2008/11/13

Oordenking: Josua 20 - "Asiel"

Liewe Broeder en Suster. Vandag gaan oor “asiel”.

Josua 20

v.1.. Die Here het vir Josua aangesê dat hy asielstede moet afstaan soos wat Hy destyds aan Moses beveel het. Die funksie van ‘n asielstad, is dat iemand wat onopsetlik en sonder voorbedagte rade die dood van ‘n ander veroorsaak het, na die stad kan vlug om sodoende die wraak van ‘n bloedverwant van die oorledene te ontkom.
v.4.. Die prosedure is as volg: wanneer ‘n vlugteling by die ingang vd stadspoort kom, stel hy sy saak by die leiers vd stad. As dinge volg die ouens reg is, dan neem hulle hom op in die stad en gee vir hom/haar ‘n woonplek. As daar dan persone wat hom agtervolg daar aankom, sal die leiers hom nie oorgee in hulle hande nie. (As die familie die man/vrou sou vang voordat hy/sy by die asielstad uitkom, kon hulle hom volgens die reg net daar doodmaak)
v.6.. Dit werk verder dan so: die vlugteling verskyn by die bevoegde vergadering en die hoëpriester van daardie tyd moes eers sterf. Daarna kan die een wat iemand se dood onskuldig veroorsaak het, weer vry teruggaan huis toe. Dit kan nogal lank vat, daarom die noodsaak van ‘n asielstad.
v.7.. ‘n paar stede is toegewys as asielstede.

* Sjoe, dis nou nogal ‘n wonderlike ding wat hier ingestel is. Mens hoor so nou en dan op die nuus van asielsoekers. Nou verstaan mens beter wat ‘n “aansoek om asiel”, beteken. Ook vandag kan iemand wat bang is dat sy lewe geneem kan word, of dat hy nie ‘n regverdige verhoor gaan kry nie, aansoek om asiel doen by ‘n ander land. Miskien kan die regsouens onder ons bevestig of dit ook is wat dit vandag beteken.
* Ons leer hier dat ons moet erken dat jy of iemand ‘n onopsetlike sonde kan pleeg, of ‘n sonde sonder vooraf bedagte rade kan doen. Jy en ek is dikwels hieraan skuldig, sommer aan baie klein goedjies. Jy het dit nie so bedoel nie, maar tog het dit gebeur. Jy voel skuldig, jy is skuldig en wat nou?
* Ons het vandag die regstelsel wat beoordeel oor wat reg en verkeerd is en wat wel opsetlik gepleeg is, of wat onopsetlik gepleeg is of gebeur het of nie. Terwyl die saak aan die gang is, kan die persoon vrygelaat word op borgtog (ook ‘n tipe asiel).
* Wat ek hieruit leer, is dat daar wel dinge teen my gedoen was en gedoen word, wat nie opsetlik is nie. Die seun of meisie, man of vrou, het iets gesê of gedoen, maar hy of sy het nie naastenby besef wat die gevolg daarvan gaan wees nie. Party dinge gebeur ook net per ongeluk. Dis hoekom mens dit ‘n ongeluk noem. Die asiel gedagte is daarom dat jy nou dadelik moet besef dat jy hierdie onopsetlike dinge wat gebeur, baie meer versigtig moet hanteer. As jy bv. per ongeluk die oorsaak was dat jou broer of vriend seerkry of selfs ‘n ledemaat verloor, dan is daar genade vir jou. Jy moet ook genade aan die een bewys wat dit dalk met jou gedoen het of met jou laat gebeur het. Benader dinge dus baie anders.
* Wat vir jou baie beteken, is dat jy asiel deur Jesus Chrisus by die Vader kry. Boonop kry jy nie net asiel vir wat jy onopsetlik gesondig het nie, maar ook vir die dinge wat jy opsetlik gesondig het. Jesus Christus tree vir jou in by die Vader. Hy het klaar die straf gedra en keer die straf wat die Vader moet gee, af. Jesus is jou Middelaar en jou Verlosser. Jy het asiel in die hemel en jou plek is klaar vir jou toegeken, dis vas en seker klaar jou erfenis (1Pt.1).
* Wat leer ons dus: Wees baie geduldiger met dit wat teen jou gebeur. Stel eers vas of iets opsetlik was of dalk onopsetlik. Wanneer iemand sy opsetlike sonde teen jou bely, vergewe hom/haar, al moet die regbank sy gang gaan. Nog meer moet jy bereid wees om iemand wat onopsetlik teen jou gesondig het, te vergewe, al is dit ook die oorsaak van die dood van ‘n geliefde. Jy en ek kry asiel, beskerming en vergifnis deur Christus by die Vader. Glo dit deur die werking van die Heilige Gees.

* Mag jy ‘n geseënde tyd van verligting en bevryding kry en gee. Vra asiel en gee asiel.


Joop van Schaik.

No comments: