2008/10/14

Oordenking: Josua 6

Liewe Broeders en Susters. God het Sy strategie en plan met jou.


v.1.. Jerigo was verskans en gesluit teen die Israeliete, niemand kon uit of ingaan nie.

v.2.. Die Here sê vir Josua: Ek gee Jerigo, sy koning en sy sodate nou in jou mag.

v.3.. God se oorlogstrategie: Julle moet om die stad loop. Die manne met wapens moet vir 6 dae 1 maal om die stad loop. 7 Priesters moet elkeen ‘n ramshoring voor die ark dra. Die 7de dag moet julle 7 maal om die stad loop. Dan moet die priesters die ramshorings blaas en die soldate moet dan die oorlogskreet hard uitskreeu. Die mure vd stad sal inmekaarsak en dan moet elke soldaat reguit vorentoe gaan en die oorlog gaan veg.

v.6.. Josua het presies dit beveel.

v.17.. Die hele stad moet uitgedelg word, behalwe Ragab die prostituut en almal wat by haar is. Die soldate mag niks vat wat aan die Here behoort nie – dis die silwer, brons en ystergoed – dit moet na die skatkis van die Here gaan.

v.22.. Die 2 verkenners wat by Ragab was, kry die opdrag haar en haar mense te gaan haal en versorg. Hulle is onder die Israeliete opgeneem.

v.27.. Die Here was by Josua. Oor die hele land het Josua bekend geword.

*Die Here bly altyd in beheer. Hy bepaal wat alle mense se wel en weë is. Hy besluit waar jy rondgaan, oorbly of ingeperk is. Gelukkig het God Sy Raadsplan en Beskik Hy oor alles.

* Net soos die Here Jerigo in Josua en die volk se hand gee, so gee Hy die Satan oor in jou hand. Jesus het die Satan klaar oorwin. Sy vernietiging word teruggehou tot met die wederkoms. Nou word die Satan beperkend toegelaat om soos ‘n brullende leeu mense te verlei. Tog sê die Here, jy moet aktief wees in die geveg. Jy moet Satan teenstaan, jou sonde weerstaan, en die verleiding van die wêreld wegwys. Vra die Here biddend dat Hy jou oorwinning gee oor jou probleme en uitdagings. As jy iets wegsteek, al jy lieg, as jy iets onderdeur die tafel verkry, as..... Dis nie hoe dit werk nie. Nee, Staan die duiwel teen.

* God het ‘n Strategie, kyk net wat sê Hy vir Josua hulle: stap, skreeu en veg!

* Josua se beste besluit wat Hy telkens neem, is om aan God gehoorsaam te wees. Dis jou beste besluit ook. Dis iets wat ons ons werknemers, werkers, familie, vriende en politici moet leer en toebid. God beplan, besluit en doen. Jy vra, hoor, glo en doen soos wat God jou wys en leer.

* Ragab, die prostituut, die verwerpte, kom tot inkeer en die Heilige Gees lei haar tot diep insig. Josua en die 2 verspieders hou hulle woord teenoor die sondaar. Sy word gered van die dood. Sy word gered van die ewige dood. Sy word opgeneem in die volk Israel. Sy is vandag ook in die hemel.

* Die Here bou aan Josua se beeld as leier, nie hy self nie. Die resep was dus die hele tyd: afhanklikheid van God, gehoorsaamheid aan God, dankbaarheid tot God.

* Die Here is met jou en Hy laat jou slaag met dit wat Hy jou laat doen.


U/Jou broeder in Christus.


Joop van Schaik

No comments: