2008/10/31

Oordenking: Josua 14

Liewe Suster en Broeder. God sorg en Hy laat jou die reuse oorwin.

Josua 14

v.1.. Hier volg ‘n oorsig oor die gebiede wat die Israeliete in Kanaän ontvang het. Priester Eleasar en Josua het die toekenning gedoen dmv loting soos die Here beveel het.

v.3.. Die Leviete kry nie ‘n eie gebied nie, wel dorpe en weiding by al die stamme.

v.4.. Die nageslag van Josef het 2 stamme gevorm, Mannasse en Efraim.

v.6.. Toe die mense van die stam van Juda na Josua gekom het, het Kaleb seun van Jefunne vir Josua herinner oor wat die Here aan Moses oor hulle 2 gesê het. Kaleb was 40 jr oud toe hy en Josua die land saam met 12 ander verkenners verken het. Tien vd verkenners se hart was verstyf van angs en het negatiewe berig gegee. Kaleb en Josua het ‘n positiewe verklaring gemaak.

v.8.. Kaleb het God getrou gedien en Moses het met ‘n eed belowe dat die gebied waar hy toe as verkenner deurgegaan het, aan hom en sy nageslag as besitting gegee sal word.

v.10.. 45 jaar later, toe Kaleb 85 was, het hy Josua hieraan herinner. Kaleb sê dat hy nog baie krag het, net soos op 40. Gee my nou asb. die bergwêreld, die vestingstede van die Enakiete. Miskien sal die Here by my wees sodat ek dit kan verower soos die Here my belowe het. (Die Enakiete was die reuse).

v.13.. Josua het sy seën uitgespreek oor Kaleb en hom Hebron as besitting toegeken. Daarom behoort Hebron aan Kaleb, want hy het die Here God getrou gevolg.

* U/jy sal vir Josua en Kaleb as verkenners onthou.Ons lees hiervan in Num.13 en 14. Baie negatief, bevrees en beangs, gevul met ongeloof, het hulle gesê dat die land baie mooi is, maar te gevaarlik. Josua en Kaleb het gesê dat die Here dit aan Isael gee, hulle moet voortgaan. In Num.14:24 word die belofte gemaak dat die land wat hy verken het, aan sy nageslag gegee sal word.

* Wat sê dit vir jou? Die Here hou Sy woord. Die Here sorg vir jou, nou, later en elke dag.

* Wat verwag die Here van jou? Getrouheid, gehoorsaamheid, vertoue in die Here.

* Ons is half in ‘n skok toestand met die wêreld ekonomie wat so seergekry het. Jy het ook baie seergekry. Die mensdom met sy geld en mag, is nie bestand teen God se Almag nie. In ‘n oogwink kan alles net niks wees. Net so gryp God in en kan als in ‘n miljoenste van ‘n sekonde wegneem word en ‘n ronde 0 gemaak word. Dis wat gaan gebeur as die wederkoms plaasvind. Dan is alles op aarde ‘n niks, ‘n nul....

* Aan die ander kant, God sorg. Jy kan op die Here se belofte staatmaak en jou ook daarop beroep. Jy kan die Here menslik gesproke daaraan herinner. Hy vergeet nie, maar toets jou of jy nog onthou dat die Here wel sal sorg. Gaan met vrymoedigheid, soos Ps.81 dit berym, na die Here en vra om te ontvang wat Hy belowe het.

* Jy leer dus om werklik te vertrou en te weet dat die Here gesorg het, nou sorg en altyd sal sorg vir jou en jou nageslag.

*Die wonderlikste is dat jy ook herinner word met Joh.3:16 “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.(NAV). Wat ‘n wonderlike liefde, verlossing en wete dat jou erfenis die ewige lewe is, nou al!

*Wat ook baie mooi is, is om te sien dat Kaleb kans sien vir die Reuse. Die Enakiete was die Reuse, die Gloliats van daardie tyd. Hy het nie gesê, ek is nou al oud en dat die Here dit so ‘n bietjie makliker vir hom moet maak nie. Nee,hy het gesê dat sy kragte nog ok is en dat, as dit die Here se wil is, dat Hy die Enakiete en kie aan hom sal oorgee. Dit het ook so gebeur.

* Vir jou leer dit dat jy nie moet wegskram vir die reuse van die lewe nie. Hoe groot die taak ook al is, hoe moelik die opdrag, die Here sal met jou wees en jy sal DV volgens Sy wil regkry wat jy moet. Pak dus hierdie dag en res van die jaar die reuse aan, pak die reuse taak aan, pak die mense wat soos reuse voor jou staan aan. Niks is te groot in jou pad as dit die Here se pad is nie.Wees jy ook maar net getrou.


Baie mooi dag vir jou, wees getrou en gebruik die krag wat die Here vir jou gee.


Joop van Schaik

No comments: