2008/10/15

Oordenking: Josua 7

Liewe Broeder en Suster. Vandag gaan oor ontrouheid/getrouheid aan en tot die Here.

Josua 7

v.1.. Jerigo is pas verslaan en vernietig. Ongelukkig was daar ontroue Israeliete. Van hulle het nie die banoffer nagekom nie. Iemand het items wat vir die skatkis van die Here bedoel was gevat (Jos.6:19 wys wat die opdrag was). Die Here se toorn het ontvlam.

v.2.. Die stad Ai was volgende om in te neem. Josua stuur verkenners uit. Die verkenners kom terug en sê dat dit sommer maklik gaan wees en dat hulle net 3000 manskappe kan saamvat om oorlog te maak.

v.3.. Josua vra nie by die Here wat Sy opdrag vir hulle is met Ai nie. Josua stuur die 3000 manne, maar hulle moes op die vlug slaan en uiteindelik sterf almal.

v.6.. Die volk se moed was gebreek, Josua het sy klere geskeur en tot die aand toe met sy gesig op die grond gelê voor die ark van die Here, so ook die leiers van Israel. Baie neerslagtig kla hulle by die Here.

v.10.. Die Here antwoord: staan op. Israel het gesondig en die verbond verbreek. Hulle het van die gewyde goed gevat, gesteel en gelieg. Daarom kan die Israeliete nie teen hulle vyande staande bly nie. As julle nie al die gewyde goed, die gesteelde goed teryggee nie, sal Ek nie meer by julle bly nie. Staan op reinig julle en die skuldige moet uitgewys word. Sy straf is dat hy verbrand moet word.

v.16.. Josua het die stamme laat nader kom en die proses begin. Die stam Juda is uitgewys. Die Seragfamilie is aangewys. Uit die familie is Sabdi aangewys. Akan uit dié familie is uitgewys as die skuldige. Hy erken skuld en sonde teen God. Akan met sy seuns en dogters, diere en alles wat hy besit, is gestenig en verbrand.

v.26.. Die Here se toorn het bedaar. Akorlaagte is die plek genoem: “die dood oor ons bring”.

* Na die groot oorwinning, kom die ontnugtering. Ontrouheid en ongehoorsaamheid bederf als. Wat aan die Here behoort, is gesteel. Begeertes van die menslike hart het oorgeneem.

* Wat neem jy wat aan die Here behoort? Het jy dalk ‘n dankoffer die maand nagelaat of nie na jou vermoë geoffer nie. Daar is geen verskil met die wat Akan gedoen het nie. Is jy getrou aan die Here met jou erediensbywoning en meelewing by jou gemeente? Doen jy wat jou hand vind om te doen in jou daaglikse lewe sodat meer mense vir God Drie-Enig kan bely?Is jy dankbaar vir wat jy het, of is jy so bitter soos Alwyn of Bitterals?

* Wat een verkeerd doen, is tot nadeel van baie. Akan het veroorsaak dat die veldslag met Ai, ‘n bloedbad geword het. Josua raadpleeg nie eens die Here nie. Hy luister na die manne! Josua, die leiers, die volk is in sak en as, hulle verkwalik die Here! Sjoe, dit erg. Maar weet jy, ek en jy doen dit ook. As jy in jou huwelik en gesin ontrou is, of nie jou verantwoordelikhede nakom nie, word hulle wat die naaste aan jou is, die seerste gemaak. As jy koud en lou is teenoor jou gemeente, die kerk vd Here, dan benadeel jy die uitwerking en inwerking op jouself en ander. As een liggaamsdeel doodgaan, tas dit die res aan, vergiftig dit als.

* Staan op en reinig jou. Die skuldige is aangewys en gestraf. Geliefde, jy en ek moet mooi nadink oor wat ons doen en nie doen nie. Vra die Vader dat Hy jou deur Sy Seun Jesus Christus reinig. Vra dat die Heilige Gees in jou werk sodat jy dit wat Christus jou gee, kan aangryp. Huil voor God oor jou en my en ons ontrouheid. Gelukkig kry ek en jy weer kans om ontrouheid, ongehoorsaamheid, eiewilligheid en bitterheid te oorkom en te verander.

* Jou sonde het die dood oor Jesus Christus gebring. Sy dood het die lewe oor jou gebring. Jou lewe moet ander mense ophelp en aanhelp.

*Reinig jou en wees getrou

* Kyk gerus waar jy dit nou by jou werk, huis of iewers kan doen. Mag die Here jou seën sodat jy ‘n seën kan wees.



Joop van Schaik

No comments: