2008/09/18

Oordenking: Deut 30

Liewe Susters en Broeders

Jammer ek het gister nie iets gestuur nie. Ek was van vroeg op die pad en later besig met voorbereiding en die kerkraadsvergadering.

Vandag was ek so ver baie min tuis, maar hier is Deut.30.

Deut.30
v.1.. Wanneer jy al die seën en straf wat Ek jou voorgehou het, met jou gebeur, en jy daaraan dink dat jy verkeerd gedoen het en terugkeer na die Here, sal ek jou omstandighede verander.
v.6.. Die Here jou God sal jou lewe en jou nageslag sin, aan Hom wy, sodat jy Hom sal liefhê met hart en siel.
v.10.. Wanneer jy die Here gehoorsaam en sy gebooie nakom, en wanneer jy met hart en siel terugkom na die Here jou God, sal Hy Hom weer in jou verbly...
v.11.. Die gebod wat die Here gee, is nie te moeilik vir jou nie, dit is nie buite jou bereik nie.
v.14.. Die gebod is baie naby aan jou, jy kan daaroor praat, jy ken dit, jy kan daarvolgens lewe..
v.16.. As jy die Here jou God liefhet, en sy wil ... gehoorsaam, sal ek jou voorspoedig maak..
v.17.. As jy van die Here af wegdraai... sal julle omkom...
v.19.. Ek roep die hemele tot getuie dat Ek die seën en straf aan julle voorgehou het. KIES DIE LEWE...!

* Met selfondersoek verander baie dinge in jou en jou geliefdes se lewe. Weereens, dit gaan nie om ‘n voorspoedsgeloof nie, maar wel dankbare gehoorsaamheid tot God. Die belofte is dat die fisiese werklikheid ook verander as jy gehoorsaam is, maar die wonderlikste is wat in jou hart en gemoed gebeur.
* Dit is waarom hier herhaaldelik gepraat word daarvan dat jy die Here moet liefhê en dien met jou hart en siel. As jou hart nie in iets is nie, dan poer-poer jy maar net. As jou hart in iets is, dan is dit heerlik al is dit ook swaar. As jou siel onrustig is, dan is als maar baie moeilik. Glo en dien die Here, werk en leef, wees betrokke in jou kerk, deur met jou hart en siel dit te doen. Kyk wat gaan verander en hoe heerlik dit is. Gee jou gevoelens ook vir die Here en vra Hom om jou seerkry, bitterheid en moedeloosheid met alles en almal te verander. Kom, wees positief en dankbaar oor ons as gemeente, trek saam, bid saam...
* Vir ons as sondaar is die nie moontlik om God se gebooie 100% na te kom nie. Gelukkig het Jesus Christus dit vir ons kom doen, volmaak. Nou wil jy weer jou beste gee, jou allerbeste poging aanwend. Dan kan ons ook weet, dis nie so moeilik en buite jou bereik nie.
* Hoor wat word gesê: KIES DIE LEWE. Ek en jy kan nie self die regte kies nie. Jy kan wel antwoord, die regte antwoord gee, as jy reg luister. GK KP-N, kies die lewe, kom ons skaar ons by Jesus se lewe en verlossing.



Mag u geseend wees vandag, vanaand en vannag.

Groete

Joop

No comments: