2008/12/08

Oordenking: Josua 23

Liewe Broeder en Suster, my verlof het aangebreek, maar ek wil graag die boek Josua saam met u klaar deurwerk. Vandag werk Josua 23 met ons en op ‘n ander dag die laaste hoofstuk, Josua 24.

Josua 23

v.1.. Die Here het rus van alle kante aan Israel gegee, Josua was al baie oud. Josua het die hele Israel opgeroep, die leiers, die hoofde, die regters en die ampsdraers.

v.3.. Josua het aan hulle gesê: Julle het gesien wat die Here julle God alles aan die ander nasies gedoen het twv julle. Dit is Hy, die Here julle God wat die oorlog vir julle voer. Baie plekke is verower en het die eiendom van die stamme geword.

v.5.. Wat die Here belowe het, het Hy gedoen.

v.6.. Julle moet sterk staan in die uitvoering van alles wat geskryf staan in die wetboek van Moses, moenie daarvan links of regs afwyk nie. So sal julle nie die nasies wat nog tussen julle woon, se gode aanroep en in hulle naam ‘n eed aflê nie. Julle moet aan die Here julle God getrou bly.

v.10.. 1 van julle jaag ‘n 1000 op loop, want dit is die Here julle God wat die oorlog vir julle voer. Lê julle daarop toe om die Here julle God lief te hê.

v.12.. As julle egter ‘n ander pad loop en julle verbind aan die ander nasies wat tussen julle bly, met hulle vermeng en trou, dan sal die Here nie die nasies verdryf nie. Hulle sal vir julle strikke en wippe stel. Hulle sal julle ondergang wees.

v.14.. Josua sê dat hy self op die pad gaan van elke mens hier op aarde, hy gaan sterf. Julle weet met julle hele hart en siel, dat nie een van al die goeie beloftes wat die Here julle God oor julle gemaak het, onvervuld gebly het nie. Almal het gerealiseer.

v.15.. Aan die ander kant, net so sal die Here ook Sy woord hou, as hulle Sy verbondsverpligtings nie nakom nie deur voor ander gode te buig en hulle te dien, dan sy toorn/woede teen hulle ontvlam en sal hulle gou uit die goeie land verdryf word.

* Josua kyk terug na ‘n ryk en vol lewe. Hy het baie dinge beleef en veral God se genade ontvang. Hy was inderdaad ‘n dienskneg vd Here. Wat die mooiste was vir Josua, is dat die Here Sy Woord hou.

*Josua het al die leiers en die hele Israel bymekaar geroep en hulle gewys op Nb dinge. Die een is dat God die oorlog gevoer het en Israel het baie plekke ontvang. Die tweede is dat God Sy beloftes nakom. Die derde is: net soos die Here seën gee op gehoorsaamheid en dankbaarheid, net so sal hy ongehoorsaamheid en aanbidding van afgode, baie erg straf.

* Geliefdes, ons kan ook terug kyk na ‘n ryk en vol jaar. Jy sal ook kan getuig dat God Sy Woord en beloftes nakom. Dit gee soveel rede vir jou om vol te hou om op God se pad te bly. Leer God elke dag meer en meer ken en hou by Sy verbondsbepalings. Moenie afdraai paadjies vat nie, moenie dink jy kan God deel of vervang met iets of iemand anders wat na jou mening ook goddelik is nie. Dit kan nie en mag nie. So gou soos nou sal God die mat onder jou uitruk en jy sal wegkwyn van godverlatenheid. Mag God ons daarvan bewaar.

* Die mooiste belofte wat die Here gemaak het, is dat Hy Sy Seun sou gestuur het en Hom wel gestuur. Ons is nou in die “Kersgety”. Kom ons wees versigtig om nie die punt te mis nie. Kom ons loof die Here, Prys Sy Naam en dien Hom met ons hele hart, siel, verstand en met al ons krag.

* Mag die Here jou hartseer sagter maak, mag die Here jou spanning verlig, mag die Here jou bekommernisse oplos, mag die Here jou optel uit die nood, mag jy vreugde en vrede ontvang, mag die liefde in jou lewe blom, mag die Here jou seën en naby wees.


Baie groete

Joop van Schaik.

No comments: