2008/10/16

Oordenking: Josua 8

Liewe Broeder en Suster, luister na wat God wil hê jy moet doen, dan sal jy slaag.

Josua 8

v.1.. Na die pakslae by Ai agv ongehoorsaamheid aan die Here, gee die Here die opdrag dat Josua die volk moet gereed maak om Ai in te neem. Ek gee Ai, sy volk, sy land nou aan jou oor. Doen met hulle soos met Jerigo. Net die buit en vee kan julle vat.

v.3.. Josua het 30 000 dapper manne gekies en hulle in die nag laat plekke inneem agter die stad, net buite die stad. Josua en die res vd manskappe sal gewoon die stad tegemoet gaan. Wanneer die mense van Ai dan uitkom om hulle te ontmoet, sal Israel maak of hulle vlug. So lok hulle die manne uit en weg van Ai.

v.7.. Dan sal die 30 000 uit hulle skuilplek kom en die stad in besit neem. Die Here God gee dit aan julle oor. Brand die stad want God beveel dit. So doen die manskappe. Josua slaap tussen die manskappe. Vroeg die oggend het Josua opgetrek na Ai.

v.12.. Josua neem 5 000 manskappe en plaas hulle ook in ‘n verskuilde posisie tussen Bet-El en Ai, wes vd stad.

v.14.. Die manne van Ai trek Israel tegemoet vir die veldslag. Daar was geen man in Ai nie.

v.18.. Die Here se vir Josua dat hy sy swaard na Ai toe moet uitsteek, want dit word oorgegee. Op dd oomblik het die verskuilde manskappe die stad ingeval. Israel was orals! 12 000 mense van Ai sterf. Israel kon die vee en die buit vat soos die Here gesê het.

v.29.. Die koning van Ai is aan ‘n boom opgehang tot sonsondergang en is toe begrawe onder ‘n hoop klippe.

*Uitkoms na ‘n moeilike tyd is mos heerlik! Nadat jy die gevolge van jou sonde moes dra, nadat daar belydenis van die sonde was, die stryd daarteen, kom die bevryding daarvan. Dis heerlik om weet jy is bevry van jou sonde. Net so is dit ook heerlik om oplossings te kry vir jou probleme.

* Die Here sorg vir voedsel-vleis en ander middele deur die buit wat hulle kon neem. So sorg die Here deur jou eerlike en harde arbeid. Baie keer kom daar uit ‘n onverwagte oord onverdiende hulp, geld, redding en uitkoms. Dis die Here wat so werk en doen.

* Josua is deur die Here ‘n baie vaardige strateeg gemaak. ‘n Oolog moet strategies beplan word en presies uitgevoer word. Die belangrikste is egter dat die Here die opdrag moet gee voordat gedoen word. Die eerste probeerslag met Ai wat ‘n ramp, want dit was sonder God. Nou sê God wat is wat en Hy gee verstand aan Josua om ‘n bekwame strateeg te wees. So moet jy ook vir jou persoonlike lewe, jou kerk, jou werk en skool ‘n stategie van God ontvang, dit fyn saam met die Here beplan en dan uitvoer. Jy sal suksesvol wees as die Here jou seën.

* Stiptelike gehoorsaam aan God is dus die belangrikste in jou lewe, in die kerk se bestaan en doen. So gebruik die Here ook voorgangers om die swaard uit te strek, lidmate en kerkraadslede, en besluite om die pad aan te dui en voor te loop. Saam moet ons luister, saam moet ons bereid wees om die geveg aan te knoop teen die duiwel, die wêreld en die sonde. As elkeen van ons sy eie pad loop, dan gebeur wat met die ANC gebeur, soos wat vorige politieke partye ook maar gedoen het.

* Josua is by en tussen die manskappe. As jy ‘n voorganger is, kan jy nie in jou glaskas gaan sit en orders gee nie. Jy as Christen kan nie op jou eie selfopgelegde afgesonderde miershoop gaan staan en vingerwys of skreeu nie. Jy moet fisies self tussen die mense ‘n waardige en liefdevolle deelnemer en voorganger wees.

* Kom ons bid vir ons land Suid-Afrika, dat die leiers eers sal luister na God en dit wat hulle ontvang sal doen. Kom ons bid vir alle Christene en Christelike Kerke, dat die Woord in suiwerheid en waarheid geken, verkondig en uitgeleef sal word. Kom ons bid vir die GKSA, sodat ons die bande en grense kan oorbrug wat nie skrifgetrou is nie, dat ons in ons gemeentes en tussen ons gemeentes stategies vir God se koninkryk sal veg. Kom ons bid vir ‘n hart vol moed, ‘n skerp verstand en ‘n ferm hand en voet.


Geseënde dag vir u/jou.


Joop van Schaik

No comments: