2008/10/29

Oordenking: Josua 13

Dagsê susters en broeders. Ons gaan nou ‘n rukkie stilstaan by die beginsel van ‘n regverdige toedeling van grondgebied. Die Here besluit wie wat kry.

Josua 13


By Josua 12 het ons gesien dat die stamme Ruben, Gad en ‘n helfte van die Manassestam hulle plek in die son gekry het. Josua 13 bou hierop voort met fyner besonderhede.

v.1..Josua het baie oud geword en daar is nog ‘n baie groot deel vd land wat in besit geneem moes word. Onder die dele wat oorbly, is daar al die Filistynse gebiede en die hele Gesurgebied, asook nog ander plekke. Daar is die hele Kanaänitiese gebied van Teman.....

v.6.. Die Here sê dat Hy al die bewoners vd bergwêreld sal verdryf om vir die Israeliete plek te maak, so ook met die ander plekke...... Intussen moet Josua al hierdie gebiede as besitting aan Israel toewys, soos die Here beveel het.

v.8.. Die gebied oos vd Jordaan is reeds aan Ruben, Gad en ‘n helfte vd Manasse stam gegee. v.14.. Net aan die Levistam is nie ‘n eie gebied as besitting toegeken nie. Die Leviete is offers aan die Here die God van Israel en hulle ontvang van wat Hom toekom, soos Hy hulle beloof het. Ons sal nog sien hoe die Leviete by elke stam se gebied ‘n deel ontvang.

v.15.. Weer word die gebied vir die stam Ruben uitgespel. Dit het aan die Jordaan gegrens. Daar was verskeie stede en buiteposte.

v.24.. Weer word die gebied vir die stam Gad uitgespel. Dit was die streek oos vd Jordaan. Daar was verskeie stede en buiteposte.

v.29.. Weer word die gebied vir die een helfte vd Mansse stam uitgespel. Wat ons hier moet raaksien, is dat die een deel van Manasse se nageslag hierdie gebied ontvang het. Dit was die nakomelinge van Makir die een seun van Manasse. Sy ander seun se nageslag kry op ‘n ander plek hulle deel.

v.32.. Ook hier word gesê: “Aan die stam Levi het Moses nie ’n eie besitting toegeken nie. Hulle ontvang van wat die Here die God van Israel self toekom, soos Hy hulle beloof het.”

* Wat opval, is dat die Here klaar Sy besluite geneem het. Dit moet nou nog net uitgevoer word. Hy kon dit sommer net laat gebeur het, maar nee, Hy het besluit dat die mens deel is van Sy Skepping en die mens moet hier hoor, luister en doen. Wat ‘n voorreg dat God Almagtig elke liewe mens in Sy Raadsplan gebruik!

*Gelukkig is ons plek in die mooiste beloofde land klaar vir ons voorberei, ‘n plek in die woning van God! Jesus het dit klaar voorberei. Jy en ek moet egter ons regmatige plek hier op aarde inneem, dit wat die Vader vir jou bestem het, dit moet jy najaag en uitvoer.

* Jy leer dus dat jy nie met jou optrede iets kan verdien nie, jy ontvang dit as ‘n geskenk. En omdat jy dit uit genade ontvang, wil jy mos nou baie graag gehoorsaam wees aan die Here. Dis nou dankbaarheid!

*Geliefde, jy het jou spesifieke plek, jy en jou mense rondom jou. Jou gemeente het ‘n spesifieke plek in jou omgewing. Neem daardie plek in en wys wie is God.

* Ons word ook weer ‘n keer met die Leviete stam daarop gewys dat die Here Sy deel, Sy dankoffer ontvang en dit gebruik om die godsdiens mee in instand te hou. In elke stamgebied was daar Leviete, aanbiddingsplekke, altare en ... Die Leviete is orals versorg en het die volk gelei in hulle diens aan die Here. Wat ‘n voorreg, vir die Leviet en die burger van God se volk. Wat ‘n voorreg vir jou en my om deel van die kerk in ons gebied te wees. Wat ‘n voorreg om te offer en te dien.

* Wees verseker van God se liefde vir jou, Hy gee jou ‘n plek in die hemel en Hy gee jou regmatige plek alreeds hier op die aarde. Ontvang dit, benut dit en dien God so.


Groete


Joop van Schaik

No comments: