2008/10/23

Oordenking: Josua 9

Liewe Broeders en Susters. Dit gaan vandag oor die hantering van sukses, jou sukses of die ander een se sukses. Dit gaan oor die Here raadpleeg of sommer self besluit. Dit gaan oor ‘n eed aflê en die hou by die eed.

Josua 9

v.1.. Die konings van ‘n baie groot streek het van Josua en Israel se suksesse gehoor met die oorloë en het bang geword. Hulle het eendragtig saamgestaan om teen Israel te gaan veg.
v.3.. Die inwoners van Gibeon het egter ‘n slim plan uitgedink en uitgevoer. Hulle het ou padkos ingepak, verslete saalsakke op die donkies gesit, verslete geskeurde wynsakke weer toegewerk en gelapte skoen en verslete klere aangetrek.
v.6.. So is hulle na Josua by Gilgal. Hulle lieg: ons kom uit ‘n ver land om ‘n verdrag te sluit. Die Israeliete het wel snuf in die neus gekry, maar die Gibeoniete het oortuigend bly lieg. Kyk net na al die ou goed, ons kom van ver om julle onderdane te wees.
v.14.. Die Israeliete het na als gekyk, maar nie die Here geraadpleeg nie. Josua het die Gibeoniete goed behandel en ‘n verdrag met hulle gesluit, dit met ‘n eed.
v.16.. Drie dae later het die leuen uitgekom en die Israeliete wou dit wreek. Josua en die leier het egter vir die volk gesê dat hulle ‘n eed voor die Here afgelê het, ons kan hulle nie aanval nie. As die eed verbreek word, sal die Here dit straf. Die eed moet nagekom word.
v.21.. Daar is besluit dat die Gibeoniete moet lewe, maar hulle sal houtkappers en waterdraers vir Israel wees.
v.24.. Josua wil wel weet hoekom hulle so gelieg het. Die antwoord was dat hulle baie gehoor het van Moses, van God en als wat gebeur het. Hulle het vir hul lewens gevrees.

*Sukses het ‘n groot invloed. ‘n Invloed op omstanders en op die een wat sukses behaal het. Die omstanders verwonder hulle of raak bang as dit hulle bedreig. Die suksesvolle een raak ongelukkig te braaf of het te veel selfvertroue of raak te selfstandig.
* Dis wat hier gebeur het. Josua en Israel se sukses, wat eintlik die Here se sukses was, het die Gibeoniete en die Israeliete beïnvloed.
* As jy nie sterk is nie, moet jy slim wees, dis wat die Gibeoniete was en dis wat mens baie keer geleer word.
* Dis prysuitdelingstyd by die skole en by die werk. Dis insentiewe en prestasie. Dis kersbonustyd..... Wat is die invloed hiervan op jou? As jy die een is wat die toekenning kry, dan moet jy baie versigtig wees dat dit nie kop toe gaan nie. Geluk, maar bly nederig en afhanklik. As jy dié keer nie die prys of toekenning gekry het nie, jy moet ook oppas, want jy kan dalk dink dis die einde van die wêreld. Dit is nie. Jy word sterker gemaak en hierdie is een van baie toetse en teleurstellings wat die Here nog op jou pad gaan plaas. Leer bietjie by Josua en die volk.
* Wat was die probleeem en wat is baie keer ons probleem? Die Here word nie geraadpleeg nie. Josua het grootkop gekry, die mense geglo sonder God se aanwysing. So gaan ek en jy dikwels aan sonder om die Here in alles te ken, ook die keer toe jy na sukses gedink het jy is slim en goed genoeg om die besluit self te neem. Nee, raadpleeg elke keer die Here, Hy sal jou wys wat om te doen, hoe om als te hanteer, ook die sleg, seer en swaarkry.
* ‘n Eed is afgelê en dit moet gehou word, al is dit teenoor jou vyand of iemand waarvan jyself glad nie hou nie. Hier was Josua baie eerbaar. Die ouens wat hom pas bedrieg het, gelieg het, hulle moet beskerm word want Josua het in die Naam van die Here ‘n eed afgelê en dit mag nie verbreek word nie. Wanneer jy ‘n eed aflê, dan roep jy God as getuie in. Doen dit net wanneer dit nodig is. Die res van die tyd, laat jou ja jou ja wees en jou nee jou nee.

Kom ons hanteer die sukses en teleurstelling deur die genade van God. Kom ons hou ons woord, laat jou woord jou eer wees en lê ‘n eed net af as dit nodig is.

Baie groete en seën

Joop van Schaik

No comments: