2008/11/11

Oordenking: Josua 18 - Samewerking tot regverdigheid

Broeders en Susters. Regverdige verdeling van grond vind hier by Israel plaas. Die manier wat waarop dit gedoen is, is baie insiggewend.Werk saam tot op die punt waar almal dink dis regverdig wat gedoen word en ontvang word.

Josua 18

v.1.. Die hele Israelietiese volksvergadering het in Silo bymekaar gekom en die tent van ontmoeting is daar opgeslaan. Die land was onder hulle beheer gewees, maar daar was nog 7 stamme wat nog nie hulle grondgebied ontvang het nie.
v.3.. Josua spreek hulle aan omdat hulle nog nie die lang in besit gaan neem het nie. Hy vra toe 3 manne uit elke stam met die doel om hulle te stuur na die hele gebied toe. Hierdie saamgestelde groep moes die hele gebied wat oor is, in 7 dele te verdeel.
v.6.. In teenwoordigheid vd Here sal daar deur loting ‘n toewysing gemaak word. Die Leviet kry nie ‘n deel nie want hulle woon tussen die ander stamme en lewe uit wat die Here toekom.
v.9.. Die Manne is toe weg en het in ‘n boek ‘n beskrywing vd 7dele opgeteken, stad vir stad.
v.10.. Josua het in teenwoordigheid vd Here die loting gedoen en die land verdeel.
v.11.. Deur loting is ‘n gebied aan die stam van Benjamin toegeken tussen die gebiede van die stamme van Juda en Josef (Manasse en Efraim).
v.12...28 Al die grense was vasgestel en dit is in besit geneem der die families van Benjamin.

* Die tent van ontmoeting was die reisende opslaankerk gewees. Orals waarheen die volk getrek het, is die tent van ontmoeting saam geneem. Later sou die tempel in Jerusalem die tent van ontmoeting vervang. Wanneer die volk by die Here moet hoor wat hulle moet doen, of as die Here met hulle wou praat, het die priester of leier na die tent van ontmoeting toe gegaan. Daar het die Here in ‘n wolk aan hulle verskyn en Sy wil en bevele is oorgedra. So moes die volk dan doen wat aan hulle gesê is.
* Hoe verdeel jy nou ‘n stuk land regverdig? Dink bietjie aan jou kinderdae. 2 kinders moet ‘n stuk koek deel. Wat is die beste manier om die verdeling te maak? Die een wat die koek op deel, moet die kleinste stukkie vat. Nodeloos om te sê dat daardie stuk koek 50/50 opgedeel is.
* Hier het die Here deur Samuel ‘n skitterend plan gemaak. 3 manne van elke stam moes saamkom om 7 gelykwaardige areas in te deel. Die toekenning is deur loting gemaak. Die groot ding was dat hulle almal wat daar teenwoordig was, sal sorg dat al 7 dele ewe goed is, want hy is tog so bang hy kry dalk die swakker deel. Op die ou end is al 7 dele baie goed verdeel.
* Ons het hier amper iets soos ‘n Klassis vergadering, of dalk ‘n Streek-Sinode sitting. Afgevaardigdes van al die gemeentes kom bymekaar om gemeenskaplikse sake te bespreek. Wanneer daar oor iets verskil word, word daar gewerk na ‘n punt van wedersydse instemming. Die GKSA het juis volgende week 7 Streek-Sinodes wat in sitting gaan wees. Die 7 Streek-Sinodes se afgevaardigdes gaan dan vanaf 5 Januarie tot 17 Januarie 09 die Nasionale Sinode vergadering hou. Hier word dan weer besin oor al die gemeenskaplike sake van die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika. Doen asb. Voorbidding in daardie tyd sodat daar met wysheid gehandel kan word.
*Jy kan hierdie beginsels van afvaardiging om te besin oor ‘n regverdige toedeling of besluitneming oor iets, ook in jou werk gebruik. Werk saam tot ‘n punt waar jy saamstem, of jy totdat tevrede is met die uitslag van ‘n stemming.
* In die kleiner kring behoort jy ook ‘n probleem uit te praat en vredevolle oplossings te soek.
* Gelukkig loot die Here nie oor jou plek in die hemel nie. Hy het Jesus Christus klaar gestuur om jou plek in die hemel gereed te maak. Wat van jou verwag word, is ‘n dankbare leefstyl. Probeer ook regverdig wees met mense wat op jou pad kom.
* Geniet en waardeer wat jy van die Here ontvang.

Baie groete en sterkte

Joop van Schaik

No comments: