2008/12/09

Oordenking: Josua 24

Josua gee sy afskeidsboodskap: My familie sal die Here dien. Die vraag is net: wie gaan julle dien, vir die afgode of vir God?

Josua 24

v.1.. Josua het weer al die stamme van Israel in Sigem bymekaargeroep. Hy het die leiers, die hoofde, die regters en die ampsdraers geroep en hulle het hulle plekke ingeneem in die teenwoordigheid van God. Josua het die volk namens die Here toegespreek:

v.2.. Lank gelede het julle voorvaders, dis nou o.a. Tera die pa van Abraham en Nahor, anderkant die Eufraat gewoon en hulle het ander gode gedien. Tog het die Here Abraham en almal anderkant die Eufraat geneem en die hele Kanaän laat deurgaan. Die Here het ‘n groot nageslag gegee, dis nou deur Isak en Jakob. Jakob is op ‘n stadium na Egipte toe weggevoer.

v.5.. Die Here het vir Moses en Aäron gestuur om Egipte met baie rampe te tref. Daarna het die Here die volk uit Egipte gelei deur die Rietsee. Die Egiptenaars is getref met die dood. Daarna het Israel lank in die woestyn rondgetrek.

v.8.. Daarna het die Here Israel na die land vd Ammoriete gebring oos vd Jordaan. Die Here het hulle in Israel se mag oorgegee.

v.11.. Israel het deur die Jordaan getrek en by Jerigo uitgekom. Al die mense van Jerigo is in die mag van Israel oorgegee. Die Here het aan Israel ‘n land gegee wat hulle nie bewerk het nie en stede wat hulle nie gebou het nie.

v.14.. Betoon nou eerbied aan die Here en dien Hom met opregtheid en met trou. Sien af vd gode wat julle dien. As julle dit nie wil doen nie, kies dan vandag wie julle wil dien, die gode van die voorvaders of die gode van die Amoriete. WAT MY EN MY FAMILIE BETREF, ONS SAL DIE HERE DIEN.

v.16.. Die volk het geantwoord: Ons dink glad nie daaraan om die Here te verlaat en ander gode te dien nie. Die Here het ons gered. Ook ons sal die Here dien. Hy is ons God.

v.19.. Maar Josua het gesê: Julle kan nie die Here dien nie. Hy eis onverdeelde trou. As julle die Here verlaat, sal Hy teen julle draai en ‘n einde aan julle maak. Die volk sê weer:, nee, ons sal die Here dien!

v.23.. Josua: verwyder dan die gode onder julle uit. Die volk: Ons sal die Here ons God dien, ons sal na Hom luister. Daardie dag het Josua ‘n verbond gesluit en daar in Sigem vir hulle voorskrifte en bepalings vasgelê. Hy het die dinge in die wetboek van God opgeskryf, ‘n groot klip gevat en dit by die heiligdom vd Here regop gesit. Die klip sal ‘n getuie teen die volk wees as hulle wel oortree en God bedrieg. Hierna is die volk weer elkeen na sy eie plek.

v.29.. Hierna het Josua die dienaar vd Here gesterf op 110 jarige ouderdom. Hy begrawe in die gebied wat aan hom as besitting gegee is.

v.31.. Israel het die Here bly dien tydens die lewe van Josua en tydens die lewe vd leiers wat vir Josua oorleef het en alles ervaar het wat die Here vir Israel gedoen het. Josef se liggaam is ook herbegrawe in Sigem. Ook Eleasar die seun van Aäron is oorlede en begrawe.


*Wat tref, is dat die volk en sy voorgangers in die teenwoordigheid van die Here vergader. Die Here is self teenwoordig en Hy is getuie. Almal word tot rekenskap opgeroep.

* So moet jy en ek ook rekenskap gee aan God Almagtig. Dit sou wonderlik gewees het as alle Christen gelowiges hier op aarde, op een slag bymekaar kon kom. Dis nou van alle Christelike Kerke en almal wat die Enige Ware God, Vader, Seun en Heilige Gees, aanbid. Ongelukkig is dit nie hier op aarde moontlik nie, nie voor die wederkoms van Jesus Christus nie. Tog is God Alomteenwoordig en Hy woon deur Sy Heilige Gees in ons harte. Wanneer ons as gelowiges in eredienste bymekaarkom, dan ervaar ons in die kleine hoe dit sal wees as alle gelowiges bymekaar sal wees.

*Goed, die punt is, ons word in 2008 –-> 2009 ook opgeroep om rekenskap te gee van waar ons met God staan. Hoe het jy en ek die Here gedien? Het ons God nie dalk ook met afgode gedeel of vervang nie? ‘n Afgod is mos iets wat ons in die plek van God of naas/langs God stel. Ons moet oppas om vinger te wys na ander mense wat sg. so goddeloos is. Ek en jy kan met eiewilligheid net so godeloos leef en optree. Die eie ek is teenoor God gewoonlik die grootste afgod. Die wêreldse dinge, die menslike dinge is dikwels ook ‘n groot bedreiging.

* Geliefde, wie dien jy en wie gaan jy dien? Soos Josua wil ek graag verklaar: Ek, ek en my familie, ons sal die Here dien. Ek glo ook dat jy/u dieselfde wil verklaar: Ons, ons sal die Here en net Hom alleen dien!

* Jou en my verantwoordelikheid is dan om ons lewe te suiwer van die afgode van die tyd en om ons geheel en al aan God toe te wy.

* Mag die Here ons die krag gee om met volle oorgawe, met alles wat ons is en het, 2008 deur te gaan na 2009! Mag jy in jou gemeente en kerk, in jou huis,skool en werk, mag jy in jou dorp en land, God Drie-Enig dien en eer. Mag jou lewe die gedenkteken wees van God se grootheid en genade, deur voorspoed en rampspoed.


Groete in Jesus Christus


Joop van Schaik

No comments: