2008/11/06

Oordenking: Josua 16, 17 - Aanbid God alleen en wees regverdig in jou optrede

Liewe susters en broeders. Ons gaan voort met die verdeling van die grondgebied tussen die stamme van Israel.

Josua 16

v.1.. Aan die nakomelinge van Josef is deur loting ‘n gebied toegeken wat strek vd Jordaan af regoor Jerigo, oos vd Jerigofonteine.
v.4.. Die stamme Manasse en Efraim, nakomelinge van Josef, het die grondgebied gekry.
v.5.. Meer inligting word gegee oor die gebied wat die families van Efraim ontvang.
v.9.. Daarby het ook nog die stede en buiteposte gekom wat aan die Efraimiete toegeken is binne-in die grondgebied van Manasse.
v.10.. Die Efraimiete het nie al die Kanaäniete verdryf wat in Geser gewoon het nie. Die Kanaäniete het dwangarbeid vir die Efraimiete gedoen.

Josua 17

v.1.. aan Josef se oudste seun, Manasse se families, is ook deur loting ’n gebied toegeken.
v.3.. Selofgad wat ook uit die geslag van Manasse was, het nie seuns gehad nie, net dogters. Hulle name word ook vermeld: Magla, Noa, Gogla, Milka en Tirsa. Hierdie dogters het na priester Eleasar en Josua en na die leiers gegaan en hulle herinner aan die bevel van Moses. Die bevel was dat hulle ook grond onder die stamgenote moet kry. So het hierdie dogters uit die Manassestam ook hulle grondgebied gekry saam met die mans.
v.12.. Die mense van Manasse kon egter ook nie die stede verower nie, en die Kanaäniete het in die gebied bly woon. Later het die Israeliete wel sterker geword en het die Kanaäniete dwangarbeid laat doen.

* Omdat die stam van Levi as prieters opgetree het, is die twee seuns van Josef gereken in hulle plek. Josef se seuns was Efraim en Manasse. (Israel se 12 stamme: 12-1 + 2 = 12)
* Daar was weer deur loting woongebiede uitgedeel. Ook hier het die Kanaäniete oorleef, al het hulle dwangarbeid gedoen vir Israel. Sommige van die Kanaäniete het waarskynlik ook soos die Israeliete vir God aanbid. Tog het die meeste Kanaäniete hulle gode bly aanbid. Die versagting teen afgode was later Israel se ondergang.
* In vandag se tyd is dit ook dikwels die hoofoorsaak waarom Christene en die Christelike Kerk seer kry. Sogenaamde godsdiensvryheid en verdraagsaamheid word van ons verwag. Dis alles goed en wel, maar op die ou end raak ons so mak teenoor ander godsdienste, dat ons hulle god as gelykwaardig beskou. Dit lei weer na die New-Age.
* Iemand het juis vandag navraag gedoen oor wat ek dink van die New-Age beweging. Dit is niks anders as vermenging van godsdienste nie. Die N-A beweging sê dat alle godsdienste dieselfde god aanbid. Dit is ‘n afskuwelike leuen. Die Skrif sê baie duidelik dat net die Here God van die Bybel waarlik God is, die Drie-Enige God: Vader, Seun en Heilige Gees. Die Bybel is propvol hiervan. Ek noem net ‘n paar: Deut.32:39; Jes.41;13; Jes.433,10,12,15; Jes.44:6,8; Jes.45:5,6,18,21,22. Jy moet alles in jou vermoë doen om God as Enigeste ware God self te dien en ook die wêreld te leer dat daar net Een ware God is.
* In die Ou Testamentiese tyd was die oudste seun van geslag tot geslag genoem. Onder hom was die res van die familie wel gereken. Wanneer daar dan nie seuns was nie, maar net dogters, was hulle nie net buite rekening gelaat nie. Hulle het die volle maat ontvang wat hulle toegekom het. Gaan lees gerus meer oor Selofgad in Num.26,27 en 36. Ook in 1 Kron 7:15 word van hulle melding gemaak. Die punt is dus omregverdig te wees met almal, ook wanneer ‘n verdeling gemaak word van eiedom en goedere.
* Aanbid God Drie-Enig alleen en wees regverdig in jou optrede teenoor ander, manlik en vroulik, jonk en oud.

Baie sterkte en seën word u/jou toegebid.

Joop van Schaik

No comments: