2008/10/22

Oordenking: Josua 8:30-35

* Liewe Susters en Broeders in Christus. Ek kan weer lekker sit en werk. Vandag leer die Here jou dat jy dankbaar na die oorwinning moet wees, dat jy juis dan met die wet vd Here opgeskerp moet word.


U sal onthou dat die stad Ai oorwin is, met koning en al. Oorwinning is deur God gegee.

v.30.. Daarna het Josua op Ebalberg ‘n altaar gebou vir die Here. Hulle het brandoffers vir die Here op die altaar gebring en maaltydoffers vir die Here geoffer.

v.32.. Moses het op die klippe vd altaar ‘n afskrif aangebring vd 10 gebooie, voor die oë van die hele Israel.

v.33.. Die hele Israel, sy leiers sy beamptes en sy regters het daar aan weerskante vd ark gestaan voor die Levitiese priesters wat die verbondsark vd Here dra. Vreemdelinge sowel as burgers was daar.

v.34.. Josua het alles wat die wet sê, die seën sowel as die straf, voorgelees, woord vir woord

v.35.. Die vrouens en kinders en die vreemdelinge wat tussen hulle gebly het, was by.

* Jy is so geneig om nadat jy deur ‘n tyd van worsteling, beproewinge en versoekinge gegaan het, sommer net te wil niks doen, wegbreek of so gou moontlik weer aan te gaan met jou lewe.

* Inderdaad sug jy van verligting en dis eintlik te gelooflik om waar te wees, maar tog is dit so. Jy is soms ook dan so leeg en moeg. Jou liggaam wil ook dan tot stilstand kom. Dis soos wanneer jy na ‘n harde kwartaal op vakansie gaan, en sommer op die 2de dag kry jy hierdie aaklige hoofpyn of jy word siek. Jy wil vakansie hou, nie siek wees nie! Dokters sê ook dat dit eintlik doodnormaal is, want jou liggaam kom skielik tot stilstand, kom agter wat kort alles en soek hersteltyd, of dit wat gehou het, gee dan in.

* Ons wil dit met die Here ook doen. Jy wil so goed uitspan, dat jy die Here ook daar anderkant wil uitskuif. Dis net waar ons die fout maak. Dis die Here wat jou gelei het, krag gegee het, weer laat opstaan het en nou ook die oorwinning oor die probleem. Hier sien ons dat Josua in gehoorsaamheid ‘n altaar bou en die offers bring. Ons sien dat die leiers en elke liewe burger daar is, ook die vreemdeling wat tussen hulle kom woon het.

* Ons kan sê dit was ‘n dankdiens. Die 10 gebooie word sigbaar op die altaar geskryf en dit word gelees. In ons terme ‘n erediens met die Bybel in die hand en hart.

* Hoe bring jy ‘n offer? Deur heel eerste vir God met jou hart en siel dankie te sê. Deur met vrymoedigheidheid te doen en te gee wat die Here van jou verwag. Deur getrou te bou aan jou persoonlike verhouding met die Here. Deur getrou te bou aan jou verbindtenis met jou medegelowige binne en buite jou gemeente. Deur deurlopend die Woord van God in die erediens te hoor, ieder en elk van ons moet teenwoordig wees.....

* Jesus Christus was die volmaakte offer aan die kruis. Geen brandoffer of maaltydoffer is nou meer nodig nie. Hy verlos jou volkome en jy het die oorwinning. Nou roep die Here jou op met Rom.12:1b: “Gee julleself aan God as lewendige en heilige offers...”

* Geliefde, na uitkoms en oorwinning, gaan net so baie na die Here soos toe jy in die nood was. Wys jou dankbaarheid, wees ‘n altaar deur jouself op te offer in diens van God. Hou by God se Woord. Maak self die Woord van God sigbaar aan alle mense rondom jou. Hulle moet die Here kan sien in jou en Sy gebooie kan lees op jou.


Geseënde dag vir u.


Joop van Schaik

No comments: