2008/09/12

Oordenking: Deut 26

Liewe Broeders en Susters. Nog ‘n week is verby! Hier is Deut.26

v.1.. Wanneer jy in die land kom wat die Here jou God aan jou gee... moet jy van elke eerste oes wat jy insamel in die land... ‘n deel vat en dit in ‘n mandjie sit en na die plek toe vat wat die Here kies....
v.4.. Die priester neem dit en sit dit voor die altaar vd Here.
v.5.. ‘n Baie besondere erkenning en belydenis oor wie God is, wat Hy gedoen het.. dat Hy hulle uit Egipte gelei het... dat Hy die land van melk en heuning aan hule geskenk het...
v.10.. Dit is die rede waarom ek nou die eerste opbrengs vd land wat deur die Here aan my gegee is, gebring het.
v.11.. Die Here sê dat Israel die goeie dinge wat Hy gee, baie kan geniet, elke Israeliet, huisgenote, Leviete en die vreemdelinge
v.12.. Gaan weer oor die 10des.
v.14.. Met die offergawes, word gevra dat die Here afkyk en die volk sal seën.
v.16-19 is so spesiaal, dat ek dit net so gaan insit:
16 “Die Here jou God beveel jou vandag om volgens hierdie voorskrifte en bepalings te leef en om hulle te gehoorsaam. Jy moet dit doen met hart en siel.
17 Jy het vandag verklaar dat die Here jou God is, en dat jy volgens sy wil sal lewe, dat jy sy voorskrifte en gebooie en bepalings sal gehoorsaam en dat jy na Hom sal luister.
18 Die Here het vandag verklaar dat jy sy eiendomsvolk is soos Hy jou beloof het, en gesê dat jy al sy gebooie moet gehoorsaam, 19 dat Hy jou oor al die nasies wat Hy gemaak het, sal stel en aan jou meer lof en roem en eer sal gee as aan hulle, en dat jy ’n volk sal wees wat aan die Here jou God gewy sal wees soos Hy beloof het.”(NAV)
* Weer ‘n keer word beklemtoon dat alles wat ons ontvang, van die Here kom. Hy gee vir ons als, maar Hy vra die eersteling van ons. Ons oes is die inkomste wat ons kry (salaris, beurs, sakgeld). Heel bo aan die begroting behoort jou eersteling, dankoffer, gelofte... te wees.
* Die rede vir die eersteling offer, is om dankie te sê aan God, God wat jou lief het. Israel het Kanaän gekry sonder om dit te verdien. Ek en jy het Jesus Christus gekry, ‘n plek in die hemel gekry, sonder om dit te verdien. Jy en ek erken dus hoe groot God is en hoe wonderlik Sy genade is.
* Vir die hoeveelste keer word van ons verwag om die Here se verbondsvoorskrifte wat Hy na verlossing gee, met hart en siel te doen. Waar is jou en my hart en siel? Dis wat ons die 17de Sept by die kerkraadsvergadering vir onsself gaan vra, dis wat jy en ek nou vir onsself afvra. Kom ons bid dat die Here elkeen van ons, ons gemeente, elke Christelike gemeente, die hart en siel sal gee soos wat Hy dit wil hê.
* Sjoe, jy verklaar dat die Here jou God is. Jy verklaar dat jy die Bybel wil ken, dat jy gehoorsaam wil wees en dit wil geniet, al gaan dit dikwels baie swaar. Kom ons verklaar saam en verbind ons saam aan God en Sy gebod
* Sjoe, die Here verklaar dat Hy jou en my God is, dat jy Sy eiendom is. Deur Jesus Christus is jy duurgekoop. Jou plek in die hemel is klaar voorberei en gereed. Kom ons lewe dan met ‘n positiewe Godsgesinde benadering. Kom ons sien die mooie raak, kom ons werk deur die moeilike, kom ons wys wie ons is: God se eiendom! Halleluja!


Baie mooi dag vir u/jou. Mag jy seën ontvang en ‘n seën wees. Ons sien mekaar Sondag by God se afspraak.

Joop

No comments: