2008/10/10

Oordenking: Josua 4 – 5:1

Goeie dag boetie en sussie in Christus. Die werkdeel van die week is al amper verby. Jou krag is min, dalk die moed is. Hier is weer iets om op te teer, om mee versterk te word.

Josua 4 – 5:1

v.1.. Nadat die hele Israel deur die Jordaan is, sê die Here vir Josua dat hy 12 manne, 1 uit elke stam, moet opdrag gee om elkeen ‘n groot klip op die Jordaan se bodem moet optel, daar waar die priesters gestaan het. Hulle moet die klippe gaan neersit op die plek waar hulle gaan oornag.

v.6.. Dit moet as ‘n gedenkteken dien. Wanneer die kinders vra waarvoor die lippe staan, dan moet julle vertel hoe die Here Israel deur die Jordaan geneem het. Die klippe is ‘n blywende herinnering daarvan. Dis so gedoen.

v.9.. Josua het ook 12 klippe binne-in die Jordaan opgerig, daar waar die priesters gestaan het..

v.10.. Die priesters met die verbondsark het in die Jordaan bly staan totdat alles afgehandel was soos wat God beveel het. Toe als klaar was het hulle ook deurgegaan.

v.13.. Eers toe het die soldate voor beweeg en gereed gemaak vir die oorlog by Jerigovlakte.

v.14.. Die Here het dd dag hoë aansien aan Josua gegee in die oë van Israel, vir die res van sy lewe, net soos vir Moses.

v.17.. Die oomblik toe die priesters uitgaan, het die waters weer teruggeval en die rivier gevorm, en sy oewers oorstroom.

v.19.. In Gilgal het het hulle oornag en met die klippe die gedenkteken opgerig.

v.1.. Al die konings vd omgewing het dit gehoor, hulle harte het van angs verstyf en hulle het nie meer moed gehad teen die Israeliete nie.

* ‘n Gedenkteken of plaat is nou nog bekend aan ons. Elke gemeente het so ‘n gedenkplaat van ‘n stigtingsdatum en fees. Die GKSA se 150jr fees is om die draai. Jy het seker ook al ‘n gedenkmunt of Bybel gekoop. Hier was dit die 12 klippe namens die 12 stamme. Jou verjaarsdag of huweliksherdenking kry ook elke jaar aandag.

* Elke ding wat met jou gebeur, bring jou nader aan God, nader aan jou geliefdes en medegelowiges. Dank die Here daarvoor. Elke oggend as ek wakker word en ek voel en sien my vrou, dan dank ek die Here. As ek my kinders so bekyk, dan dank ek die Here. As ek die gemeentewerk doen, dan dank ek die Here. Sy genade is so groot en Sy liefde is so mooi! Eintlik is elkeen van ons ‘n gedenkteken.

* Op ‘n manier is ‘n kruis ook ‘n gedenkteken vir ons (maar sonder ‘n mense se liggaam). Jesus Christus is gekruisig op ‘n vloekpaal, hy is begrawe, maar het gelukkig uit die dood uit opgestaan. Die leë graf is eintlik die teken wat ons moet gedenk, saam met die kruis. Jesus het klaar vir jou jou plek in die hemel voorberei (Joh.14).

* Die mooiste boek van alle boek, hierdie Bybel, is ons gedenkboek. So leer jy wie God is, wat Hy gedoen het en wat Hy nog gaan doen. Jy is die ark en die Woord moet binne jou gebêre word.

* Weer word van Josua se aansien gepraat. Hy het nie iets gedoen om dit te verdien nie, die Here het als gedoen sodat hy wat mens Josua is, die seën daarvan kon ontvang. Wees jouself, wees gehoorsaam en dankbaar en doen jy net jou bes, die Here doen in elke geval die res. So ontvang jy en ek respek omdat die Here doen.

* Ek en jy word deur die riviere van die lewe gelei, deur God. Wees jy met wie jy is daarom ‘n instrument, sodat ander mense God in jou raaksien. Die wat verkeerd leef sal dan verstyf van vrees vir God, en wie weet dalk bring die Here hulle deur jou tot bekering.

* Dus, wees jy ‘n gedenkteken van God, vir jouself, vir jou geliefde, vir jou medegelowige en vir elkeen wat op jou pad kom.


Mooi dag en mag jy die naweek saam met medegelowiges in die eredienste versterk word.


Joop van Schaik

No comments: