seën ontvang en ‘n seën wees. Ons sien mekaar Sondag by God se afspraak.

Joop

2008/09/11

Oordenking: Deut 25

Geliefdes, die Bybel is nie ‘n teorie boek nie. Die Bybel is gee praktiese opdrag vir hoe jy moet lewe. Neem altyd in ag wat die Nuwe Testament sê en verstaan die Ou Testament daardeur, so ook anders om. Kom ons kyk wat vandag in Deut 25 na vore kom. Mag die Heilige Gees ons lei om te begryp, te leer en toe te pas.

Deut.25
v.1-4 gaan oor ‘n billike verhoor en straf. 2 mans is in hofsaak betrokke. Die regter lewer sy uitspraak, een is skuldig en ander nie. Die skuldige een moet kry wat hy verdien, maar die maksimum is 40 houe op die rug.
v.5-10 gaan oor die verantwoordelikheid van ‘n swaer.
v.5.. waar 2 broers saamwoon, en een sterf sonder ‘n seun, moet die weduwee trou met haar swaer – sodat hy sy verantwoordelikheid teenoor haar moet nakom.
v.7.. As die broer/swaer dit nie wil doen nie, moet sy hom verkla by die leiers.
v.8.. Die leiers ondersoek dit, as hy wel skuldig is, moet die weduwee voor die leiers sy skoen uittrek en hom in die gesig spoeg. Hy sal bekend staan “as Huis vd uitgetrekte skoen”.
v.11-16 Tree reg en billik op.
v.11.. as 2 mans baklei en die een se vrou kom help – sy gryp die ander man aan die ..., dan moet haar hand afgesny word.
v.13... Gewigte wat gebruik word vir afweeg, moet altyd dieselfde wees. Inhoudsmate moet ook dieselfde wees. Jy moet billik en regverdig afweeg.
v.16.. God het ‘n afsku in die een wat oneerlik is en ander bedrieg.
Amalek moet uitgeroei word.
v.17.. Onthou wat Amalek gedoen het – hy het julle van agter ingehaal en aangeval – baie mense het gesterf. Die Here gaan egter aan jou oorwinning gee en jy moet Amalek en alles van hom van die aarde uitwis.
* Die howe en die regstelsel is vandag ook die hele tyd in die nuus. Dit bly ‘n beroep waarin die Here as voorbeeld gevolg moet word. Daar moet regverdig beoordeel word, en die straf moet pas by die oortreding. Konsekwentheid is NB. Jy mag ook nie te ver gaan nie. In jou huis met die kinders en kleinkinders, in die skool en werk en... neem jy elke dag besluite oor hoe jy gaan optree. Kom ons weer billik met mekaar.
*In ons tyd geld hierdie reël nie meer nie. Tog leer ons dat jy moet omgee vir mekaar, veral vir jou familie. Gesinne en families skeur so maklik los van mekaar. Iets van peetouers kom seker hier navore.
* Daar is baie keer erge konflik. Tog moet jy jouself kan handhaaf en nie grof en onbeskof optree nie. Die vrou het ‘n vinnige oplosing gekry om te vat waar dit seermaak. Vandag is dit ook een van die dinge wat ons ‘n dogter leer met selfverdediging. Wat nou? Ek dink, respekteer mekaar se liggaam, slegs in ware noodsituasies kan jy oorgaan tot die drastiese.
* Bedrog en oneerlikheid met goedere, gewig, suiwerheid... is aan die orde vd dag. Jy kan so maklik water by die melk gooi. Jy kan so maklik iets onder deur die tafel bekom. Hierdie oneerlikheid is egter steel. Wees eerbaar in besigheid en arbeid. Leer eerder as om af te kyk. Oefen eerder vir jou plek as om wit voetjie te soek. Wees trots op jou Christenskap en werk vir jou geld en plek.
* Amalek was ‘n lafhart en die Here se straf moes hom toekom. In 1 Sam 28 was dit Saul se opdrag om Amalek en sy hele volk en eiendom uit te wil. Tog is dit nie gedoen nie. Ons sit ook met die probleem van kinders en groot mense wat lafhartig is. Jy kom iemand by, of iemand kom jou by, verneder jou, is skelm en slinks. Dit maak baie seer. Vat jou pak as jy skuldig is en stel dit reg. Wees self bereid om op te staan en die beginsel op die tafel te plaas. Aan die ander kant – Hou by wat die Here vir jou sê en voer dit deeglik uit.

Baie mooi dag vir u/jou


Joop

2008/09/09

Oordenking: Deut 24

Liewe Susters en Broeders,

Hier het ons weer ‘n mooi klompie dinge wat ons leer.

Deut 24
v.1..Skei vanweë iets onbetaamliks was wel toegelaat.. Die skeibrief was geskryf en oorhandig.
Die opskrif hier is: ‘neem jou medemens in ag.’
v.5..’n Pas getroude man, mag nie gaan oorlog maak nie.
v.6..13 gaan oor die pand by die arm man wat nie gevat mag word nie.
v.14.. jy moet die arm mens steeds menslik hanteer en sy loon nie terughou nie.
v.16.. Vaders word nie gestraf vir die kinders se optrede nie, en kinders nie vir die vaders se optrede nie. Elkeen word vir sy eie sonde gestraf.
v.17.. Jy mag nie die regte vd vreemdeling of weeskind wegvat nie. Israel moet onthou dat hulle self slawe was en deur God bevry is.
v.19.. As geoes word, moet die dele wat jy vergeet, net so los vir die vreemdeling, weeskind en weduwee. Dit geld vir die gerf, olywe en wingerd. Onthou jy was self ‘n slaaf...
*Reeds hier in die OT kom die onvolmaaktheid van die verhouding binne die huwelik. Die toegewing van amptelik skei met skeibrief was gemaak. Jesus se verlossing maak dit egter moontlik om dit deur die geloof te deurstaan. As dit wel gebeur het dat mens skei, moet daar berou wees, en dan gun die Vader jou weer ‘n tweede kans as Hy jou iemand anders laat ontmoet. Kom ons bid dat die Here verhoudinge en huwelike seën. Kom ons bid dat medegelowiges die seer van egskeiding kan oorkom.
*Om jou medemens in ag te neem, is geweldig belangrik. Elke keer word jy teruggeneem na wat jy was en is. Israel was self slawe en vreemdelinge. Ek en jy is self deur Jesus Christus verlos en moet ons seëninge tel.
* Rut kon by Boas die gerwe optel vir haar en Naomi. Later is Rut en Boas getroud en uit hulle nageslag is die Verlosser gebore. Doen jou werk getrou, sodat jy ook iets vir die wat in nood is, kan gee. Dis jou en die diaken se taak om om te gee en te deel

Baie mooi dag vir u/jou toegewens. Geniet jou werk en dien die Here daarmee, nie jou werkgewer nie. Wees bedag op die mense rondom jou, veral op hulle gevoelens.

Joop

2008/09/08

Oordenking: Deut 23

Liewe Broeders en Susters. Dit was weer ‘n voorreg om saam met u die sigbare kerk van Jesus Christus hier op aarde te wees. Saam is ons kerk en dien ons die Here. Ons is veral uiters dankbaar vir die seëninge wat die Here vir ons gee, deur u dankoffer aan die Here, is die nood met die inkomste en uitgawes opgelos. Wat nou baie belangrik is, is u getroue dankoffer na u vermoë. Hou dop wat die Here met jou, my en KPN nog gaan doen!

Die doel van die epos bediening, is dat ons stelselmatig deur die hele Bybel werk. So skerp ons ons Bybelkennis op, en so sien ons die Here al hoe duideliker in ons lewe.

Deut. 23 – wie nie lid van die vergadering vd volk mag word nie.
Hier is ‘n vreemde klompie inligting.
v.1.. iemand wie se geslagsorgane verbrysel is of ontman is. Iemand gebore uit ontoelaatbare gemeenskap.
v.3.. geen ammoniet of moabiet. Jy mag ook nie in vrede met hulle lewe nie..
v.7.. Jy mag egter nie die Edomiet en Egiptenaar wegstoot nie.
Die kamp moet rein wees.
v.9..Wanneer jy optrek teen die vyand, pasop dat jy nie iets verkeerd doen nie. Onrein mense mag nie saam met jou optrek nie.
v.13.. Daar moet met ‘n stok ‘n gat gegrawe word vir as jy ‘n draai loop.
v.14.. Die Here gaan saam met jou oorlog toe en sal jou van jou vyand bevry.
v.15.. Jy mag nie ‘n slaaf wat wegloop terugstuur na sy eienaar nie..
v.17.. Prostitute mag nie by die tempel aangehou word nie en as sy ‘n offer wil bring aan die Here, mag dit nie aanvaar word nie.
v.18.. Behandel jou mede-Israeliet baie goed.
v.21.. Wanneer jy ‘n gelofte aan die Here aflê, moet jy nie traag wees om dit na te kom nie, anders sal Hy jou tot verantwoording roep en jy sal skuldig wees.
v.24.. Jy mag in die buurman se wingerd ingaan en iets pluk en eet, maar jy mag niks in jou sak steek nie, so ook tov die koringland.

• Gelukkig geld hierdie reël vd Here nie meer vandag nie. Nou mag enigiemand deel wees en word vd volk van God. In Matt.28:19 kom juis die opdrag: “gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies...”
• Jesus Christus het juis baie deernis vir alle mense.
• Rut was ‘n Moabitiese vrou, en uit haar geslag is Jesus ook gebore.
• Gehoorsaamheid en reinheid is wat die Here van ons vra
• Persoonlike higiëne is NB vir ons. Jou liggaam is die tempel vd Heilige Gees. Mens kan dalk soms tekort kom in baie dinge, maar jy moet jou liggaam versorg uit eerbied vir jou Skepper. 1 Kor.6;19 “Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie:…”
• Behandel alle mense met menslikheid. Paulus het aan Filemon geskryf en by hom gesmeek om die weggeloopte slaaf Onesimus met liefde terug te ontvang. Sien die boek Filemon.
• Jy moet jou inkomste op ‘n eerbare manier bekom. As jy dit bekom op ‘n manier wat die Here verafsku, dan sal die Here ook nie die dankoffer daaruit aanvaar nie. Mense vra gereeld, as ek die lotto wen en ek gee daarvan vir die kerk, sal die kerk dit aanvaar? Die antwoord kom hier duidelik: nee.

Kom ons dra mekaar se laste, toon respek vir mekaar ongeag welstand of agtergrond. Bewys begrip met deernis aan mekaar. Ons ontvang elkeen baie genade.


Baie sterkte en seën vir u.

Joop