2008/10/27

Oordenking: Josua 11

Broeder en Suster, die oormag lyk dikwels te groot, die probleme te ingewikkeld..... Hoe nou gemaak?

Josua 11

v.1.. Koning Jabin van Hasor het ook gehoor van Josua se oorwinnings. Hy stuur toe boodskappe na baie ander konings in die omgewing uit sodat hulle ook ‘n bondgenootskap kan vorm teen Israel. Dis so gedoen en die leërs was so baie soos die sand vd see. Daar was ook baie perde en strydwaens. Hulle het by Meromwaters teen Israel ontplooi.

v.6.. Die Here sê vir Josua, moenie vir hulle bang wees nie. Môre gee ek hulle oor aan Israel.

v.7.. Josua hulle het die bondgenootskap skielik oorval daar by Meromwaters. Die Here het hulle in Josua se mag oorgegee.

v.10.. Daarna het Josua na Hasor gegaan en dié stad ook ingeneem. Die plek en sy koning het vroeër ‘n leiersposisie ingeneem tussen al die koninkryke daar. Alles is uitgeroei. Die stad is afgebrand.

v.12.. Al die ander stede in die omgewing is ook ingeneem, die konings en die mense is uitgeroei. Die ou gevestigde stede is nie afgebrand nie.

v.15.. Wat die Here sy dienaar Moses beveel het, het Moses vir Josua beveel, en dit het Josua gedoen, niks is nagelaat nie.

v.16.. Josua het die hele land ingeneem, die Bergland, Suidland, Gosengebied, Laeveld.....

v.19.. Behalwe die Hewiete in Gibeon, het nie een stad met Israel vrede gemaak nie. Die Israeliete het hulle almal in gevegte verower.

v.20.. Dit was die Here wat hulle inverset laat kom het, sodat hulle teen Israel geveg het: hulle moes sonder genade uitgeroei word, soos die Here Moses beveel het.

v.21.. In die tyd het Josua ook die Enakiete (reuse) in die berge, Hebron, Debir, Anab en in die Judaberge uitgeroei. Net in Gasa, Gat en Asdos was daar Enakiete oor.

v.23.. Josua het die hele land ingeneem soos die Here vir Moses beveel het, en het toe die land as besitting aan Israel gegee, vir elke stam ‘n deel. Die land kon toe rus van oorlog.

*Nog ‘n bondgenootskap word gevorm. Hulle trek op teen Israel by Meromwaters, maar die Here gee hulle in Israel se mag oor. Die Here het vir Josua gesê dat hulle nie bang hoef te wees nie.

* Bondgenootskappe is vandag nog ‘n praktyk. Verskillende lande kom ooreen om mekaar te help teen ‘n gemeenskaplike vyand. Die Irak oorlog is ‘n voorbeeld hiervan. Die VSA en Brittanje en nog ander het saamgestaan. In die politiek werk dit nog so. Die ANC is ‘n bondgenootskap. Tussen besighede is daar dikwels ‘n ooreenkoms om saam te staan teen ‘n gemeenskaplike opposisie. Jy en jou vriende het dalk al ooreengekom om als in julle vermoë te doen om die ou van wie julle nie hou, se lewe moeilik te maak.

* Nog baie ander stede, konings en ook die reuse is uitgeroei. Soos die Here beveel het, so is dit gedoen.

* Die Here het die mense in verset laat kom sodat hulle kon veg en verloor. Hy het Israel gelei, voorgegaan en in staat gestel om die oorlog te voer en te oorwin. Die Here laat hierdie mense net soos die Farao in verset kom teen God en teen Israel. Die Here se doel daarmee is om Sy grootheid te bewys. Oorwinning word gegee, ten spyte van geweldige teenkanting en oormag.

* Verset is nie ‘n lekker ding nie, veral as dit teen jou is. Hoe moet jy verset of teenstand hanteer? Gaan na die Here toe en praat dit met Hom in gebed en Bybelleestyd uit. Die Here laat ook dinge teen jou toe, met die doel om jou geloof sterker te maak en om jou afhanklikheid van Hom groter te maak. Die Here plaas dikwels die verkeerdste of booste ou op jou pad, sodat jy dit moet hanteer in afhanklikheid. Die Here gee oorwinning aan jou.

* ‘n Tweede keer is gesê: soos die Here beveel het, is gedoen. Dis jou en my oplossing ook, vra vir God, hoor by Hom, en doen wat Hy jou beveel. Dis die enigste pad vir jou om te loop. Hou aan daarmee, elke dag, elke oomblik van jou lewe.


Baie mooi dag vir jou/u. Hoor by God en doen wat Hy jou wys.


Joop van Schaik

No comments: