2008/10/06

Oordenking: Josua 1

Liewe Broeders en Susters in Christus. Die nuwe kwartaal het aangebreek en ons kan dit nie beter begin as om aangemoedig te word om sterk te staan en vasberade te wees nie. Kom ons leer wat die Here met Josua 1 verkondig.

Josua 1

v.1.. na die afsterwe van Moses, het die Here vir Josua gesê: Trek deur die Jordaanrivier… Soos Ek gesê het, gee Ek aan julle elke plek waar julle kom…

v.5.. Die Here sê vir Josua: Solank jy lewe, sal niemand bestand wees teen jou nie... Ek sal jou nie in die steek laat nie, jou nie verlaat nie. Wees sterk en vasberade...

v.7.. Wees veral sterk en vasberade in die uitvoering vd wet... moenie daarvan links of regs afwyk nie... Hierdie wetboek moet die rigsnoer weer vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy doen...

v.10.. Josua beveel die leiers: gaan deur die kamp en maak gereed om oor 3 dae deur die Jordaan te trek... om die land wat God gee in besit te neem...

v.12.. Vir die stamme Ruben, Gad en halwe Mannassestam, het Josua herinner dat hulle ook moet saamtrek... elke weerbare man moet optrek. Wanneer al die stamme hulle gebied kry, kan hulle terugkeer.

v.16.. Die Stamme se leier het ingestem, gehoorsaamheid belowe, en Josua bemoedig om sterk en vasberade te wees.

* Jy onthou dat ons laas in Deut. gelees het dat Moses ‘n persoonlike verhouding met God gehad het. So het jy ook ‘n persoonlike verhouding met God. Wat baie mooi is, is om te sien hoe die Here die nuwe jong leier ook persoonlik aan die hand vat, dis vir Josua.

* Die Here beveel Josua dat die volgende fase moet gebeur, die Jordaan moet oorgesteek word. Dis ‘n groot stap, gevaarlik, maar met die Here maklik. Watter groot rivier moet jy in jou lewe oorsteek? Sien jy kans daarvoor?

* Die Here se beloftes staan vas, vir Josua, Israel, en vir jou. Die Here sê eenvoudig vir Josua dat Hy hom sal lei en suksesvol sal maak. Die Here sê vir Josua dat hy net sterk en vasberade moet wees. Nou hoor jy ook God se stem in jou gemoed: Solank jy hier op aarde is, sal Ek die hele tyd met jou wees, Ek los jou nie alleen nie. Ek lei jou deur My Woord en Gees. Doen jy net wat Ek vir jou wys. Wees jy net sterk in My en vasberade om te doen wat jy hier moet doen.

* Die groot geheim is egter dat ons by God se Woord moet hou. Die wêreld en mense kan nie die antwoorde gee nie, net God. Vra God om jou op Sy pad te hou, dat jy nie links of regs sal afdraai nie, dat jy Sy Woord as die enigste rigsnoer kan ken en volg in jou lewe.

* Wat jy onderneem, moet jy nakom. Wat help dit jy praat baie en doen niks. Die Here se kerk, het jou nodig. Jy kan nie maar net bestaan nie, kan kan nie maar net ontvang nie, jy moet saam optrek in die geestelike oorlog. Jesus Christus verlos jou en jy word opgeroep om hierdie laaste kwartaal jou beste vir God te gee. Dit geld by die skool, werk, huis en kerk.

* Kom ons spoor mekaar aan om sterk te staan en vasberade te wees. Staan sterk in Christus en wees vasberade deur die Heilige Gees. Mag God jou seën.


Groete

Joop van Schaik

No comments: