2008/11/21

Oordenking: Josua 22:1-8

Geliefde in Christus, jammer dat ek nou eers weer aan die skryf kom. Ek het die voorreg gehad om die Oostelike Streek-Sinode by te woon. Dis die gebied vanaf Germiston tot in Komatipoort en Pongola. Ons het die mees vredevolle Sinode sitting gehad en ervaar. Daar was geen besware en netelige sake om te hanteer nie. Die hoogtepunt was die ondervraging van ‘n teologiese student en sy beroepbaarstelling. Ook het ons besluit om die Tans Oranje Instituut vir spesiale onderwys meer bekend te stel in die koerante en in ons gemeente. Ons sal graag ons vredevolle en baie goeie gesindheid onder mekaar na die Algemene Sinode van die GKSA neem. Mag die Here DV daardie vergadering seën.

So van seën gepraat, dis wat gedoen word deur Josua tot die Stamme Ruben, Gad en Mannasse.


Josua 22:1-8

v.1.. Josua het die stamme Ruben, Gad en die een helfte vd Manassestam geroep en vir hulle gesê: Julle het alles gehoorsaam gedoen wat Moses die dienaar vd Here julle beveel het.

v.3.. Julle het die hele tyd nie julle broers in die steek gelaat nie en gedoen wat die Here beveel het. Nou het julle broers ‘n woonplek. Gaan julle nou na julle eie woonplekke, die deel oorkant die Jordaan.

v.5.. Sorg net dat julle die gebod van die Here getrou onderhou, nl. Om die Here julle God lief te hê en volgens sy wil te lewe, sy gebooie te gehoorsaam, aan Hom getrou te bly en Hom met julle hele hart en siel te dien.

v.6.. Josua het hulle met ‘n seënwens laat gaan na hulle woonplekke toe.

v.8.. Gaan terug na julle woonplekke met groot rykdom, groot troppe vee, silver, goud....

* Net voordat Israel deur die Jordaan sou gaan, het die stamme gesê dat hulle die gebied daar duskant van die Jordaan as woongebied wil hê. Dis so goedgekeur, met die voorwaarde dat hulle eers saam sal gaan en in alle gevegte saam sal veg totdat al die stamme hulle grondgebied kon kry. Hulle het hulle woord gehou en nou kan hulle teruggaan. (Num.32 en 34:14)

* Nou is dit so mooi dat hulle met ‘n seën weggestuur word.

* Baie belangrik, hier aan die einde van die lang pad, voordat ‘n nuwe wonderlike tyd aanbreek, word hulle eers weer herinner aan God se liefde en gebod, hulle liefde vir God en hoe hulle Sy gebooie moet gehoorsaam met hart en siel.

* Dan kom die wegstuur met ‘n seën. Inderdaad is hulle ook geseënd, want hulle kon met rykdom, vee, edelmetale... terug keer en ‘n goeie lewe gaan leef.

* Wanneer mens so aan die einde van ‘n jaar kom, wanneer jy ‘n taak baie getrou afgehandel het, dan is dit lekker om mekaar te bedank en mekaar seën toe te wens. Die seën behels dat dit met jou goed mag gaan, maar die belangrikste is dat jy geestelike seën kan bly ontvang, dat jou verhouding met God kan verdiep en groei. Om die rede word jy ook vandag weer met die teksgedeelte geleer dat die Here gevolg moet word en dat jy elke oomblik moet lewe volgens Sy wil.

* Dit is ook my begeerte vir jou, mag jy deur die Here vasgehou word en mag jy geseën word deur die Here. Mag jy geestelike seëninge in oovloed kry en mag jy genoeg ontvang om van te lewe en om God te dien met jou hart en siel. Bly net asb. op die Here se pad.

Groete en seën.

Joop van Schaik

No comments: