2008/11/10

Oordenking: Josua 17:14-18 - Vra en bring jou kant

Broeders en Susters, vra gerus vir meer, maar moet dit nie te ver vat nie. Staan op en bring jou kant.

Josua 17:14-18

v.14.. Die nakomelinge van Josef het met Josua gaan praat: Waarom loot u vir ons net een keer? Ons is baie mense, want die Here het ons besonderlik geseën. (Gideon het teenoorgestelde rede gebruik as ‘n verskoning – ek is uit die kleinste familie – Rigters 6).

v.15.. Josua erken dat hulle baie is en sê dat hulle ‘n stuk boswêreld kan gaan skoonmaak in die gebied van die Feresiete en die Refaïte. Hulle reageer en sê dat die Bergland ook nie groot genoeg is nie. Boonop het die Kanaäniete wat daar rond woon ysterstrydwaens.

v.17.. Josua hou egter by sy besluit, hulle kry die Bergland by en dis dit. Wat hy óók sê, is dat die Kanaiete wel ysterstrydwaens het en dat hulle sterk is, maar Josef se nageslag, Manasse en Efraïm sál hulle uitdryf.

*Josef se nageslag, Manasse en Efraïm was skielik nie meer die kleinste groep mense nie. Hulle erken ook dat die Here hulle geseën het.

* Hulle vra nóg grond, hulle krý nog grond, maar is nie tevrede nie. Die ouens gaan nou te ver, dit klink of hulle die broodjie aan albei kante gebotter wil hê. Vra is vry, en die weier...

*Hulle het gekry, maar net genoeg. Hulle moes ook hulle kant bring deur self in te spring en hulle vrees teen die vyand te oorkom. Die ysterstrydwaens was ‘n teken van mag, krag en oorwinning. Tog, al was die Refaïte ook deel van die reuse, al was daar ysterstrydwaens, kry hulle die versekering dat hulle wel sal oorwin.

* Dis eintlik baie mooi hoe die Here deur Josua hier met die Josef ouens werk. Daar word toeggegee net tot op ‘n punt. Dan word die streep getrek en jy moet dan met geloof inspring.

* Vandag kan jy ook met vrymoedigheid vra. Jy kan vra by die Here en jy kan vra by enige mens, jou werkgewer, jou regeerder, jou... Onthou net dat jy nie alles net so op ‘n skinkbord kan kry nie. Jy moet leer om te kan presteer. Jy moet werk om ‘n inkomste te verkry. Jy moet verantwoordelik wees en dit wat aan jou opgedra word, na te kom...

* Wat jy wel op ‘n skinkbord kry, is die ewige lewe, die verlossing van jou sondes. Jy kan dit nie verdien of koop nie. Máár, omdat jy die ewige lewe as geskenk, uit genade ontvang, kan jy nie anders as om self in te spring en uit dankbaarheid te werk en te leef nie.

* Dus, vra gerus met vrymoedigheid, maar moet dit nie te ver vat nie. Erken God se seën in jou lewe. Vra genade en moed en spring in teen die reuse en die ysterstrydwaens in jou lewe. Jy is klaar verlos, veg dus die stryd hier op aarde omdat jy klaar die oorwinnaar is saam met Jesus Christus. Kom uit dankbaarheid jou verantwoordelikheid na teenoor God, jou geliefdes, jou werkgewer en kollegas, jou kerk....

* Priotoriseer asb. Vra wat God wil hê jy eerste moet doen.

* Baie sterkte, dié tyd van die jaar is maar vol druk en spanning. Take moet afgehandel word en volgende jaar sin word al beplan. Dis ‘n dubbele vrag, dis ‘n reus op ‘n strydwa, maar jy sal dit oorwin.


Baie sterkte en seën vir u.


Joop van Schaik

No comments: